Cassini: Bittersoet vaarwel

Namibië se NASA-man aan die stuur

14 September 2017 | Omgewing
Elvira Hattingh



'n Namibiër sal aan die stuur van sake staan wanneer die satelliet Cassini, 20 jaar sedert dit die ruimte ingestuur is om Saturnus en sy mane te bestudeer, môre verwoes word as dit in dié planeet vasvlieg.

Dr. Japie van Zyl, mededirekteur van NASA se Straalaandrywings­laboratorium (JPL), sê dit was 'n groot voorreg om aan sendings soos Cassini te werk – een van verskeie projekte onder sy toesig.

Hy is ook in beheer van al die satelliete wat rondom die aarde en Mars wentel.

“Môre sal vir ons bittersoet wees. Vir die meeste van ons is die satelliet soos 'n familielid. Dit sal 'n somber oomblik wees, maar aan die ander kant het Cassini vir ons genoeg data gestuur dat daar nog dekades lank ontdekkings daaruit sal kom.”

Cassini het in 1997 van die aarde af vertrek en die geringde planeet in 2004 bereik. Van Zyl sê daar bestaan verskeie redes waarom dit nou vernietig moet word.

“Beide die Saturnus-mane Titan en Enceladus het die regte toestande sodat lewe daar kan ontstaan. Selfs ná 20 jaar in die ruimte is dit moontlik dat bakterieë wat van die aarde af saam met die satelliet gekom het, nog steeds op Cassini oorleef het.

“Boonop is die satelliet se brandstof byna op, wat beteken ons sal binnekort nie meer beheer daaroor hê nie. As dit gebeur, is daar 'n kans dat die satelliet dalk op bogenoemde mane kan beland en dit moontlik met bakterieë van die aarde af besoedel.

“Die enigste manier om te verseker dat dit nie sal gebeur nie, is om die satelliet te vernietig. Dit is dus waarom ons dit Vrydag in Saturnus gaan laat vasvlieg. Die satelliet sal dan in die planeet se atmosfeer uitbrand en so is ons verseker dat alle moontlike bakterieë van die aarde vernietig word.”



DOODSEKER VAN NAVIGATORS

Van Zyl sê dit verg noukeurige navigasie om seker te maak die satelliet tref die planeet.

“Gelukkig is Saturnus 'n redelike groot teiken, en ons navigators is die beste in die wêreld. Ons het reeds voorheen met die Deep Impact-­sending 'n groot koperbal in 'n komeet vasgevlieg, so ek is doodseker ons sal Saturnus tref - presies waar ons beplan.”

Van Zyl sê sodra die satelliet Saturnus se atmosfeer binnedring, sal dit uitbrand.

“Ons sal egter nie 'n video daarvan kan kry nie, maar wel radioseine uitsaai soos wat dit nader aan die planeet kom.

“Ons sal weet die satelliet is vernietig wanneer die seine ophou.”

Hy sê dis nie moontlik om 'n video van die gebeurtenis te maak nie omdat selfs 'n teleskoop soos Hubble nie groot genoeg is om die fyner besonderhede van die botsing waar te neem nie.



BESTE ONtDEKKINGS

Van Zyl sê oor die jare heen het Cassini baie waardevolle inligting oor Saturnus en sy mane verskaf.

“Soveel so dat baie van die teorieë van hoe die groot planete en hul mane vorm, heeltemal verkeerd bewys is. Daar was soveel ontdekkings dat dit onmoontlik is om almal te noem.

“Van die beste is sekerlik Cassini se radarfoto's van Titan, wat gewys het dat dit die enigste ander plek in ons sonnestelsel is waar dit reën, riviere vloei en mere vorm. Die verskil is op Titan is die vloeistof vloeibare metaangas en nie water nie.

“Verder het Cassini ook die waterspuite op die maan Enceladus ontdek. Ons het die satelliet deur die waterspuite gevlieg en gemeet dat dit sout­water is - soos wat in ons eie oseane voorkom. Dit is die perfekte toestande dat lewe, soos bakterieë, kan ontstaan.”

Tydens Cassini se laaste missie in April vanjaar het dit naby Saturnus en sy ringe verby beweeg en het NASA ook baie nuwe inligting verskaf.

“Die verwagting was dat daar baie stofdeeltjies in die sone tussen Saturnus en sy ringe sou wees, maar ons het gevind dat daar baie minder was as wat ons gedink het. Ons het ook deur die boonste lae van die atmosfeer gevlieg. Die algemene verwagting is dat 'n mens net die ligter molekules in hierdie boonste lae sal kry, maar tot ons verbasing was daar heelwat meer swaarder molekules ook.”



TOEKOMS

Cassini was 'n samewerkingsprojek tussen tussen NASA en die Europese Ruimte Agentskap (ESA) en die totale koste van die satelliet en die voltooiing van sy missie was ongeveer US$3,9 miljard.

Van Zyl sê hulle wag nog vir goedkeuring vir projekte om Cassini se werk voort te sit.

“Ons het reeds voorstelle aan NASA gestuur om na beide Titan en Enceladus toe terug te gaan. Ons sending na Enceladus sal weer deur die spuite vlieg en van die water vang en terugbring aarde toe sodat ons dit hier met meer gesofistikeerde instrumente kan ontleed. Ons hoop dat NASA dalk later vanjaar een van die voorstelle sal goedkeur.”

Van Zyl sê selfs 'n kragtige tele­skoop kan nie dieselfde werk doen as 'n satelliet wat na die planeet gestuur word nie.

“Om dieselfde tipe detail te kan sien wat Cassini teruggestuur het, sal die teleskoop heeltemal onprakties groot moet wees.”

Van Zyl het vandeesweek reeds drie keer met Namibiese skole oor die verwoesting van Cassini geskype.

“Die belangrikste boodskap wat ek oordra, is dat 'n mens net deur jou eie verbeelding beperk word. Droom groot en volg jou drome na. Dit verg harde werk en deursettingsvermoë, maar die beloning is daar - as jy bereid is om te volhard.”

Soortgelyk

 

Theo Mujoro is nuwe hoof van verkiesings

17 ure gelede | Politiek

Mnr. Theophilus (Theo) Mujoro is vanaf 1 September vanjaar vir ‘n tydperk van vyf jaar aangestel as die nuwe hoof verkiesingsbeampte van die Verkiesingskommissie van...

Nuwe spoedkameras getoets

18 ure gelede | Infrastruktuur

Die Namibiese polisie se verkeersbeamptes toets van gister af die werking van nuwe spoedkameras op Namibië se hoofpaaie. Veral in die Erongo- en Otjozondjupastreek word...

Onderwys: ‘Gebruik wat julle het om fondse in te...

18 ure gelede | Onderwys

Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa het ’n beroep op skole gedoen om beskikbare middele te gebruik om fondse vir hul...

Otjomuru-kliniek aan regering oorhandig

19 ure gelede | Gesondheid

Die Otjomuru-kliniek naby die Otjomuru-nedersetting sowat 27 km oos van Okangwati in die Kunenestreek, is aan die regering oorhandig. Die konstruksie van die kliniek was...

Nuwe visekanselier vir Unam

19 ure gelede | Onderwys

Die Universiteit van Namibië (Unam) sal voorleggings deur die vier kandidate vir die universiteit se visekanselierspos regstreeks op YouTube, Twitter, Facebook en hul webwerf uitsaai.Die...

Windhoek se krane dalk oor twee seisoene leeg ...

1 dag gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Windhoek het genoeg water om twee reënseisoene te dek, indien dit bykomende waterbronne in die Noorde, asook die Windhoek-akwifer onvolhoubaar gebruik én...

Wag die Skedelkus op Harry en sy bruid?

1 dag gelede | Toerisme

Des Erasmus - Prins Harry-koors teister die gebied tussen Hentiesbaai en die monding van die Kunenerivier op die noordgrens en die ooreenstemmende leeu- en renosterwêreld...

Weer vir 22 Junie 2018

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Koud aanvanklik in die binneland. Dit sal gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm oor die verre Noordooste en die Khomasstreek wees. Elders sal...

Fosfaat-debat begin oor

1 dag gelede | Omgewing

Augetto Graig - Die ontginning van fosfaat op Namibiese seebodem is vir eers van die baan af. Die minister van die omgewing en toerisme,...