Bure soek saam entstowwe

Masisi besoek Geingob

01 February 2021 | Regering
Augetto Graig

Die buurlande Namibië en Botswana sal saamwerk om entstowwe teen Covid-19 te verkry. “Ons doen inkopies, ons soek waar ons entstowwe kan verkry,” het Botswana se president dr. Mokgweetsi Masisi tydens sy staatsbesoek in Windhoek gesê.

“Ons het besluit om saam te werk in terme van die voorbereidende vereistes vir die uitvoering van ’n inentingsprogram. In terme van ’n datum wanneer jy ’n inspuiting in die arm kan kry, is ons egter nog nie daar nie,” sê Masisi.

Die samewerking beoog om alle landsburgers te beskerm, insluitend inenting van Namibiese burgers in Botswana, en Batswana in Namibië, sodra die entstof beskikbaar word.

Die Botswana-staatshoof het Vrydag ’n eendaagse besoek by sy Namibiese eweknie, president Hage Geingob, by Staatshuis in Windhoek afgelê. Masisi sê ’n uitgebreide plan om gesondheidstelsels reg te kry vir massa-inenting is gedeel, en beide lande is daartoe verbind om saam meer entstowwe in die hande te kry.

“Albei lande, Namibië en Botswana, is ingeteken by die Covax-program wat entstowwe vir tot 20% van ons bevolking sal voorsien. Ons is ook verbind tot die Afrika-plan van die Afrika-Unie. Dit is egter steeds nie genoeg om ‘kudde-immuniteit’ te verseker nie,” sê hy.

President Geingob het gesê: “Hierdie siekte is wêreldwyd en ons steun wat die Afrika-Unie sê dat die entstowwe vir alle mense moet wees. Tog weet ons hoe die wêreld werk. In Amerika word mense reeds ingeënt. Afrika word uitgelaat, maar ons moet nie ons self uitlaat nie. Dus verken ons twee ook ander metodes. Van ons kant sal ons doen wat ons kan. Ons onderhandel en sal selfs vir donasies vra as dit nodig is.”

Masisi stem saam dat Westerse lande nie net entstowwe opgaar nie, maar van nature hul eie mense eerste sal inent. “Die grootste onkoste is nie die geld nie, maar teen die tyd wat ons die entstowwe kry, sal baie mense reeds gesterf het; soveel goeie mense verlore,” sê Botswana se president.

Botswana sal sy verhouding en buurmanskap met Namibië “soos ’n jaloerse minnaar” koester, sê Masisi.

“Ons besoek is soos ’n besoek aan ’n vriend, ’n vriendelike land. Ons het kwessies van gesamentlike belang en ons het ook uitdagings, soos onlangs gesien toe drie Namibiërs en ’n Zambiër deur die Botswana-weermag geskiet is. Daar was ontsteltenis in Namibië. Daar was ook ontsteltenis in Botswana, want een verlore lewe is een te veel,” sê hy.

Ná die afhandeling van ’n gesamentlike ondersoek deur beide buurlande se polisiemagte, is die verslag daarvan nou deel van ’n regsproses in Botswana, sê hy. Dit kan dus nie vrygestel word nie. Masisi en Geingob het albei reeds die verslag gesien, en volgens Masisi word al die betrokke feite daarin uiteengesit.

Masisi was vergesel deur ’n delegasie om verskeie ekonomiese samewerkingsgeleenthede te bespreek. Botswana se ministers van buitelandse sake; belegging, handel en nywerheid; die omgewing, bewaring en toerisme; gesondheid en ander senior beamptes het met Namibiese ministers vergader.

Die adjunk- eerste minister en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, en Botswana se minister van buitelandse sake en samewerking, dr. Lemogang Kwape, het die vestiging van ’n bilaterale kommissie onderteken. Dié kommissie sal die bestaande gesamentlike kommissie, asook die gesamentlike permanente kommissie vir verdediging en veiligheid oorneem.

Ekonomiese samewerking en die vestiging van ’n een-stop grenspos sal vir die nuwe kommissie prioriteite wees.

[email protected]

Soortgelyk

 

Covid-19-regulasies geld tot 31 Maart

21 minute gelede | Gesondheid

Pres. Hage Geingob het pas by Staatshuis aangekondig die huidige Covid-19-maatreëls geld vir die volgende 36 dae vanaf middernag tot 31 Maart (Onafhanklikheidsdag op 21...

Knopvelsiekte breek in Omaheke uit

1 uur gelede | Landbou

Knopvelsiekte het by Eiseb in die Omahekestreek uitgebreek en die beweging van beeste in dié gebied is tot verdere kennisgewing opgeskort.Volgens dr. Albertina Shilongo, hoof-veeartsenybeampte...

Metro spoils its customers

2 ure gelede | Plaaslik

Metro Namibia celebrated its birthday in style once again by spoiling five lucky customers each to a trailer of their own, stocked with N$5,000-00 worth...

Vrou woon in haar motor by hospitaal

11 ure gelede | Mense

Henriette Lamprecht – 'n Bejaarde vrou van die kus woon die afgelope week in haar motor in die parkeerterrein van 'n staatshospitaal in Windhoek om...

Toekoms van 77 Air Nam-vlieëniers onseker

11 ure gelede | Vervoer

Francoise Steynberg – Altesaam 77 vlieëniers van Air Namibia se toekoms is onseker. Boonop het bykans 75% van die redery se vlieëniers se lisensies verval...

Ses damme voller as 100%

11 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl altesaam sowat ses Namibiese damme tans 100% of meer water bevat, oorstroom die Zambezirivier sy walle, met water wat in die...

Weer vir 24 Februarie

11 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Wydverspreide donderbuie word in Ohangwena, Oshikoto, Otjozondjupa en Omaheke verwag. BINNELAND: Sonnig en warm in die Suide en Weste, andersins gedeeltelik bewolk en baie...

'Swak bestuur rede vir Meatco se krisis'

11 ure gelede | Byvoegsels

Ellanie Smit - Volgens ’n verslag wat aan die ministerie van staatsondernemings (SOE's) voorgelê is, staar Meatco likwidasie in die gesig indien hy nie kostes...

Hof kry Heritage Health voor stok

11 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die mediese fonds Heritage Health het 'n bloutjie in die hoërhof geloop nadat hy sy jaarlikse premies wou verhoog, maar dié stap...