Brexit: Wat kan volgende gebeur?

15 March 2019 | Ekonomie
Saamgestel deur Petrus Malherbe – Brittanje se Brexit-kopseer toon geen teken dat dit gaan wyk nie. Kommerwekkend genoeg is daar net meer as twee weke oor voordat Brittanje die Europese Unie (EU) ingevolge art. 50 moet verlaat.

Die Britse laerhuis het Theresa May, die Britse premier, se hersiende Brexit-ooreenkoms Dinsdagaand met 391 stemme teen 242 verwerp – ’n meerderheid van 149 stemme. Dit plaas Brittanje se toekoms opnuut in ’n onsekere situasie en wat presies volgende gaan gebeur, is ’n ope vraag.

Hier is van die moontlikhede.

Brittanje verlaat die EU sonder ’n ooreenkoms

Kort ná Dinsdagaand se mislukte stemming het May aangekondig dat LP’s later vandeesweek weer gaan stem – dié keer oor of Brittanje die EU bloot sonder ’n ooreenkoms moet verlaat of om uitstel vir die inwerkingstelling van art. 50 te vra.

Dit sal beteken dat Brittanje nie die EU op 29 Maart sal verlaat nie, maar op ’n later datum wat nog bepaal moet word.

Al word Brexit uitgestel, kan Brittanje die EU steeds in die toekoms sonder ’n ooreenkoms verlaat, maar dit gee egter nog tyd vir onderhandelinge.

Die meeste LP’s het reeds aangedui dat hulle teen ’n Brexit sonder ’n ooreenkoms gekant is.

Brittanje vra om Brexit uit te stel

As die Britse laerhuis stem om nie die EU sonder ’n ooreenkoms te verlaat nie, sal May na Brussel moet terugkeer en vra dat Brexit uitgestel word.

Dit beteken effektief dat die tydperk vir die onderhandelings tot ná 29 Maart verleng word.

Die enigste vangplek? Al 27 lidlande sal daartoe moet instem.

Die EU-leiers sal op 21 Maart vergader, waar May ’n formele versoek kan indien. Sy sal egter moet verduidelik waarom Brittanje so ’n uitstel nodig het.

Net omdat die Britse laerhuis nie oor ’n Brexit-ooreenkoms kan saamstem nie, is waarskynlik nie ’n goed genoeg rede nie.

Dit sal wel in die EU se guns wees om Brexit met ’n paar maande, of net enkele weke, uit te stel aangesien dit die kans op ’n Brexit sonder ’n ooreenkoms verminder, wat in almal se guns is.

Daar word van voor af onderhandel

Hoewel die tyd Brittanje vinnig inhaal, kan Brittanje albei ooreenkomste wat reeds ter tafel gelê is, skrap en van voor af begin onderhandel.

Dit beteken egter nie die dat die EU bereid sal wees om die proses van voor af te begin nie.

Trouens, die EU het reeds aangedui dat hy nie bereid is om verdere toegewings vir Brexit te maak nie, wat dié proses kan bemoeilik.

As May se aansoek om Brexit uit te stel vir ’n paar maande slaag, sal die EU waarskynlik verplig voel om wel die proses van voor af te begin ten einde ’n Brexit sonder ’n ooreenkoms te voorkom.

Daar is ook niks wat die Britse laerhuis verhoed om weer oor May se bestaande ooreenkomste, sonder enige wysigings, te stem nie, hoewel so ’n stap onwaarskynlik is.

’n Nuwe referendum word gehou

Nóg ’n opsie is om die Britse publiek te vra om weer oor Brexit te stem.

Dit is egter nie sonder komplikasies nie.

Volgens wet moet ’n referendum aan ’n nuwe stuk wetgewing gekoppel word.

Dié wetgewing sal eers deur die parlement goedgekeur moet word, waarna ’n afkoelperiode geld. Eers hierna kan die publiek daaroor stem.

Brittanje se verkiesingskommissie sal ook eers moet bepaal wie aan die referendum mag deelneem en watter vraag gevra moet word wat betrekking het op die betrokke wetgewing waaroor gestem word.

Hierdie hele proses kan etlike maande duur en sal nie noodwendig die uitkoms van art. 50 verander nie.

’n Nuwe parlement word verkies

May is by magte om ’n stemming te versoek waarvolgens die laerhuis kan stem om die algemene verkiesing te vervroeg.

Twee derdes van LP’s moet die stap ondersteun waarna ’n verkiesing binne 25 werkdae gehou kan word.

’n Nuwe parlement sal dalk anders stem oor die bestaande Brexit-ooreenkomste, maar aangesien daar so min tyd oor is voor 29 Maart, sal dit nietemin beteken dat May eers uitstel vir Brexit van EU-leiers moet kry.

’n Mosie van wantroue kan ook teen May ingestel word. As ’n meerderheid LP’s dit steun, word May uit die kussings gelig en word die parlement 14 dae gegun om ’n nuwe regering te vorm.

As dit nie slaag nie, vind ’n algemene verkiesing binne 25 werkdae plaas.

Brexit word gekanselleer

Luidens ’n uitspraak deur die hof van die EU in Desember mag Brittanje eensydig die inwerkingtreding van art. 50 stop. Hy het nie die toestemming van die ander 27 EU-lidlande nodig nie.

Vir nou bly die Britse regering egter steeds verbind tot die uitkoms van die 2016-referendum en sal hierdie stap waarskynlik nie gedoen word sonder om ’n nuwe referendum te hou nie.

Die parlement kan wel ’n referendum hou waarin die publiek stem oor of art. 50 onttrek moet word al dan nie, wat Brexit effektief kan beëindig. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Neuroloog besoek Keetmanshoop-staatshospitaal

1 dag gelede | Gesondheid

‘n Neuroloog besoek die staatshospitaal op Keetmanshoop op 22 Maart. Persone met onder meer chroniese hoofpyne en migraine, Alzheimer se siekte, Parkinson's, demensie, Asperger’s sindroom,...

Regering sê oor Otjomuise-ontwikkeling

1 dag gelede | Ministeries

Die regering sê dit hou nie mense uit die nuutgeboude en skynbaar voltooide wooneenhede in Otjomuise uitbreiding 10 nie. Die rede waarom niemand nog daarin...

Vier oorleef ongeluk op Otjiwarongo-Okahandjapad

1 dag gelede | Ongelukke

Vier mense het nouliks aan die dood ontkom, nadat die voertuig waarin hulle op reis wees, die pad verlaat en drie keer gerol het. Die...

Skuiling vir swanger vroue op Usakos geopen

1 dag gelede | Gesondheid

‘n Skuiling vir swanger vroue ter waarde van N$1, 1 miljoen is by die staatshospitaal op Usakos geopen in ‘n poging om sterftes onder verwagtende...

Man met 102 Mandrax-tablette op L?deritz vasgetrek

1 dag gelede | Misdaad

‘n Man is op Lϋderitz in die //Kharasstreek met 102 Mandrax-tablette ter waarde van N$102 000 vasgetrek. Volgens die polisie se koördineerder van misdaadondersoeke in...

Noa verduidelik ACC-prosesse

2 dae gelede | Howe

Denver Kisting – Nadat ’n bewering oor ’n goewerneur se beweerde korrupte optrede in die openbare ruimte beland het, was die Teenkorrupsiekommissie (ACC) genoop om...

Psemas stop uitbetalings

2 dae gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Die administrateur van die staat se mediese fonds (Psemas) het opgehou om eise vir betaling te verwerk. Dít nadat die laaste betaling...

Dis nou maar wors!

2 dae gelede | Gebeure

Lesers wat in aanmerking wil kom vir die N$15 000 se inkopiebewyse in Shoprite Checkers se “Dis braaityd!”-kompetisie, moet gou speel met hul kiekies. Koop...

Kalender 15 Maart

2 dae gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Goethe-Institut vertoon vanaand om 19:00 die fliek Rafiki. Dis die storie van Kena en Ziki in hul soeke na iets...