Chinese se aansoek om borgtog duur voort

Walvisbaaise sakeman: Ek is onskuldig

06 January 2017 | Howe
Jacqueline Louw



'n Walvisbaaise sakeman, mnr. Laurentius Julius (47), het gister voor landdros Alweendo Venatius ter ondersteuning van sy borgtogaansoek getuig en aangevoer hy het geen benul hoekom hy deel van dié omvangryke be­drogsaak is nie.

Hy word saam met drie Chinese burgers, mnre. Tao Huizhong, Jinrong Huang en Zhu Honggang, van bedrog en geldwassery be­skuldig. Die staat beweer dat dié mans die ministerie van finansies tussen die begin van 2010 tot 19 Desember verlede jaar bedrieg het met die betaling van doeane­heffings. Die heffings beloop na bewering N$3,5 miljard in werklike en potensiële verliese deur die ministerie gely.

Zhu is reeds op 22 Desember op borgtog van N$50 000 in die Ondangwa-landdroshof vrygelaat. Die oorblywende drie be­skuldigdes se borgtogaansoek word vandag in die Windhoek-landdroshof voortgesit.

Jinrong, wat beweer dat hy as motorbestuurder vir die maatskappy Golden Star in Namibië werk, se getuienis het aan die lig gebring dat hy eintlik die maatskappy bestuur terwyl sy werkgewer, ene Cai Fengping, in China is. Uit dokumente voor die hof het dit geblyk dat Jinrong die maat­skappy se bank gemagtig het om geldtransaksies te doen, alhoewel hy ontken dat die handtekening op die dokumente syne is. Hy het ook aangevoer dat hy weinig Engels magtig is en dus onmoontlik enige dokumente in Engels kon onderteken. Hy het verder ontken dat hy enige doeanedokumente onderteken het.

Gedurende Jinrong se getuienis het aan die lig gekom dat ene Chen Jianguo die houer is van 'n volmag om Golden Star se besigheid te behartig. Chen is in 2010 betrap in 'n poging om onverklaarde buitelandse valuta uit Namibië te neem, en het met 'n boete van N$50 000 weggekom.

Die derde beskuldigde, Julius, die alleeneie­naar van die klaringsmaatskappy Extreme Custom Clearance Service (ECCS), het ook getuig oor dié maatskappy se aktiwiteite. Volgens hom het ECCS se ouditeure hom bewus gemaak van verskille in die fakture wat aan doeane en aksyns voorgelê is en fakture wat aan ECCS gegee is. Volgens hom het hy sy kliënte oor hierdie onreëlmatighede geskakel en is meegedeel “dit is van China en dit is hoe hulle dit doen”.

Julius het ook getuig dat hy met die kommissaris van doeane en aksyns oor die aangeleentheid gekorrespondeer het en 'n geleentheid gegun is om ECCS se dokumente te hersien. Julius het getuig dat hierdie hersieningsproses steeds aan die gang is en dat ECCS reeds boetes van N$1,3 miljoen en heffings van N$3,9 miljoen betaal het.

Julius was verlede jaar in Londen toe hy op 16 Desember in kennis gestel is dat die polisie klopjagte op ECCS se kantore in Keetmanshoop, Lüderitz en Walvisbaai asook sy plaas naby Mariental uitgevoer het.

Op adv. Louis Botes se vraag of hy kennis dra van die bedrog van N$3,5 miljard, het Julius gereageer: “Ek weet nie waar dit vandaan is nie.”

Tao en Jinrong word deur prokureurs Sisa Namandje en Nambili Mhata verteenwoordig. Botes, in opdrag van prokureur Dirk Conradie, tree namens Julius op.

Soortgelyk

 

Vrou se liggaam in Goreangabdam gevind

13 ure gelede | Misdaad

Die liggaam van ‘n ongeïdentifiseerde vrou is Donderdagnag in die Goreangabdam by Windhoek gevind. ‘n Woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinsp. Kauna Shikwambi, het vandag...

Dr. Malan Lindeque op lys vir hoë posisies by...

14 ure gelede | Omgewing

Die kabinet het besluit om dr. Malan Lindeque, permanente sekretaris van die omgewing en toerisme, se nominasie vir top-posisies by die Verenigde Nasies (VN) goed...

Nuwe raad vir NPTH

14 ure gelede | Tegnologie

Die adjunkminister van inligting en kommunikasietegnologie mnr. Engel Nawatiseb het vandag die nuutste kabinetsbesluite aangekondig, asook die goedgekeurde nuwe raad van die Namibia Post and...

ECB keur kragtarief-verhoging van 5% goed

16 ure gelede | Energie

Die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) het vanoggend die nasionale kragverskaffer NamPower toestemming te gee om die grootmaat-elektrisiteitstarief met 5% te verhoog. NamPower het op 12 April aansoek...

Muilband-aansoek deur Intelligensiediens oor plase in die hof

16 ure gelede | Howe

Die verhoor van die dringende aansoek vir ‘n interdik waarmee die Namibië se Sentrale Intelligensiediens (NCIS) ‘n weekblad se mond oor moontlike korrupsie met die...

Verwarring oor taxistaking

17 ure gelede | Vervoer

Hoewel die president van die Namibiese Vervoer- en Taxivakbond (NTTU), mnr. Werner Januarie, sê taxi’s gaan eerskomende Maandag staak, sê die president van die...

Seuntjie (3) sterf ná glo met stok geslaan is

17 ure gelede | Misdaad

‘n Driejarige seuntjie het Woensdag in die Otjomukandi-nedersetting in die Kunenestreke gesterf nadat sy 34-jarige tannie hom glo met ‘n stok oral op sy lyf...

Geingob nooi Britse ondernemings na Namibië

22 ure gelede | Regering

Pres. Hage Geingob het gister (Donderdag) saam met 45 ander staatshoofde die amptelike opening van die Statebondsberaad as gas van koningin Elizabeth by Buckingham Paleis...

Hoop in 'n bondeltjie liefde

1 dag gelede | Omgewing

Hope, die bobbejaan wat in 2016 in die nuus was nadat sy in Windhoek erg mishandel is, het ma geword. Ná sy gered is, het...