China ontken skakel met Swapo-hoofkantoor

Bewerings ‘het geen gronde’

14 June 2019 | Politiek
Catherine Sasman - Die Chinese ambassadeur in Namibië, mnr. Zhang Yiming, het bewerings dat die Chinese regering fondse vir die bou van Swapo se hoofkantoor in Windhoek sal voorsien ten sterkste ontken.

Volgens onlangse mediaberigte het onbekende bronne beweer die Chinese regering sal fondse vir die bouprojek van N$730 miljoen voorsien, vermoedelik omdat Swapo nie geld daarvoor het nie.

Zhang het verlede week gesê dié bewerings het geen gronde nie.

“Die Chinese regering sal nie geld vir die Swapo-hoofkantoor voorsien nie. Ons het ’n duidelike beleid van geen inmenging,” het Zhang gesê toe hy gevra is of fondse vir so ’n projek as politieke inmenging of die wen van die regerende party se guns beskou kan word.

“Wil hulle ons beeld met onverantwoordelike beriggewing skade berokken?” was Zhang se kommentaar op die mediaberiggewing.

Hy het volgehou die Chinese regering bied geen politieke party enige ondersteuning vir soortgelyke projekte nie.

“Meer besonderhede kan by Swapo se kantoor gekry word.”

Die tender van N$730 miljoen vir die bouprojek is aan die Chinese maatskappy Unik Construction Engineering toegeken, wat Namibiërs ontstel het wat meen ’n plaaslike maatskappy moes dit kry.

Die ambassade het gesê die projek is “bloot kommersieel” en het bevestig die Chinese maatskappy het die tender gekry.

Die ambassade het beklemtoon die Chinese regering was geensins betrokke by die toekenning van die tender nie.

Swapo-maatskappye moet opdok

Swapo se department van ekonomiese sake het vroeër vanjaar ten minste agt Swapo-maatskappye genader om N$313 miljoen van die N$417,6 miljoen wat belê is, vir die projek beskikbaar te maak.

Mnr. Alpheus !Naruseb, Swapo se sekretaris van ekonomiese sake, het in ’n brief geskryf hierdie besluit is op 30 Januarie by ’n vergadering van die politburo gemaak is en het ’n beroep op die maatskappye gedoen om dringend op die opdrag te reageer.

Die maatskappye wat genader is, sluit in Kalahari Holdings (Pty) Ltd, wat beveel is om N$150 miljoen van sy beleggings beskikbaar te maak, Kudu Investment (Pty) Ltd (N$10 miljoen), New Dawn (sowat N$3,2 miljoen), Zebra Investments (N$5 miljoen), Guinas Investments (Pty) Ltd (N$16 miljoen), Ceret (N$15 miljoen), Namibia Protection Services (Pty) Ltd (N$50 miljoen) en N$67 miljoen van ’n genomineerde aandeelhouersrekening.

Dié opdrag het na bewering kommer onder die party se maatskappye gewek, en party het glo gekla hulle sal moet sluit as hulle hierdie geld vir die bouprojek moes gee.

Mnr. Clive Kavendjii, Swapo se voorsitter van die genomineerde aandeelhouers, het dit ten sterkste ontken toe hy vroeër om kommentaar genader is.

“Swapo is die alleenaandeelhouer van die betrokke maatskappye. Die bewering dat die maatskappye gesê het dit is ’n risiko vir hul besighede, is eenvoudig nie waar nie.

“Swapo-maatskappye word op gesonde sakebeginsels bestuur en alle maatskappye het raadslede wat hul fidusiêre pligte as ononderhandelbaar beskou,” het Kavendjii gesê.

Soortgelyk

 

Man vas oor lewende ietermagô

13 ure gelede | Misdaad

'n Man is Donderdag by 'n vulstasie op Okahandja glo met 'n lewende ietermagô in sy besit in hegtenis geneem. Volgens die woordvoerder van...

Polisieman skiet eks glo

15 ure gelede | Misdaad

'n Polisiebeampte sal Maandag in Walvisbaaise landdroshof op klagte van poging tot moord verskyn ná hy gister glo sy eksmeisie met sy dienspistool geskiet het....

Specialising in skin

1 dag gelede | Gesondheid

Dr Elisah Agaba is a consultant dermatologist at the Ongwediva Medipark university teaching hospital.He is also a senior adjunct lecturer of dermatology at the University...

Resessie slag Namibië

1 dag gelede | Ministeries

Jo-Maré Duddy – Net sowat N$25,5 miljard teen bestendige pryse het die afgelope kwartaal deur die Namibiese ekonomie gevloei – die minste in vyf jaar.Syfers...

Getuie sê Dippenaar het gejaag

1 dag gelede | Howe

Erwin Leuschner – Die saak teen die moordbeskuldigde mnr. Jandré Dippenaar is tot volgende jaar uitgestel.Woensdag het die laaste staatsgetuie in die streekhof op Swakopmund...

Wateraanleg staan twee weke stil

1 dag gelede | Regering

Elvira Hattingh – Windhoek kon vir langer as twee weke geen drinkwater uit rioolwater herwin nie – hoofsaaklik omdat daar te veel chemikalieë, vette, olies...

Kalender 20 September

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Culture Invasion Festival skop vandag by die sportterrein op Rundu af. Tydens die twee dae lange fees sal verskillende kunstenaars...

Weer vir 20 September 2019

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en baie warm in die sentrale Noorde en Noordooste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie warm wees.KUS: Bewolk en koel tot...

Jol in Japan

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Lloyd Zandberg Japan is een van daai lande waaroor mense praat. Nie noodwendig die heeltyd nie. Maar in baie gesprekke, veral om die...