Bokke wil gelyk behandel word deur blaser
Rugby
Hendrik Cronjé
Die Springbok-kamp pleit vir gelyke behandeling deur die Fransman Jérôme Garcès wanneer hy 50/50-beslissings in Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd teen die All Blacks in Jokohama moet maak.
Mzwandile Stick het dit nie in soveel woorde gesê nie, maar sterk daarop gesinspeel dat wedstrydbeamptes nie die All Blacks in die Wêreldbeker moet voortrek nie.
“As jy na die afgelope drie toetse tussen die Bokke en die All Blacks kyk, het ons hulle in 2018 met twee punte (36-34) in Wellington geklop. Hulle het ons daarna met twee punte (32-30) in Pretoria gewen en vanjaar se toets in Wellington was gelykop (16-16),” het Stick, 'n hulpafrigter van die Bokke, gesê.
“In die vorige Wêreldbeker-toernooie het die All Blacks sake oorheers. Hulle beklee wel nog die tweede plek op die wêreldranglys en is een van die wêreld se bestes, maar as jy na die wêreldranglys kyk, kan enige van die vyf boonste spanne op 'n goeie dag die Wêreldbeker wen.
“Hopelik sal die wedstrydbeamptes die wedstryd respekteer, want dinge is nou baie gelyk tussen die spanne.”
In gisteroggend se nuuskonferensie in die Bokke se hotel langs Tokio se Walt Disney-oord het Stick die onlangse Wêreldbeker-losmakers tussen Engeland en Wallis as 'n voorbeeld gebruik om te verduidelik hoe gelykop sake tussen die toplande is.
“Toe Engeland tuis gespeel het, het hy Wallis geklop. Hy kon egter nie dieselfde uitslag in Cardiff behaal nie.
“Ek dink dis 'n ongelooflike opbou vir die Wêreldbeker. Hopelik sal die wedstrydbeamptes alle spanne gelyke behandeling gee en die spel en ondersteuners respekteer wat opgewonde oor die Wêreldbeker is.”
Garcès sal Saterdag deur sy landgenoot Romain Poite en Engeland se Karl Dickson as assistent-skeidsregters bygestaan word. Engeland se Graham Hughes is die televisie-skeidsregter.
Die Bokke besef klein dinge soos die wip van die bal en 50/50-beslissings sal 'n groot sê in Saterdag se toets hê, wat heel moontlik in reën kan plaasvind.
Stick meen die Bokke is reg vir die uitdaging.
“Dit gaan 'n taai een wees, maar ons het die harde werk ingesit. Ons afrigters en spelers is op dieselfde golflengte wat ons in die Wêreldbeker wil bereik.
“Ons is opgewonde oor die uitdaging.”
• Onsekerheid bestaan intussen nog of die stut Trevor Nyakane vir Saterdag se toets oorweeg sal word. Hy het gister aan die Bokke se oefening deelgeneem en voluit gehardloop, sonder enige oënskynlike ongerief. Hy het sy knie in die opwarmwedstryd teen Japan beseer.
Rassie Erasmus kondig môre sy span aan. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie