Boere soek toegang tot beeste op polisieplaas

Ndeitunga keur versoek af

08 June 2021 | Landbou
Ronelle Rademeyer – Kommunale boere van Epukiro en omtrekke wie se gesteelde beeste verlede jaar as bewysstukke na die polisie se plaas Houmoed geneem is, sê dit kan nog jare duur voor die veediefstalsake teen ’n vermeende sindikaatbaas afgehandel is. Intussen wil hulle toegang tot die beeste hê.

Mnr. Sandie Tjaronda, woordvoerder van die groep Besorgde Boere teen Georganiseerde Veediefstal, sê hulle het in April ’n skriftelike versoek aan die inspekteur-generaal van die polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, gerig om toegang tot die plaas Houmoed te kan kry.

Hy het hulle in kennis gestel die Strafproseswet bepaal slegs die beskuldigde kan die bewysstukke, in hierdie geval die beeste, inspekteer ter voorbereiding van sy saak. Die getuies/klaers het nie toegang daartoe nie.

Die beskuldigde is mnr. Sylvanus Katjiutua, alias Karukukutu. Hy het homself op 23 April verlede jaar aan die polisie oorgegee nadat dié groep se net al nouer om hom gespan het.

’n Vergadering is kort daarna by Pos 3 by Epukiro tussen die gemeenskap, polisie en die streeksowerheid gehou oor bewerings dat die polisie in dié gebied met veediewe saamwerk.

Ndeitunga het die vergadering saam met hoë offisiere soos die streeksbevelvoerder, komm. Andreas Haingura, Omaheke se goewerneur, mnr. Pijoo Nganate, en raadslede van verskeie kiesafdelings in die streek bygewoon. Hy het in daardie stadium gesê hy kan net teen vermeende korrupte polisiemaglede optree indien bewyse van hul beweerde betrokkenheid aan hom voorgelê word.

Katjiutua het minstens tien sake teen hom hangend. Hy is by Buitepos in aanhouding.

Hoofinsp. Herman van Wyk van die polisie se veediefstaleenheid op Gobabis het by navraag gesê die ondersoeke teen Katjiutua vorder goed en net enkele verklarings is nog uitstaande. “Die verhoor behoort binnekort te begin,” het hy gesê.

Daar word beweer Katjiutua is die meesterbrein van ’n sindikaat wie se slagteiken glo minstens 20 beeste per week was. Hy het hom verlede jaar aan die polisie oorgegee uit vrees dat die gemeenskap reg in eie hande sou neem.

Minstens 13 ander mans is verlede jaar in hegtenis geneem omdat hulle na bewering saam met hom gewerk het.

Kort voordat Katjiutua hom aan die polisie oorgegee het, is ’n totaal van 58 gesteelde beeste deur die gemeenskap teruggevind, asook skape, donkies, huishoudelike items en selfs hoenders. Beslag is ook gelê op vyf voertuie wat na bewering deur die sindikaat gebruik is.

Tjaronda sê die groep (Besorgde Boere teen Georganiseerde Veediefstal) is besig om regsadvies in te win oor wat hulle te doen staan.

“Ons moet toegang hê tot ons beeste om die diere te doseer, dragtigheidsondersoeke te doen en om te sien na hulle welstand. Dit kan nog jare duur voor die hofsake afgehandel is,” sê hy.

Volgens hom is daar ook die afgelope jaar dertien van die geskonfiskeerde beeste deur die polisie aan Katjiutua terugbesorg en hulle soek groter deursigtigheid.

Tjaronda voel dit is belangrik dat hulle as boere weet presies hoeveel beeste nou op die plaas oor is.

Mnr. Gunner Riedel, ’n kommersiële boer wat ook deurgeloop het, sê die sindikaat het 24 beeste by hom gesteel en dit is ook as bewysstukke na die polisie se plaas geneem.

Volgens Riedel is aan hom gesê hy mag die plaas saam met ’n veearts besoek sodat DNS-toetse gedoen kan word om te toon dié 24 beeste is die nasate van ’n bul waarvan hy die eienaar is.

Tjaronda meen die polisie diskrimineer teen hulle as kommunale boere deur ’n wit boer toe te laat om wel sy diere te besoek.

Volgens Van Wyk is die rede daarvoor dat beeste vanaf kommunale plase “gemeenskapsbeeste” is en moeiliker met DNS-toetse na ‘n spesifieke bul teruggespoor kan word.
[email protected]


FOTO
Die gesteelde beeste wat verlede jaar teruggevind is en sedertdien as bewysstukke op die polisie se plaas, Houmoed, in die Omahekestreek aangehou word. Foto Verskaf

Soortgelyk

 

27 sterftes, 1 649 nuwe gevalle

20 ure gelede | Gesondheid

Die sterftesyfer skiet met nog 27 - nege in Rehoboth, agt in Windhoek, drie in Keetmanshoop, twee in Walvisbaai en een elk in onderskeidelik Karasburg,...

Mental well-being suits us all

2 dae gelede | Mense

DR JOHN STEYTLERMental health is a subject which we are only starting to scratch the surface of in Namibia and it is not talked about...

Diva of finesse and fitness

2 dae gelede | Mense

Jeanette DiergaardtLiezel Ndjaronguru, a 32-year-old businesswoman, allows fitness enthusiasts to bring their best attitude to the table when working out. In 2013 the owner of...

Bonifatius Kantori Paulino is the Managing Director at Alexander...

2 dae gelede | Mense

Wetumwene Shikage Since Paulino joined Alexander Forbes, he spent some time to familiarise himself with the areas of responsibility of the position of...

Streng vereistes vir gebruik van blitstoetse

2 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) het opgedateerde regulasievereistes vir die verkoop, verspreiding en gebruik van antigen-blitstoetse vrygestel.Die NMRC sê antigeen diagnostiese blitstoetse (Ag-RDT’s)...

Sterftes neem sesvoudig toe

2 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die Covid-sterftes vir Namibië het bykans sesvoudig die afgelope ses maande toegeneem – vanaf 16 sterftes per week in Desember verlede jaar...

'Woestynpsalm' nou in pylvak

2 dae gelede | Byvoegsels

Bosman Films, 'n jong produksiemaatskappy in die Namibiese filmbedryf, het opgewonde aangekondig dat produksie vir hulle eerste film, Woestynpsalm, onlangs afgehandel is. Woestynpsalm is 'n...

High-flyer Samantha Geyser soared to customer service executive at...

2 dae gelede | Mense

Staff reporterSamantha Geyser dreamed of becoming a pilot when she was a young girl. She admired Amelia Earhart for her achievement of being the first...

Gweri Vintage Collection – the brand that keeps on...

2 dae gelede | Mense

Zulu Boy sets the trend for creativity Created by Namibians for international consumption The Gweri Vintage Collection is a brand focused on providing exclusive and...