Brendan: Só kan jy All Blacks klop

13 September 2018 | Sport
Wellington is nie “Sending Onmoontlik” vir die Springbokke nie.

Só skryf Brendan Venter in ’n meningstuk vir die Nieu-Seelandse webtuiste www.stuff.co.nz oor Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks.

“As Rassie Erasmus die lesse kan vat wat ons verlede jaar in Albany geleer het en daarna in Kaapstad toegepas het, kan Wellington die draaipunt in sy nasionale afrigtingstydperk wees.

“Allister Coetzee het sy werk effektief in Albany verloor. Erasmus kan syne behou met ’n goeie vertoning in Wellington,” skryf Venter.

Daar is volgens die voormalige Bok-konsultant en gouemedalje-wenner in 1995 se Wêreldbeker-toernooi ’n baie spesifieke manier om teen die All Blacks te speel.

As jy van die plan afwyk, wat in Albany verlede jaar gebeur het, kan jy swaar bloei. Om die All Blacks te probeer klop, is daar volgens Venter drie hoofelemente waarvan jy baie bewus moet wees.

“Al drie is eintlik binne jou beheer, wat jy as ’n span bestuur. Eerstens speel die All Blacks vir veldgebied. As jy hulle wil klop, moet jy hulle met jou taktiese skopwerk kan ewenaar.

“Jy kan nie bekostig om die bal net so ver moontlik veldaf te skop nie. Daar moet om besit met jou skoppe meegeding word, omdat die manne in swart dodelik is om van agter met teenaanvalle te kom. Wanneer daar om ’n skop meegeding word, koop dit vir jou tyd om jou verdedigingslyn te herorganiseer.

“Op die oomblik het die Bokke dikwels agt spelers op die grond of wat rondom die losgemale staan wanneer hulle skop, wat hulle met net twee spelers in die agterveld laat en die speler wat skop. Dit beteken daar is dan net enkele spelers wat die 67 meter-breedte (van die veld) moet verdedig. As die besoekers dit nie regkry nie, sal die All Blacks hulle van hul voete hardloop.

“Tweedens moet die Bokke hul balbesit beskerm, want die All Blacks se teenaanvalle is ongeëwenaard. Die Bokke moet dit beter as ooit tevore beskerm, want as jy die aangeë forseer en die All Blacks raap die bal op, is jy in die moeilikheid.

“Derdens moet jy die vaste fasette baie goed verdedig. Tradisioneel teken die All Blacks ’n hoë persentasie drieë van skrums en lynstane aan. As die All Blacks nie in staat is om van teenaanvalle, omgekeerde besit of die vaste fasette drieë te behaal nie, het jy ’n baie goeie kans om hulle te klop.

“Dis nie net wensdenkery nie.”

KOMBINASIES

Venter skryf die Bokke sukkel die afgelope tyd hoofsaaklik omdat hulle nie gevestigde kombinasies het nie en weekliks verskeie veranderinge maak.

“Die belangrikste ding wat Erasmus moet doen, is om dit nou te staak om oor die skep van diepte te praat. Hierdie Springbok-span het desperaat kontinuïteit nodig. Erasmus moet nou dieselfde span vir die volgende drie wedstryde kies en vir die groep sê: Julle is die spelers wat ’n goeie kans gaan kry.”

Venter skryf al is die Bokke in die verlede gekritiseer omdat hulle oormatig konserwatief is, is dit ’n goeie idee om grootliks met die voorspelers en die nommer 9 teen die All Blacks te speel.

“Die huidige span moet die les van Nuweland in ag neem omdat jy nie ’n ander span individueel fisiek oorheers nie. Jy oorheers hulle as ’n eenheid.

“Ons het (in die Kaap) naby gekom om hulle te klop omdat ons ’n heel ander benadering in elke spelafdeling toegepas het. Ons het geleer dat jy nie die All Blacks met hul eie spel kan klop nie en moet fokus op jou eie sterkpunte.

“Die ouens het geweet hulle het (in die Kaap) die oorhand oor die All Blacks gehad. Toe hulle van die veld op Nuweland stap, het ons geweet ons moes daardie wedstryd gewen het.”

• Venter het Allister Coetzee verlede jaar as die Springbokke se verdedigingskonsultant bygestaan. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Wilde perde: Jongste vul reeds aangeval

6 ure gelede | Ministeries

Tanja Bause - Enige hoop op oorlewing van die Namib se wilde perde krimp al meer, terwyl die ministerie van die omgewing en toerisme na...

Leerlingdokters 'van swakker gehalte'

6 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht - Namibië bestee al ses jaar lank geld aan die opleiding van mediese studente in die buiteland.Volgens mnr. Cornelius Weyulu, registrateur van die...

Regulasies vir loterye en dobbel kom

6 ure gelede | Toerisme

font face="Verdana" >Francoise Steynberg - Alle rolspelers in die lotery- en dobbelbedryf moet landswye openbare werkwinkels bywoon sodat regulasies volgens nuwe wetgewing opgestel kan...

Gesondheidsmanne vas oor hospitaaltender

6 ure gelede | Ministeries

Twee administratiewe beamptes van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se kantoor op Otjiwarongo is op borgtog van N$5 000 elk vrygelaat ná hulle...

Weer, Woensdag 20 Februarie 2019

6 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en baie warm in die verre noordooste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele reënbuie in die...

Twee kinders met stok doodgeslaan

6 ure gelede | Misdaad

’n Angolese burger is in hegtenis geneem ná hy twee minderjarige kinders na bewering doodgeslaan het en hul ouma ernstig gewond het. Die voorval het...

Weerwaak teen hitte uitgereik

6 ure gelede | In beeld

Die Namibiese weerkantoor sê die kanse op reën is besig om te verbeter in die noordwestelike dele van die land, asook in die Khomasstreek, waar...

Duister SA bekommer NamPower nie

6 ure gelede | Energie

Augetto Graig - Namibië se nasionale kragverskaffer, NamPower, sê Suid-Afrika se kragverskaffer, Eskom, is nie die enigste bron waarmee plaaslike krag aangevul word nie. “Namibië...

Pack Safari open toergids-akademie

6 ure gelede | Toerisme

Pack Safari het amptelik die deure van sy toergids-akademie in Windhoek oopgemaak. Die akademie bied gratis beroepsopleiding aan plaaslike, Duitssprekende toergidse met FGASA Veldgids vlak...