Capitec reageer op aantygings van Viceroy
Capitec reageer op aantygings van Viceroy

Capitec reageer op aantygings van Viceroy

Viceroy vergelyk nie appels met appels in sy verslag oor Capitec nie, sê die bank.
Nellie Brand-Jonker

Capitec het Maandagoggend in ’n lang verklaring in meer besonderhede gereageer op drie spesifieke aantygings in die Viceroy-verslag wat verlede week daartoe gelei het dat Capitec se aandeelprys slae gekry het.

Dit is die tweede verklaring waarin Capitec op die JSE se nuusdiens, Sens, op van die aantygings reageer. Die vorige een is verlede Dinsdag uitgereik.

Volgens Capitec sal hy in nog meer besonderhede reageer namate hy deur die verslag werk.

Maandagoggend het hy op die volgende gevolgtrekkings in die Viceroy-verslag gereageer en dit as verkeerd en misleidend beskryf:

1. Die leningsboek se geldwaarde klop nie.

Capitec bevestig dat die waarde van sy leningsboek korrek is en ontken enige wanvoorstelling. Viceroy het beweer dat Capitec lenings herskeduleer en dit dan as nuwe lenings aandui om só die syfer te vergroot.

2. Die uitstaande leningsboek word met meer as R11 miljard weer aangegee omdat dit bedrae insluit wat reeds afgeskryf moes gewees het.

Capitec ontken dat die syfer oordrewe is en voer die volgende aan:

* Viceroy gebruik inligting wat nie duidelik vergelykbaar is nie en hy gebruik nie inligting wat geredelik beskikbaar in die openbare domein is nie.

“Ons glo dit is doelbewus so gedoen om die vals indruk te skep dat Capitec se agterstallige lenings onderspeel is.”

Volgens Capitec is sy ontleding van agterstallige skuld anders as dié van die ander kredietverskaffers waarmee Viceroy hom vergelyk omdat hy afskrywings en voorsiening vir slegte skuld anders hanteer.

Capitec sê ander kredietverskaffers sluit lenings in wat langer as 90 dae agterstallig is terwyl Capitec dit ná 90 dae afskryf of sodra die agterstallige skuld aan eksterne skuldinvorderaars oorhandig word, welke ook al eerste gebeur.

“Die weglating van hierdie feite, saam met Viceroy se verslag wat daarop sinspeel dat Capitec ’n onmoontlik lae agterstallige syfer en reuseafskrywings het, help Viceroy om twyfel en onsekerheid oor Capitec te saai in plaas daarvan om insig te bied oor Capitec se konserwatiewe model vir die voorsiening van slegte skuld.”

* Viceroy kom tot die gevolgtrekking dat Capitec se voorsiening en afskrywing as persentasie van sy bruto leningsboek wesenlik laer is as dié van ander kredietverskaffers.

Viceroy sê Capitec se voorsiening vir slegte skuld en afskrywings moet verdubbel, naamlik dat hy nog R5,9 miljard vir slegte skuld moet voorsien en nog R5,4 miljard bykomend moet afskryf.

Die bank sê as sy afskrywingsbeleid toegepas word op die ander kredietverskaffers met wie Viceroy hom vergelyk, sal hul agterstallige lenings met 67% daal.

Hy sê as Viceroy appels met appels wil vergelyk, moet hy by die ander kredietverskaffers dus die lenings uitsluit wat langer as 90 dae agterstallig is.

3. Lenings wat nie betaal word nie, word verleng deur nuwe lenings uit te reik en aanvangsgeld op geherskeduleerde lenings te hef.

Capitec ontken dat hy onbetaalde lenings verleng en sê hy vra nie aanvangsgeld as hy lenings herskeduleer nie.

Die bank sê daar is ’n verskil tussen nuwe skuld en konsolidasies en bestaande lenings wat geherskeduleer word.

* Nuwe lenings: Die kredietverskaffingsproses word gevolg wat ’n omvattende ontleding van ’n kliënt se gedrag insluit en of hy dit kan bekostig deur die ontleding van inligting van kredietburo’s, bankstate en salarisstrokies. Daarop word aanvangsgeld en maandelikse diensgeld betaal.

* Meer as een lening of konsolidasie: Wanneer bestaande kliënte vir verdere krediet aansoek doen, word ’n volle kredietontleding gedoen. As hy kwalifiseer vir verdere skuld, kan krediet verleen word met ’n nuwe kredietooreenkoms, bykomend tot die bestaande ooreenkoms, of die kliënt kan sy bestaande skuld konsolideer in ’n nuwe kredietooreenkoms.

Die opsie is net beskikbaar vir kliënte wat nie agterstallig is met hul terugbetalings nie en vir kliënte wat ’n bevredigende krediettelling het.

Aanvangsgeld word net op nuwe lenings gevra of die bedrag van die nuwe krediet. Net die nuwe kredietbedrag word ingesluit in Capitec se syfers oor nuwe krediet wat toegestaan is.

Die voordeel van die gekonsolideerde lenings sluit in dat die kliënt nie die ekstra R68,40 maandelikse diensgeld op die bykomende lening hoef te betaal nie. Die bankkoste is laer omdat dit een debietorder is en dis gerieflik om net een lening te bestuur.

* Herskedulering: Volgens Capitec is die herskedulering van skuld daarop gemik om kliënte by te staan wie se omstandighede verander het sedert hulle die eerste lening gekry het en om die invorderingsproses te bestuur. Dit vind tipies plaas wanneer ’n kliënt sukkel om sy bestaande skuld terug te betaal of dink hy gaan probleme hê om sy skuld te betaal.

Die bank sal dan herskedulering oorweeg op grond van voorgeskrewe kriteria. Geen aanvangsgeld word op geherskeduleerde lenings gevra nie omdat dit nie nuwe krediet is wat verskaf word nie. Herskedulering is ’n formele wysiging aan ’n bestaande leningskontrak. Dit vorm ook nie deel van Capitec se syfers oor nuwe krediet nie.

Die voorsiening wat vir die slegte skuld gemaak is ten tye van die herskedulering val nie weg nie. Die voorsiening word stelselmatig per maand verwyder namate die kliënt terugbetaal.

Dit is verkeerd van Viceroy om te beweer dat Capitec aanvangsgeld op geherskeduleerde lenings vra, lui die verklaring. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!