Cormack se mans wys potensiaal
Hokkie
Andrew Poolman - Gee hierdie jong Namibiese manshokkiespan nog 'n jaar of twee van sterk internasionale blootstelling, dan sal jy 'n ding sien.
Omtrent die helfte van afrigter Trevor Cormack se groep is nog skaars uit die skoolbanke, maar die potensiaal wat hulle die afgelope week gewys het, behoort mense opgewonde te maak om meer in hulle te belê.
Só sê een van Cormack se voorgangers as afrigter van die nasionale manspan, mnr. Johann Weyhe, ná afloop van die African Hockey Road to Tokyo 2020 toernooi wat gister op Stellenbosch ten einde geloop het.
Die Namibiese mans (vyfde) en vroue (vierde) het beide laaste in hul kompetisie geëindig en het swaar geleef in hul strewe om die kontinentale swaargewigte in die sport vir 'n plek by die 2020 Olimpiese Spele en die 2022 Statebondspele uit te daag.
Veral die vrouespan, wat baie hoopvol was nadat hulle uit die ondervinding van Juniemaand se Olimpiese uitduntoernooi in Spanje kon tap, se vertoning op Stellenbosch het egter nie aan die verwagtinge voldoen nie.
Weyhe sê: “Die mans se eerste wedstryd teen Suid-Afrika (verloor 3-1) was vir my hul beste vertoning van die week. Hulle was rêrig kompeterend en het geensins teruggestaan nie.
“Toe kom Egipte – 'n span wat die vorige ontmoeting met 17-1 gewen het. Die eindtelling van 6-1 wys ontsaglike vordering en is Namibië se beste telling ooit teen dié kragtige span.
“Toe ek in 2005 afrigter vir die Afcon-toernooi in Pretoria was, het ons met 7-2 teen Egipte verloor. Joseph Kashamako en Reagon Graig was ons doelskieters, met Reagon se treffer wat as die beste doel van die toernooi aangewys is.”
Namibië se wedstryd laas Dinsdag teen Ghana (verloor 3-1) was volgens Weyhe buitengewoon fisiek.
“Ons spelers is nie hieraan gewoond nie en as enige van ons skeidsregters dit hanteer het, sou hulle beslis opgetree en kaarte uitgedeel het. Maar dit is hoe die hedendaagse hokkie gespeel word en ons moet hierby aanpas,” sê hy.
Weyhe sê hy het nie genoeg binnekennis om werklik te weet wat skeef geloop het teen Zimbabwe (gelykop met 2-2) en gister teen Kenia (verloor 3-1) nie. “Dit is spanne teen wie ons tradisioneel ons ligapunte moes kry.
“Maar nou ja, die muntstuk val nie altyd soos jy dit wil hê nie.
“Ek sien baie waarop die mansport kan voortbou. Ons beskik oor baie talentvolle spelers en as hulle eers in hulself begin glo, kan hulle binne 'n jaar of twee op Afrika-vlak 'n ernstige mededinger word.
“Onthou, dit was die eerste toernooi in baie jare wat ons sonder Siyabonga Martins aangepak het, ons staatmaker wat deesdae op sy belowende nuwe loopbaan as 'n internasionale skeidsregter gefokus is.”
Weyhe sê die vrouespan sal baie teleurgesteld in hul vertonings voel, nadat hulle nou selfs hul gebruiklike oorheersing teen Kenia en Zimbabwe ingeboet het.
“Ons kon nie die pas volhou nie. Ek voel die paartie was gereël vir die vrouespan, maar hulle het nie opgedaag nie.”
Namibië se vroue-uitslae:
Verloor teen Kenia 0-1.
Verloor teen Suid-Afrika 0-5.
Verloor teen Ghana 0-3.
Verloor teen Zimbabwe 2-3 (doele deur Tara Myburgh en Phia Gerber).
Namibië se mans-uitslae:
Verloor teen Suid-Afrika 1-3 (doel deur Percy Barthram).
Verloor teen Ghana 1-3 (doel deur Pieter Jacobs).
Verloor teen Egipte 1-6 (doel deur Dylan Finch).
Gelykop teen Zimbabwe 2-2 (doele deur Brynn Cleak en Cody van der Merwe)
Verloor teen Kenia 3-1 (doel deur Nico Neethling).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie