Boltina die kat haal die paal

22 January 2018 | Plaaslik
Tanja Bause



'n Katjie wat byna 'n hele dag lank bo-op 'n hoë kragpaal in die genadelose son gestrand was, is Donderdag laatmiddag tydens 'n spanpoging gered.

Windhoek se Dierebeskermingsvereniging (DBV) het dié middag 'n versoek om hulp op hul Facebook-blad geplaas en mense het nie op hulle laat wag om te help nie.

Mnr. Percy Openshaw van Crisis Response en sy span was eerste op die toneel, maar hul leer was te kort om by die verskrikte katjie uit te kom. Boonop was die kragdrade aan.

Gelukkig het mnr. Reinhard Redecker van Nirosta met 'n lorrie en hyskraan opgedaag om tot die diertjie se redding te kom.

Die mans het 'n hok aan die hyskraan vasgemaak en mnr. Fernandus Noabeb van die DBV was gereed om daarin te klim om kat se kind 'n ekstra lewe te besorg.

Noabeb sou egter versigtig moes wees of die krag skok hom katswink.

“Ek is maar 'n bietjie skrikkerig om op te gaan, omdat die krag nog aan is. Dit is ook my eerste keer om 'n kat wat so hoog gestrand is, te red.

“Maar ek kan sien hy is baie bang en dors en kan nie afklim nie.

“Dit is hoekom ons hom moet help. En ek sál hom red. Dan sal ons hom na die DBV toe vat en ek sal vir hom 'n goeie, liefdevolle huis soek,” het hy gesê voor hy die hoë paal getrotseer het.

Windhoek se munisipaliteit het die krag afgeskakel en Noabeb is met die hyskraan gelig.

Binne sekondes het hy die katjie van die paal af getel en in 'n katmandjie gesit.

Terug op die grond is die erg gedehidreerde kat met water natgemaak en dadelik veearts toe geneem.

Volgens me. Sofie Ringquest, 'n inwoner van die straat in Windhoek-Wes waar die toneel hom afgespeel het, is daar heelwat rondloperkatte in die omgewing.

“Ek vermoed die katjie is een van hulle of een van hul babas. Die kat is seker al Woensdagnag teen die paal opgejaag - miskien deur honde, want toe ons die Donderdagoggend uit die huis kom, het ons hom reeds gesien en gehoor,” het sy gesê.

Die katjie is ná die voorval “Boltina” gedoop en volgens die DBV gaan dit goed met haar. Indien sy 'n eienaar het, kan die eienaar die DBV by (061) 238-654 skakel.

Soortgelyk

 

Geingob: Gelukkig Vrouedag, vroue

1 dag gelede | Regering

President Hage Geingob sê hy erken die dapper pogings van vroue om beter gemeenskappe te skep en tot die voorspoed van die mensdom by te...

Verkrygingsraad presteer

1 dag gelede | Regering

Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) se raadsvoorsitter, mnr. Patrick Swartz, en administratiewe hoof, me. Lischen Ramakhutla, het vanoggend lig gewerp op uitdagings wat die...

Namibië topbestemming by ITB

1 dag gelede | Toerisme

Namibië is gisteraand as beste safari en wildbestemming by die Internasionale Toerismeskou in Berlyn (ITB) in Duitsland aangewys.Die minister van die omgewing en toerisme, mnr....

Wet slaan toe op wapenlisensies

2 dae gelede | Ministeries

Denver Kisting – Op die oomblik hoef iemand wat om ’n wapenlisensie aansoek doen, nie bewys te lewer dat hulle in staat is om ’n...

Reënweer vertoef langer

2 dae gelede | In beeld

Die Namibiese weerkantoor voorspel sonnige en baie warm weer vir vandag in die verre weste en suidweste van die land, terwyl dit elders gedeeltelik bewolk...

Water: Verligting ná hemelhoë rekeninge

2 dae gelede | Regering

Elvira Hattingh - Windhoekers wat vandeesmaand uitsonderlike hoë waterrekeninge ontvang het, kan ‘n sug van verligting slaak omdat die droogtetarief vir huishoudings net tot Januarie...

Kalender 8 Maart

2 dae gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Tapz is 'n meester van die bira en die Wes-Afrikaanse djembe. Dit kan op sy debuutalbum, Awaited Wait, wat in Desember...

Jeuggeweld ruk Outjo

2 dae gelede | Misdaad

Denver Kisting Drie jongelinge van Outjo is steeds agter tralies nadat hulle glo sowat 'n maand gelede twee ander jong mans binne 43 minute doodgesteek...

Minister gee Nida nuwe raad

2 dae gelede | Plaaslik

Ogone Tlhage – Die raad van die nuwe agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) sal gereeld moet vergader om homself as semi-staatsinstelling te vestig. So...