Buitelanders stel minder belang in SA huise

Volgens 'n verslag speel ­buitelanders 'n toenemend kleiner rol in die Kaapstadse eiendomsmark.
Nellie Brand-Jonker - Die vraag van buitelandse kopers – ingesluit Suid-Afrikaners wat oorsee woon – na plaaslike eiendom het effens toegeneem in die eerste helfte van die jaar, maar dit is nie naastenby by die hoogtepunt van 2016 nie.

Siphamandla Mkhwanazi en Zharina Francis, ontleders van FNB, sê in 'n verslag oor 'n peiling onder eiendomsagente buitelanders was in die tweede kwartaal vir 3,7% van alle eiendomsaankope in Suid-Afrika verantwoordelik.

Dit is 'n effense herstel van die laagte­punt in die vierde kwartaal van 2018 toe dit op 2,9% was.

“Nieteenstaande is dit steeds onder die piek van 5,7% in die derde ­kwartaal van 2016 en onder die lang­termyngemiddelde van 4,4%,” sê hulle.

Hulle meen die verbetering in die eerste helfte van vanjaar is deels omdat buitelanders gebruik gemaak het van die geleentheid om eiendom te koop terwyl Suid-Afrikaanse kopers gewag het tot ná die ­verkiesing.



Kaapstad het meeste ­buitelandse kopers

Die inligting toon ook buitelanders speel toenemend 'n kleiner rol in die Kaapstadse eiendomsmark.

Dié verkope wat aan buitelanders toegeskryf word, het in die tweede kwartaal van verlede jaar 10,7% bereik teenoor 6,5% in die tweede kwartaal van vanjaar.

Dit lyk asof van die buitelandse vraag na Durban en Port Elizabeth verskuif het, moontlik om vakansie­huise te koop.

Desnieteenstaande is die persentasie van buitelandse aankope hiér steeds laer as in Kaapstad op onder­skeidelik 1,9% en 5,1% in die tweede kwartaal.

Johannesburgse aankope wat aan buitelanders toegeskryf word, was op 4,7% in die tweede kwartaal teenoor 2,6% in die vierde kwartaal van verlede jaar.

Maar in Pretoria het ­buitelandse aankope van 2,4% in die vierde ­kwartaal tot 1,3% in die tweede ­kwartaal gedaal.

Luidens FNB se inligting was buite­landers uit die res van Afrika in die tweede kwartaal verantwoordelik vir die meeste aankope deur buitelanders. Hierdie kopers verteenwoordig minstens 'n kwart van die totale eiendomsaankope deur buitelanders in Suid-Afrika die afgelope drie maande.

Data oor Suid-Afrikaners wat oorsee woon, toon min verandering in die vraag die afgelope kwartale.

Op langer termyn is dit egter duidelik dat daar sedert 2014 'n ­stelselmatige daling is in die getal huise wat Suid-Afrikaners koop wat oorsee woon.



Swak vraag, pryse onder druk

FNB het in die eerste kwartaal in die peiling gevind die getal Suid-Afrikaners wat oppak en oorsee verhuis, het die afgelope twee jaar verdubbel.

FNB het in die tweede kwartaal ook gekyk na die verskil in die vraag van buitelanders teenoor mense wat hul huis verkoop om die land te verlaat.

As die verskil 'n negatiewe syfer is, beteken dit meer huise word verkoop deur mense wat die land wil verlaat as die vraag van buitelanders en Suid-Afrikaners wat oorsee woon.

Sedertdien is die tendens afwaarts en dit het in die tweede kwartaal van 2017 omgekeer in 'n negatiewe syfer. Vir die tweede kwartaal van 2019 word die netto buitelandse vraag geraam op -9%.

Volgens FNB plaas die swak vraag van buitelanders die eiendomsmark onder druk.

“Eiendom wat verkoop word omdat mense oorsee verhuis, het vinniger toegeneem as die buitelandse vraag na Suid-Afrikaanse eiendom.

“Verwag in dié stadium dat die swak vraag steeds druk op eiendomspryse gaan plaas tot die siening van die land wesenlik verbeter.”– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!