Buitelanders besit nié veel plase

Statistiek oor grondbesit bekend gestel

14 September 2018 | Landbou
Elvira Hattingh - Buitelanders besit slegs 3% of 1,2 miljoen hektaar kommersiële landbougrond in Namibië, terwyl 97,7% van kommersiële landbougrond deur Namibiërs besit word.

Die grootste deel van grond in buitelandse besit (639 667 ha of 53%) word deur Duitse burgers besit, gevolg deur Suid-Afrikaners, wat 353 875 ha (of 29,3%) besit, en Amerikaners wat 82 024 ha (6,8%) besit.

Ander buitelanders, wat ‘n kleiner hoeveelheid kommersiële landbougrond besit, sluit onder andere in Oostenrykse, Switserse, Britse, Italiaanse, Portugese, Hollandse, Kanadese en Chinese burgers.

Dié statistieke is gister tydens ‘n simposium in Windhoek oor die besit van landbougrond deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) bekend gemaak, in voorbereiding op die nasionale grondkonferensie wat vroeg volgende maand plaasvind.

Die NSA se raadsvoorsitter, dr. John Steytler, het tydens die geleentheid gesê dit is belangrik dat statistieke beskikbaar gemaak word.

Hy en het die hoop uitgespreek dat dít tydens die simposium bekragtig sal word en daartoe sal lei dat ‘n “goue standaard” vir grondstatistieke ter tafel gelê kan word.

Die NSA se statistikus-generaal en uitvoerende hoof, mnr. Alex Shimuafeni, het bygevoeg die statistieke is saamgestel uit data wat bygehou word deur Agribank, die ministerie van grondhervorming, asook die Namibië Landbou-unie (NLU).

Hy het erken ‘n tekortkoming in die statistieke is dat die besit van stedelike of dorpsgrond nie daarby ingesluit is nie.

GEHEELBEELD

Namibië is sowat 82,4 miljoen hektaar groot en 48% (39,7 miljoen ha) van die land bestaan uit kommersiële landbougrond, terwyl 35% (28,7 miljoen ha) hiervan kommunale landbougrond is. Staatsgrond beslaan 13,9 miljoen ha, of 17% van die land, wat kommersiële plase in staatbesit uitsluit.

Kommersiële landbougrond wat in private besit is, verteenwoordig 41,6% van Namibië.

Volgens die ministerie van grondhervorming se waardasierol va 2012 tot 2017, beskik Namibië oor sowat 12 382 plase en dele van plase. Sowat 52,2% van hierdie plase is in individue se besit, terwyl maatskappye 31,5% hiervan besit en die regering 13,8%. Die oorblywende 2% word deur byvoorbeeld boereverenigings en kerke besit.

Voorheen bevoordeeldes besit sowat 70,1% (of 27,8 ha) van die beskikbare 39,7 miljoen ha kommersiële grond in die land, terwyl 16% hiervan in die besit van voorheen benadeeldes is. Dit sluit plase in wat deur die regering se regstellende aksie-leningskema, AALS, en deur finansiering van ander kommersiële banke bekom is.

Sowat 23% se kommersiële grond is in die besit van vroue, terwyl mans 77% besit.

HERVESTIGING

Die ministerie van grondhervorming het sedert 2008 ‘n meer betroubare lys van hervestigingsplase begin byhou. Hiervolgens is 443 plase vir hervestigingsdoeleindes teen Junie vanjaar bekom.

Plase is van die ministerie van landbou, water en bosbou aan die ministerie van grondhervorming vir hervestigingsdoeleindes oorgedra, wat beteken die totale getal staan tans op 486 plase.

In totaal het 5 352 mense tot dusver voordeel uit die nasionale hervestigingsprogram getrek. Altesaam 1 030 huishoudings is sedert 2002 hervestig.

Inwoners van die Oshikotostreek het tot dusver die grootste voordeel uit die hervestigingsprogram getrek, met 1 499 mense van dié streek wat hervestig is. Die Omahekestreek staan tweede in die ry, met 1 455 inwoners wat hervestig is. Die Erongostreek is heel laaste, waar slegs 76 mense hervestig is.

Volgens wet het die regering voorkoopreg op enige kommersiële landbougrond voor dit op die vrye mark verkoop kan word.

Tussen 1992 en 2018 is altesaam 8,1 miljoen ha aan die staat gebied, waarvan 5,1 miljoen ha van die hand gewys is. Die regering het dus sowat 3 miljoen ha hiervan gekoop.

Die meeste grond wat deur die regering van die hand gewys is, is in die Otjozondjupastreek geleë en beslaan sowat 1,6 miljoen ha.

AGRIBANK

Agribank was skynbaar twee keer meer suksesvol as die nasionale hervestigingsprogram om plase in die hande van voorheen benadeeldes te plaas.

Sedert 1992 het voorheen benaadeeldes sowat 882 plase (6,3 miljoen ha) in agt streke deur die bank bekom, waarvan 3,4 miljoen ha deur die AALS bekom is. Kommersiële banke het sowat 2,8 miljoen ha gefinansier.

Die meeste van hierdie plase (34%) is in die Otjozondjupastreek geleë, gevolg deur die Omahekestreek (22%).

Soortgelyk

 

Brand breek uit by Spar op Keetmanshoop

1 uur gelede | Ongelukke

'n Brand woed tans by die Spar op Keetmanshoop. 'n Leser het enkele minute gelede dié foto vir Republikein gestuur. Meer inligting is nie tans...

Elfjarige byna ontvoer

2 dae gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht – ‘n Elfjarige laerskoolmeisie is Woensdag helder oordag voor haar huis byna deur ‘n groep mense in ‘n motor gedwing en ontvoer. ‘n...

Tendertafel net vir buitelanders gedek

2 dae gelede | Infrastruktuur

Ronelle Rademeyer - Die voorwaardes waaraan kontrakteurs moet voldoen om in aanmerking te kom vir twee reuse-konstruksietenders van byna N$4 miljard, is van só ’n...

Storm los by Unam-eksamen

2 dae gelede | Onderwys

Denver Kisting - Die Universiteit van Namibië (Unam) het teen gistermiddag steeds skouers opgetrek oor ’n eksamen wat eergisteraand skeefgeloop het.Nagraadse regstudente verbonde aan die...

Kalender 21 September

2 dae gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Erfenisweek 2018 is goed op dreef by die Franko-Namibiese Kultuursentrum (FNCC) . Namibië se belangrikste erfenisinstellings het saamgespan om dié...

’n Mannekoor en wyn vir die pyn

2 dae gelede | Kuns en vermaak

Die Windhoeker Männerchor (WMC) en ‘n uitgesoekte groep musikante nooi die publiek na die Wynfees/Winzerfest uit. Dít vind op 6 Oktober by die SKW...

Vanjaar reeds 29 renosters in Namibië gestroop

2 dae gelede | Omgewing

Francoise SteynbergAltesaam 21 swart- en agt witrenosters is al vanjaar in Namibië vir hul horings afgemaai.Uit dié 21 swartrenosters is 13 in die Etosha Nasionale...

Gif in waterkrip dalk stropers se werk

2 dae gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht Watermonsters van 'n krip in 'n munisipale kamp wes van Omaruru is vir ontleding na 'n private laboratorium gestuur om te bepaal...

Breek die mure af

2 dae gelede | Kuns en vermaak

Yolanda Nel – Indien die klank van kabaret, Evita of die Rocky Horror Picture Show jou aandag trek, moet jy môre geen planne maak nie.Shades...