Cota-studente eis hul opvoeding

G'n antwoorde frustreer jeug
Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - Cota-studente het gister 'n beroep op medestudente en die publiek gedoen om op die voorraand van die Dag van die Afrikakind 'n vreedsame sitbetoging vanaand by die ministerie van onderwys se hoofkantoor in Windhoek te ondersteun.

Dié betoging sal as laaste uitweg dien indien die volgende ronde onderhandelings met die owerhede vandag misluk.

Eerste- en tweedejaarstudente by Cota se media-afdeling is de josie in omdat die regering voete sleep met antwoorde oor die toekoms van die College of the Arts (Cota). Die sperdatum hiervoor was gister.

“Die tekort van geld raak nie net vir Cota nie. Weens die hoë koste sukkel ons om dosente in die mediaveld met mededingende pakkette te lok,” het die minister van onderwys, kuns en kultuur in ‘n verklaring gesê.

"In ons verbintenis om 'n volhoubare oplossing te vind, word moontlikhede deur die ministerie ondersoek, insluitende die plasing van tydelike dosente en moontlikhede om geld te kry om matriaalkoste soos toerusting, sagteware en voorraad vir die verskeie afdelings te dek," lui dit.

Daar was geen aanduiding oor wanneer die klasse vir die byna 150 studente sal hervat nie. Die tweede termyn was veronderstel om Maandag af te skop.

Ondanks die feit dat die betoging sonder die goedkeuring van die polisie beplan word, dreig die studente selfs om die gebou te betree indien nie aan hul vereistes voldoen word nie.

“Ons wil nie radikaal word nie, maar ons is deur ons leiers gefaal," het mnr. Steve Angula, Cota-studenteleier, gesê.

Optog

Die jongste verwikkelinge volg nadat sowat 200 Cota-studente en ander opvoedkundige instansies Dinsdagoggend ’n optog na die ministerie gehou het om hul ontevredenheid oor die staking van sekere mediakursusse vanweë ‘n geldtekort uit te spreek.

Die optog het in Katutura – waar studente die ergste geraak word – begin en plakkate met boodskappe soos “90% success rate down the drain” en “The budget cut my education” is geswaai.

“Hoe is dit moontlik dat die besnoeiing van die begroting ons opvoeding in so ’n mate kan raak? Is dit wat Harambee beteken? As opvoeding vir almal is, hoekom is ons s'n opgeskort? As daar nie geld is om Cota te finansier nie, hoekom kan die regering nie eerder sy beamptes se hoë salarisse sny sodat ons opvoeding gedek kan word nie?” het mnr. Steve Angula, Cota-studenteleier, in ’n klagskrif gevra. Dit is aan me. Sanet Steenkamp, die permanente sekretaris van die ministerie, oorhandig.

Klagskrif

In die klagskrif het die studente daarop aangedring dat die ministerie aan hul vereistes voldoen, dat alle klasse op Maandag 19 Junie hervat word, dat hul finansiering prioriteit moet wees en dat die kollege as ’n instituut van hoër onderwys geklassifiseer moet word.

“As Cota se klasse gestaak word, moet dieselfde by ander instansies soos die Universiteit van Namibië (Unam) en die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) gebeur,” sê Angula ook in die klagskrif.

Verteenwoordigers van beide dié instansies was daar om hul medestudente te ondersteun.

“Raak aan een, dan raak jy aan almal,” het mnr. Oscar Mwandingi, die hoof van Nust se studenteraad, gesê toe die optog die ministerie se voorstoep bereik het.

“Ons is verbind daartoe om die regte van ons medestudente te beskerm en sal hulle ondersteun, al moet ons saam met die Cota-studente hier by die ministerie kom uitkamp as hulle nie terugvoering kry nie,” het hy gesê.

Steenkamp het die klagskrif ontvang en die studente verseker dat hulle terugvoering sal kry nadat die minister en belanghebbende partye gekonsulteer is.

Minister

Minister Katrina Hanse-Himarwa het gister gesê die situasie is onder beheer.

"Daar was geen rede vir die studente om 'n optog te hou nie. Die situasie is onder beheer en ons sal binnekort die pad vorentoe uitlê," het sy gesê.

Studente én dosente is diep ongelukkig oor hul onseker toekoms.

“Hoe kan hulle ons nou in die middel van die jaar so 'drop', nadat ons betaal het en opofferings gemaak het om elke dag klasse by te woon? Dis nie regverdig nie,” het mnr. Kornelius Kakololo (22), ’n tweedejaar- mediastudent, gesê.

“Ons sien die impak hiervan op baie van die ander departemente, en baie van ons dosente is op kontrak. Wanneer hulle gaan, weet ons nie of ons iemand anders sal kan aanstel nie. Dit is kommerwekkend. Alles wat ons in ons alledaagse lewe gebruik, bevat elemente van kuns en ontwerp en dit bied kinders geleenthede wat ’n groot impak op ons ekonomie het,” het ’n dosent gesê.

“Ons geld word misbruik en nou raak dit kinders se regte,” het ’n ander gesê.

“Die feit dat ons by hierdie punt is in ’n tyd waar ons oor een van ons land se helde rou, is nie wat ons wil hê nie. Maar soos die jongmense op 16 Junie 1976 hul lewe gegee het vir hul opvoeding, sal ons veg vir ons s’n,” het mnr. Shoki Kandjimi, nóg ’n Cota-studenteleier, gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!