Bulstryde in opwindende T20-uitkloppe beloof

Ná 'n afnaweek in die premierliga bots die paaie van die twee voorloper­spanne, WHS Old Boys en Wanderers, hierdie naweek.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Twee baie opwindende semifinale, onmiddellik gevolg deur die finaal van Krieket Namibië se T20-eersteliga, vind môre by die aangrensende velde van Affiespark en Wanderers in Pionierspark plaas.

WHS Old Boys se tweedespan speel om 09:00 teen Old Boys Vintage by Affiespark en terselfdertyd sal Samsung FNB Wanderers II en Zebras 1 mekaar op die Wanderers-veld in die ander halfeindstryd pak.

Die wenspanne stap om 13:30 by Wanderers vir die groot oomblik op die veld.

Old Boys II het sewe van sy agt wedstryde gewen om met 28 ligapunte in die eerste posisie te eindig. Wanderers II (6 gewen, 24 ligapunte) volg in die tweede posisie met Zebras (5 gewen, 20) en Old Boys Vintage (5 gewen, 20) wat onderskeidelik derde en vierde is.

Zebras se netto-lopietempo van 2.5 is beter as Vintage s'n (1.024) en daarom beklee hulle die derde posisie.

Wanneer na die vier spanne se netto lopietempo gekyk word, blyk dit die Zebras kan as buiteperd die grotes se dag lelik bederf as dinge kliek. Zebras met 2.5 steek tong uit vir Old Boys (1.2), Wanderers (1.4) en Vintage (1).

Wanderers II sal veral sy planne agtermekaar moet hê teen Waqas Mohammed, die verwoestende 22-jarige aanvangskolwer van Zebras wat die afgelope weke die liga aan die brand kolf. Natuurlik speel die opskiet en val van die munt 'n groot rol by Wanderers. Gewoonlik is die kolfblad soggens ietwat vol streke en die kolwers moet hul storie ken.

Mohammed het die afgelope naweke reeds Wanderers se tweedes “raakgeslaan” (84 van 51 balle, 4x4 7x6) en laas Sondag met 170 van 64 balle teen trustco United II laat waai.

Een swaeltjie maak natuurlik nie die somer nie, maar as Mohammed hom eers ingegrawe het, sal die Wanderers-boulers hul storie moet ken om die skade tot die minimum te beperk.

Mohammed spog nie verniet reeds met 491 lopies in sewe wedstryde wat hy gemiddeld 70 per kolfbeurt behaal nie.



PREMIERLIGA

Die laaste ligabepalings van die eerste ronde van KN se premierliga word by Gemsbokpark in Olympia en Vegkop-stadion gespeel – soos gebruiklik die eendagwedstryde (50 boulbeurte) môre en die T20's Sondagoggend.

By WHS Vegkop takel die sterbelaaide, onoorwonne spanne van WHS Old Boys en Samsung FNB Wanderers mekaar op dié twee dae.

Môre sal die eerste keer in hierdie 2020-2021-seisoen wees wat dié twee toonaangewende klubs teen mekaar in 'n eendagwedstryd te staan kom. Wanderers het sy eerste twee wedstryde teen die sukkelende MR24/7 Welwitschias en Trusco United onderskeidelik met agt en sewe paaltjies gewen.

Old Boys spog ook met twee oorwinnings – teen United (9 paaltjies) en met tien paaltjies teen CCD Tigers. Beide klubs is gelaai met nasionale sterre en dié botsing behoort teoreties die volle 50 beurte te duur.

In die T20-liga het Wanderers die Welwitschias met 46 lopies en United met 78 lopies tot oorgawe gedwing. Old Boys het op hul beurt vir United met 180 en Tigers met 19 lopies ondergekry.

• By Gemsbokpark sal United (Filistyne) sy rekord teen die besoekende CCD Tigers wil verbeter. Die Filistyne kon nog net een 50-beurtwedstryd teen die Welwitschias met 57 lopies beklink.

Tigers op sy beurt sal uiteraard sy enigste oorwinning sover (teen die Welwitschias, met 9 paaltjies) tot twee suksesse wil verbeter.

Sondag se T20-wedstryd by dieselfde venue behoort opnuut vir vuurwerke te sorg.

Die Filistyne, wat nog net een wedstryd teen die Welwitschias met 72 lopies gewen het, kan opnuut sterk teenstand van Tigers verwag. Die CCD-span is self met een sege (oor die Welwitschias met 27 lopies) stert in die lug oor die kans om sy posisie op die ligaleer te verbeter.

Dit is dié twee klubs se eerste ontmoeting in beide weergawes in die huidige seisoen.

Die span van United: Chris Freeman, Brendan Britten, Shaun Fouché, JW Visagie, Lo-han Louwrens, Tino Chiwara, Hendrik van der Walt, Nyasha Nyasha, Eben van Wyk, André Siepker, Christiaan Delport, Dickson Vambe.

WHS Old Boys se twaalftal: Zane Green (paaltjiewagter), Wimpie Viljoen, Gerhard Erasmus (kaptein), Craig Williams, Malan Kruger, Riaan Minnie, Gerhard Janse van Rensburg, Tangeni Lungameni, Jason Bandlow, Mauritius Ngupita, Melrich Robyn, Divan la Cock.

CCD Tigers: Stephen Baard (kaptein), Ramon Wilmot, Joshuan Julius, Nicol Loftie-Eaton, Ben Shikongo, Wayne Raw, Norbert Manyande, Lucian Bumpton, Ben Burger, Elton Ambambi, Mika Mutumbe, Quincy Beukes.

Teen druktyd was Wanderers se eerste span nie bekend nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!