Boer word 'n kunstenaar

Eg Namibiese karakters sy ­gunstelinge

05 March 2021 | Gemeenskap
Tanja Bause – “My grootword was tussen mense van die grond. Die drang om te boer, was te sterk, die vry wees en spasie het altyd gewen, maar nou soos ek ouer word, swaai die skaal al meer na wie ek geskep is om te wees en ek geniet elke oomblik daarvan.

“Dit wat ek nou doen, kan ek 24 uur per dag doen,” vertel Jannie Barnard (60), 'n kunstenaar wat by Koës boer.

Hy is op Keetmanshoop gebore en het daar sy skoolloopbaan begin.

In 1978 nadat hy op Keetmanshoop gematrikuleer het, moes hy vir twee jaar weermag toe.

“Ná die weermag was ek 'n jaar lank saam met my ouers op die plaas voordat ek vir twee jaar vir 'n diploma in landbou by Neudamm gaan studeer het.”

Nadat hy dié diploma verwerf het, het hy as landbou- en sportjoernalis by die destydse Suidwes-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SWAUK) gewerk.

“Nadat ek in die huwelik getree het, het ek as landbouvoorligtingstegnikus by die landboudepartement in ­Windhoek en Okahandja gewerk. Daarna het ek vir nege maande ­sendingwerk gedoen voordat ek terug is Landbou toe as tegnikus op Tsumeb.

“In September 1988 is ons plaas toe. Ons het eers regtig in 2000 onafhank­lik begin boer op die familieplaas, Safari, wat suidoos van Koës geleë is. Diep in die Kalahari, waar ons met kleinvee boer.”



KUNSTENAAR

Jan was al van kleins af baie kunstig en hy het graag rugbyprentjies geteken en aan sy ouers vir sakgeld verkoop.

“Ek sou wat wou gee om een van daai goed vandag te sien. Ek het nooit ­opleiding in kuns ontvang nie.

“As ek iets wou leer, het ek 'n boek gekoop, die oefeninge gedoen en begin ­­teken.

“Ek leef my uit in waterverf, olieverf, pastel en het leerbrandwerk gedoen, maar animasie wat ek onlangs begin het, is my passie – dit loop by my pen.

“Alles het begin met 'n meerkat wat ek vir my vrou geteken het. Die tekening moes op 'n T-hemp kom, maar het 'n aantal jare in 'n laai gelê totdat dit vanjaar sy weg op my kleinkinders se T-hemde gevind het.”

Hy het ook 'n valk as embleem vir sy kleinkinders se tuisonderrig ontwerp.

“Elke gesin wat tuisonderrig gee, moet 'n embleem hê wat hulle ­identifiseer wanneer ouers en kinders bymekaarkom. Hulle sel staan bekend as die Marlon Adventures, wat van die Marlon-valke afgelei is. Hulle is die Klein Valkies en daarom het die valk potlode by hom. Beide my klein­kinders is seuntjies en ek het probeer om hul embleem so opwindend as moont­lik te maak.

“Animasie verskaf my beslis die meeste bevrediging, veral die glimlag op 'n kind se gesiggie as hy of sy die prente sien, in 'n inkleurboek of op 'n kledingstuk. Ek was goed op dreef met inkleurboeke vir Alte ­Kalkofen Lodge en Mesosauris Fossil Site toe die ­Covid-19-pandemie alles tot ­stilstand gebring het, maar het reeds genoeg materiaal om 'n boek uit te gee vir Namibiese inkleur entoesiaste.

“My groot wens is om van hierdie boeke in oorloggeteisterde streke aan getraumatiseerde kinders te kan gee.

“Die lot van kinders wat swaarkry weens oorloë lê my na aan die hart, omdat kinderharte een van die laaste plekke op hierdie aarde is waar mens nog onskuld, vrede en vergifnis sien.

“Oorloë en lyding beroof kinders hiervan. Daarom sou ek graag 'n ­inkleurboek vir so iemand wil gee, want vir 'n oomblik vat dit ellende weg.”

Die karakters wat Jan skep en teken, ontstaan namate hy nadink oor die land en aan al die diere wat hier voorkom.

Volgens hom is daar nog talle ­karakters wat uit sy pen moet vloei.

“Die olifant, leeu, buffel, aardvark en so moet nog almal hul weg op 'n kledingstuk of in 'n inkleurboek vind.”



STANDBEELD

Jannie het ook al 'n groot standbeeld van 'n staande man gemaak wat nou by die ingang van die Alte ­Kalkofen Lodge tussen Keetmanshoop en ­Lüderitz pryk.

“Die standbeeld was 'n uitdaging van die eienaar van die lodge en my vriend Frikkie Mouton. Dit was my eerste standbeeld en tot dusver nog my enigste, maar dit was ongelooflik bevredigend om dit te maak.

“Ek het met die Rossi-stewels begin en tot die boshoed opgewerk. Die man het van die begin af op sy eie voete gestaan. Sy naam is Frikjan, volgens die twee modelle wat gebruik is – Frikkie Mouton en ekself.

“Ek wou 'n kameel met 'n Arabier op sy rug maak en dit by my plaas se afdraai neersit, maar ongelukkig is die tyd op 'n plaas baie min vir 'n mens se eie goed.”



KAMOEFLEER

“Ek wou al 'n geruime tyd kamoefleermateriaal ontwerp, maar niemand kon help met die uitvoering daarvan nie.

“Verlede jaar het ek egter Nike se leuse Just do it! ernstig opgevat. Ek het 'n voorbeeld van my omgewing geskilder, 'n drukkery in Windhoek opgespoor wat gespesialiseerde en professionele werk doen en daar is ons Kelahri buffs, so uitgespreek soos ons hier praat, op die mark.”

Die besonderse buffs word tans net uit die hand verkoop en mense wat belang stel kan vir Jannie direk kontak en op sy Facebook-bladsy, Dunearts, gaan kyk.

Dit is egter nie net die buffs wat Jannie wil laat maak nie; hy wil van sy karakters op veral kinderklere laat druk.

“Ek wil graag vir mense 'n keuse gee van my karakters en dit as 'n alter­natief vir hulle bied as die keuses wat vandag in winkels beskikbaar is. Eg Namibiese karakters, uit die land en in die land geskep.

“Van die uitdagings is egter byvoorbeeld die verskaffers van klere waarop ek die karakters kan laat druk. Koës is maar bietjie ver van alles en afgeleë.”

Soortgelyk

 

Hoërskool Rehoboth gesluit tot ná Paasnaweek

3 ure gelede | Onderwys

Hoërskool Rehoboth is vanaf vandag tot Dinsdag 6 April gesluit. Volgens die bestuur van die skool sal dié tyd gebruik word om die skoolperseel deeglik...

Robberts bly in aanhouding

14 ure gelede | Howe

Erwin Leuschner – Die 36-jarige mnr. Daniel (Danie) Robberts bly in aanhouding nadat hy na bewering sy vriend, mnr. Thomas Frederick (Frikkie) van Schalkwyk (69),...

Inentings: Namibiërs wag en kyk

14 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – ’n Wag-en-kyk-benadering en voorkeur vir spesifieke entstowwe is van die redes vir die trae reaksie tot die ministerie van gesondheid en maatskaplike...

Living a purposeful life

14 ure gelede | Mense

Rivaldo Kavanga“I would advise the youth to relentlessly go after whatever they desire unlimited. In pursuit of long-term gains and not short term rather.” Ndakondja...

Weer vir 30 Maart 2021

14 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die verre suide en die Zambezi-streek. Elders gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie. Wyd verspreide donderbuie in die...

Huishoudelike geweld gedy in Kavango-Wes

14 ure gelede | Misdaad

Die naweek is drie sake van huishoudelike geweld in die Kavango-Wesstreek by die polisie aanhangig gemaak. Vrydag om 05:00 het ’n 36-jarige man in die...

Running for those who can’t

14 ure gelede | Skole

In honour of cerebral palsy awareness month and as part of a school project, four learners from Windhoek Afrikaanse Privaatskool ran with children, parents and...

Windhoek kry eie ekonomiese plan

14 ure gelede | Regering

Augetto Graig – Die burgemeester van Windhoek, dr. Job Amupanda, sê die regering moenie terugstaan sodat die private sektor die nasie tot werkskepping en ekonomiese...

Ending the double shift system at schools

14 ure gelede | Onderwys

Rivaldo KavangaBet-el Primary School on Friday, 26 March 2021 received three classroom blocks and a storeroom from The Craton Foundation. The classrooms were donated to...