Burre: 'Moet nooit hoop verloor nie'

Droogteheld deel sy hart

29 August 2018 | Landbou
Elvira Hattingh – “Vandag, terwyl ek hier voor julle staan, laai ons lorrie nommer 850 in Cederville, Natal af. Ons het op 6 Maart 2017 hiermee begin.

“Die geraamde waarde van die vervoer en veevoer wat ons tot dusver as droogtehulp gelewer het, staan op meer as R30 miljoen.”

Dit was die woorde van die bekende koördineerder van die omvangryke droogtehulpveldtog in Suid-Afrika, mnr. Burre Burger, wat produsente by die Namibië Houtskoolvereniging (NCA) se konferensie op 10 Augustus 2018 toegespreek het.

“Ek neem nie graag aan politieke praatjies deel nie, maar sedert 1981 het die Suid-Afrikaanse regering slegs 38 lorries aan droogte geteisterde boere gelewer,” het hy gesê.

"My boodskap vandag aan julle is: Moet nooit hoop verloor nie. Die beste deel van hoop is as is jy soggens opstaan, is dit ‘n droom wat voortleef."

ALLE HOOP VERLOOR

Burre, wat van Vredendal in die Wes-Kaap kom, sê hy het in 2016 alle hoop verloor.

“Vir my besigheid was dit ‘n moeilike jaar. Die droogte het egter nog nie in daardie jaar so ‘n groot rol gespeel op die plaas waar ek woon nie, maar dit het wel ‘n invloed op my besigheid as groente- en vrugteverspreider gehad.

“Ek het aan my vrou gesê ek dink ek ly aan depressie. Sy het vir my gesê die vorige aand was ek dan nog oraait. Ek het vir haar gesê dit is wat depressie doen en dat sy my moet dokter toe vat, anders gaan ek nie hierdie dag maak nie."

Burre sê mense ken hom as die nar van partytjies, maar dat hy dit juis gedoen het omdat hy weet hoe dit voel om nié te lag nie.

“Ek het vir die dokter gesê ek dink ek het depressie. Binne my, sterf ek.

“Ek het vir hom gesê as jy my nou huis toe gaan stuur, gaan ek selfmoord pleeg. Hy het toe die erns van die situasie besef en my na ‘n instelling in die Paarl gestuur,” vertel hy.

“Iemand wat kanker het, weet soms nog hoe lank hulle het om te leef, maar in die geval van depressie, weet jy nie. Jy kan een oggend opstaan en besluit jy gaan vandag sterf. Daar is niemand wat jou dan aan die lewe kan hou nie, want jy gáán jou eie lewe neem.”

Burre sê sy vriend, die bekende voormalige Springbok-afrigter, Pieter de Villiers, het hom in die inrigting besoek, terwyl hy sélf ook deur ‘n donker tyd gegaan het.

“Hy kon nie werk in Suid-Afrika kry nie. Hy het vir my gesê die pille wat hulle my by die instelling gaan gee, gaan my doodmaak.

“Ek het vir hom gesê ek voel beter, ek het goed geslaap. Hy het egter gesê ek moet begin bid.

“Toe ek vir hom sê ek bid gereeld, het hy gevra of ek soos hy bid. Daarna het hy vir my begin bid.

“Hy het my daagliks besoek, sonder dat enige een dit van hom gevra het. Die Springbok-afrigter het my nou begin afrig om te bid. Dit is waar ek groot respek vir hom gekry het,” het Burre vertel.

Burre sê ná twee weke wou hy huis toe toe gaan en hy was gelukkig om weer by die huis en terug by sy werk te kon wees.

ALLES SWART

Die depressie het hom egter wéér bekruip.

“Toe ek op Sondag 29 Oktober die oggend wakker word, was alles swart om my. Ek het geen hoop vir my huwelik gehad nie, geen hoop vir myself, vir my kinders wat in Suid-Afrika moet grootword of vir boere nie.

“Ek het net géén hoop gehad nie.

“Ek het briewe aan my twee klein dogtertjies begin skryf. In daardie stadium voel jy niks nie, want jy weet jy gaan binne ure sterf.

“Ek het vir hulle geskryf oor wanneer hulle agtien raak, wanneer hulle hul eerste kêrels gaan ontmoet, hul harte die eerste keer gebreek gaan word. Ek het ook ‘n brief vir my vrou geskryf om dankie te sê vir alles.

“Ek het vir die vrou wat in ons huis gewerk het, gesê: ‘Emma, ek voel nie lekker vandag nie.’ Sy het gevra hoekom bid ons nie. Ek het vir haar gesê vandag is dit te laat vir bid.”

Burre vertel dat hy vyftien slaappille oorgehad het wat die kliniek vir hom gegee het en dat hy alles gedrink het. Daarna het hy sy skoonsuster se kar gevat met die opset om te verongeluk.

“Ek het die kar gevat, want op daardie oomblik dink jy nie aan ander mense nie.

“Later die namiddag het ek wakker geword en rondgekyk en gedink: My dokter en my vrou is nie in die hemel nie. Hierdie is dus nie die hemel nie. Ek het besef ek is in die hospitaal.

“Die oomblik toe ek in my vrou se oë kyk, het ek geweet sy weet wat ek gedoen het. Ek kon net sê ek is jammer.”

Burre sê hy wou net huis toe gaan, al wou almal hom in die hospitaal hou. By die huis het hy die pille afgeslaap.

“Toe ek die volgende oggend wakker word, het ek vir die Here gesê ek weet wat ek gedoen het, is verkeerd. Is daar enige iets wat ek vir Hom kán doen?

Ek het elke oggend gebid soos Pieter my geleer het.

GROOTSTE SKILDENAAR

Burre vertel op 3 Maart 2017 het hy in Boesmanland in die Noord-Kaap by sy swaer gekuier.

“Ons het brandewyn gedrink en gebraai. Donderstorms het nader geskuif oor ‘n plaas wat vir drie jaar lank géén reën gehad het nie.

“Ek het vir hulle gesê, vanaand skilder God die lug baie mooi. My swaer het geantwoord: ‘As Hy maar net ‘n slag op die grond kan skilder.’

Burre sê op daardie oomblik het hy onthou dat hy God voorheen gevra het wat hy vir Hom kan doen.

“Ek kon daardie nag nie slaap nie – hoe kan ek slaap as ander mense só swaar kry? Ek het besef God wys hierdie swaarkry met ‘n rede vir my.”

Drie dae later het Burre ‘n eerste lorrie water by die ouetehuis op Calvinia afgelewer – altesaam 34 ton water. ‘n Dag later het ‘die eerste lorrie ‘n vrag voer by boere in Calvinia afgelewer.

“Van daar af het ons daagliks ‘n trok vol voer of lusern aan boere in die Noord-Kaap gelewer.

“Elke keer as ons ‘n lorrievrag afgelewer het en mense my bedank het, het ek gesê hulle moet die Here dank, nie vir my nie. Ek het gesê hulle moet die Here dank dat hy hulle die moed gegee het om te boer.”

Burre sê hy en sy broer was saam in besigheid en hulle het begin saamwerk om droogtegeteisterde boere met vyf lorrievragte veevoer per dag te help.

“Later het dit tien vragte per dag geword en toe het mense ons van oraloor begin bel.

“’n Boer het my een oggend van Pofadder in die Noord-Kaap gebel en gevra dat ek hulle help. Ek het gehuiwer.

“In daardie stadium het ek hierdie projek alleen hanteer en het ek self vir alles betaal. Ek was op pad Kaapstad toe vir verskeie vergaderings, maar het op Piketberg gestop om oor die saak te bid.

“Op pad terug het ek weer by Piketberg gestop om petrol in te gooi. Terwyl hulle my kar volgemaak het, het ek die winkel binnegegaan om kos te gaan koop. Toe ek uitkom, sê die petroljoggie ek kan ry, die petrol is klaar betaal.”

Hy het Burre gewys wie dit betaal het.

“Ek het na die man gegaan en gevra: ‘Oom, hoekom het jy my petrol betaal? Hy het geantwoord ‘Hou aan met wat jy doen.’

Dis hier waar ek besluit het om Pofadder te help. Vandaar af het die projek astronomies gegroei.

“Ek het ook die suidelike dele van Namibië probeer help, maar by die grens het hulle ses lorries vol witmielies weggewys omdat dit vanweë wetgewing nie die land kon inkom nie.

Burre sê is is tans besig om met die Namibiese regering te onderhandel om moontlik in die toekoms droogtehulp in Namibië te kan bied.

“My boodskap vandag: Moenie ophou hoop nie, want daar is altyd iemand wat jou sal help. Vertrou op God.”

Soortgelyk

 

Namibia resistant to Eskom power woes

7 ure gelede | Energie

NDAMA NAKASHOLE NamPower has assured Namibians that load-shedding in South Africa will not affect Namibia.NamPower issued a statement two days after South Africa’s cash-strapped power...

Staatshospitale mank aan voorraad

7 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Betalings vir verskaffers van skroewe, penne en prosteses vir ortopediese operasies by die twee staatshospitale in Windhoek word “by tye” vertraag wat...

Ekspo gee volhoubare toerisme woema

7 ure gelede | Gebeure

Volgende jaar vind die Namibië Toerisme Ekspo (NTE) vir die 21ste keer plaas, en sal op herwinning fokus.Dit sal van 5 tot 8 Junie by...

Rundu: Verdrink in vullis of ly dors

7 ure gelede | Regering

Catherine Sasman - Rundu se strate en sypaadjies het in onooglike, stinkende vullishope ontaard omdat die dorpsraad noodsaaklike dienste afskeep.Dít om sy skuld van N$60...

Ondersoek staatskaping, eis amptelike opposisie

7 ure gelede | Politiek

Ronelle Rademeyer - Die sluier van geheimhouding oor Namib Desert Diamonds (Namdia) en berigte dat mnr. Tom Alweendo, minister van myne en energie, nie geweet...

Weer vir 15 November 2018

7 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en bloedig warm in die verre Noordooste en die ||Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees. Enkele ligte...

Huurbeheerrade aangestel

7 ure gelede | Ministeries

Catherine Sasman - Ná vele haakplekke en vertragings het die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling vyf huurbeheerrade in vyf streke aangestel wat sedert Maandag...

Outjo se panga-moordenaar kry lewenslank

7 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer - Die man van Outjo, wat erken het hy het sy meisie in 2015 vermoor deur haar verskeie kere met ’n panga op...

N$1,8 miljard nodig vir Etosha-heining

7 ure gelede | Ministeries

Ellanie Smit - Die heining om die Etosha Nasionale Park sal sowat N$1,8 miljard kos om te voltooi. Dít volgens 'n verslag van die...