Bring die lig terug na Zimbabwe

25 January 2019 | Rubrieke
Dit is duister in Zimbabwe. Die mense kry swaar. Hoop is min.

Bloed spat in die strate.

Chaos heers in die mark.

Basiese behoeftes word nie bevredig nie en die man en vrou op straat weet nie meer waarheen nie.

Zimbabwe se regering het twee besluite kort ná mekaar geneem, wat hiertoe gelei het: Die eerste besluit was om die prys van brandstof buitensporig te verhoog.

Brandstofpryse is aan vervoerpryse, voedselpryse, verblyfskostes, en selfs kommunikasiekostes verbind.

Net mooi alles word uiteindelik deur 'n verhoging in die brandstofprys geraak.

Dié besluit is beslis sonder die nodige inligting of insig oor die werklikheid van die daaglikse lewe in ons buurland geneem – of so hoor ek.

Redes vir die besluit sluit volgens berigte die opgaar en smokkel van brandstof in.

Hoekom dít die geval was, mag jy maar vra.

Tweedens het die regering besluit om die land se internetsein af te sny.

Stemme is stilgemaak. Die vloei van inligting is geblokkeer.

Dít in reaksie op die volk se verontwaardiging ná die 150%-verhoging in die brandstofprys.

Zimbabwiërs is ongelukkig. Hulle betoog en maak moles.

Die land se president, mnr. Emmerson Mnangagwa, het gesê sy eerste prioriteit is om Zimbabwe weer kalm en stabiel te maak, en weer aan die gang te kry ná hy, vroeër as beplan, van Switserland af teruggekeer het.

Beide besluite is 'n jammerte, en die tweede moet nie bloot aanvaar word nie.

Dít is in 2019 bloot onaanvaarbaar.

Geen omstandighede mag toelaat dat 'n land se bevolking gemuilband word nie. Nie nou nie. Nie meer nie.

Ek maak dié stelling met die volle bewustheid van menseregteskendings wat steeds oral op die planeet voorkom. Onreg en onmenslike behandeling van mense is steeds algemeen.

Nogtans weet veral ons van suidelike Afrika hoe hard baklei is om hierdie misbruik van mag te bekamp.

Ons ken die prys wat vir die stryd betaal is, en dít is waarom ons nie nou mag stilbly en toekyk nie.

Al gebeur wát, moet dit nie in die geheim gebeur nie. Ons mag nie toelaat dat die waarheid weggesteek word nie. Ons kan nie aanvaar dat ons bure gemuilband word nie.

Of hulle nou goeie of slegte dinge kwytraak, lieg of die waarheid praat – hul stemme moet gehoor word.

Boonop moet hulle ook weet wat in die res van die wêreld aangaan.

Dit is lank nie meer die tagtigerjare toe mense afgesonder van die res van die mensdom kon voortbestaan nie. Nou is dit noodsaaklik dat kennis van wêreldgebeure beskikbaar is en in ag geneem word.

Hoe nou as jou hele land se internetverbinding moedswillig afgesny is, en nogal deur jou eie leier?

Dit laat mens wonder in wie se belange daai leier werklik optree.

Niks goeds kan uit dié donkerte kom nie. Geen oplossing kan agter geslote deure bereik word nie.

Sleep liewers die skuldige tot in die lig sodat almal kan sien hoe hy lyk en wat hy is.

Nou is nie die tyd om die gesig weg te draai van die ellende wat Zimbabwe oorkom het nie.

Nou is die tyd om al ons aandag daarop te vestig, en selfs die hele wêreld daarvan bewus te maak.

Dít is ons Zimbabwe verskuldig.

Steek 'n kersie op en bid, skyn 'n soeklig oor die grens, stuur 'n boodskap via Twitter of deel 'n artikel oor die nuutste verwikkelinge op jou eie Facebook-blad.

Doen wat jy kan, maar doen iets en asseblief, bring die lig terug na Zimbabwe.

Soortgelyk

 

‘Aarde lag deur haar gebarste gesig’

12 ure gelede | Weer

Ronelle Rademeyer – Groot dele van die Suide is vanoggend (Saterdag) sopnat.Die Facebook-blad Reën in Namibia van Philip Deetlefs is die ene jubelsange van dankbaarheid...

‘Aarde lag deur haar gebarste gesig’

12 ure gelede | Tuisblad

Ronelle Rademeyer – Groot dele van die Suide is vanoggend (Saterdag) sopnat.Die Facebook-blad Reën in Namibia van Philip Deetlefs is die ene jubelsange van dankbaarheid...

Parlement skop Woensdag sy werksaamhede af

1 dag gelede | Regering

Pres. Hage Geingob open Woensdag om 14:30 die Nasionale Vergadering se verrigtinge vir die jaar. Dit sal die negende sitting van die sesde parlement inlui.Die...

Registrasiefooie by NUST nou N$2 000 minder

1 dag gelede | Onderwys

Die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) se registrasiefooie is met N$2 000 van N$4 200 tot N$2 200 verminder. Dit volg nadat ouers en...

Man sterf in ongeluk naby Rehoboth

1 dag gelede | Ongelukke

‘n Man is Woensdag op slag dood nadat die voertuig waarin hy op reis was, die pad verlaat en omgeslaan het. Volgens die polisie se...

Grondwet mag nie ‘papierdroom’ wees

1 dag gelede | Mense

Ronelle Rademeyer - “Ons kan almal baie dankbaar wees vir die Grondwet wat ons geskryf en eenparig aanvaar het. Namibiërs se vryheid en beskerming lê...

Groter stoom vir TransNamib

1 dag gelede | Vervoer

font face="Verdana" > Augetto Graig - Die nasionale spoorwegonderneming TransNamib het ’n nuwe raad en strategiese besigheidsplan aangekondig waarmee die onderneming ’n nuwe rigting...

NSFAF: Finale betalings voor 28 Februarie

1 dag gelede | Onderwys

Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) het alle geld ontvang wat aan studente vir 2018-’19 uitbetaal moet word. Volgens die fonds het die verwerking...

Weer, Vrydag 8 Februarie 2019

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Sonning en bloedig warm in die verre noordweste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele tot wydverspreide donderbuie.KUS:...