Bevolkingsgroei bedreig Afrika-demokrasieë

Outokrasie dalk nie oplossing

12 July 2019 | Afrika
Ed Cropley

Die Afrika-sterkman se politieke invloed het miskien ná die Koue Oorlog gekwyn, maar nou lyk dit of hy weer ’n verskyning op die vasteland se politieke verhoog maak.

Wat die verskynsel nog meer kommerwekkend maak, is dat hy versterk word deur trae ekonomiese groei in belangrike Afrika-demokrasieë soos Suid-Afrika en Nigerië.

Van die talle redes waarom Afrika se ekonomiese groei na ’n höer rat oorgeskakel het – van jaarlikse groei van sowat 2% in die 1990’s tot amper 6% 15 jaar later – staan vier uit: tegnologiese vordering, skuld wat afgeskryf is, beter pryse vir kommoditeite en beter staatsbestuur.

Die bogenoemde faktore word dikwels toegeskryf aan die verspreiding van demokrasie in Afrika en regerings wat verantwoording aan hul landsburgers moet doen.

Dis wel net tegnologiese vordering – die bemagtiging van selfone en SMS-bankdienste – wat ’n gedugte ekonomiese dryfkrag bly.

Van die Kaap tot Kaïro is die publiek se skuld besig om toe te neem en kommoditeitspryse is die helfte van wat dit voor 2008 was. Daar word verwag dat dit vanjaar nog verder gaan versleg as ’n verlangsaming die wêreldekonomie tref. Dit maak die lewe vir Afrika se demokrate maar moeilik.

Om lig hierop te werp, kyk na die land se sterkste ekonomieë: Nigerië, Suid-Afrika en Egipte.

Tans het Afrika ’n bevolking van 1.3 miljard mense en daar word verwag dat die getal gaan verdubbel teen die middel van die 21ste eeu, aldus ’n verslag van die Verenigde Nasies se bevolkingsafdeling.

Met 46% van die streek se bruto binnelandse produk tussen hulle, moes al drie lande se ekonomieë reeds goed op dreef gewees het as dit 11 miljoen nuwe werkgeleenthede per jaar moet skep.

Dit is volgens die navorsingsgroep die Brookings Institution wat nodig is as die lande se ekonomiese groei met hul bevolkingsgroei moet byhou.

Die twee groot demokrasieë, Nigerië en Suid-Afrika, het dus misluk danksy hul ekonomieë se deurlopende onvermoë om met hul bevolkingsgroei van onderskeidelik 2.6% en 1.3% tred te hou.

Kortliks, die gewone Suid-Afrikaner en Nigeriër is nou slegter daaraan toe as in 2015. In teenstelling was Egipte se ekonomiese groei onder die militêre sterkman Abdel Fattah al-Sisi sedert 2014 konsekwent twee keer soveel as sy jaarlikse bevolkingsgroeisyfer van 2.1 %.

TEELAARDE VIR EKSTREMISME

Dit beteken egter nie dat outokrasie ’n moontlike oplossing vir Afrika se ekonomiese probleme is nie.

Van Sisi se eweknieë soos Paul Kagame van Rwanda of Uganda se Yoweri Museveni mag dalk soos pilare van stabiliteit lyk, maar vanjaar se chaotiese betogings wat Abdelaziz Bouteflika van Algerië en Omar al-Basjir van Soedan uit die kussings gelig het, wys ’n mens wat gebeur wanneer sterkmanne se politieke mag kwyn.

Wanneer Afrika se belangrikste demokrasieë ook sukkel – of dit nou as gevolg van oudpres. Jacob Zuma se beweerde korrupsie is, of Nigerië se Muhammadu Buhari wat toegelaat het dat die land se ekonomie agteruit gaan – word dit al hoe moeiliker om politiese pluralisme as ’n beter alternatief voor te hou.

Ekonomieë wat onderpresteer en ongelykheid baan ook die weg vir populiste – nes in Amerika en Europa – aan die linker- én regterkant van die politiese spektrum.

Kyk maar na die EFF, wat aanhangers van Venezuela se wyle kommunistiese diktator Hugo Chavez is – of die verlinkse Tanzaniese president John Magufuli wat sy bynaam “Bulldozer” met trots dra.

Bevolkingsgroei het wel sy voordele. Die hoë geboortesyfer beteken dat die getal werkende Afrikane elke vyf jaar tot 2050 met 14% gaan toeneem, aldus ’n Brookings-verslag.

In teenstelling is Europa se bevolking besig om te krimp en Asië s’n gaan ook binnekort begin afneem.

Onder hierdie demografiese scenario sal legioene werkende Afrikane bydra tot die vasteland se groei en ontwikkeling en in die fabrieke van die 21ste eeu werk, nes die Chinese werkers aan die einde van die 20ste eeu gedoen het.

Die ongebreidelde bevolkingsaanwas hou egter meer uitdagings as voordele in.

Een daarvan is die tempo van die bevolkingsgroei, veral wanneer jy dit meet teen die betreklik stadige tempo waarteen besluite binne ’n demokrasie gemaak word.

In Niger is die gemiddelde aantal kinders per vrou 7.1, die meeste in die wêreld. Teen hierdie pas sal dié Sahara-land se bevolking meer as verdubbel teen die middel van die 21ste eeu, van 23 miljoen in 2019 tot 70 miljoen in 2050.

Na raming sal Nigerië se bevolking dan tot 400 miljoen groei en sal dit die derde digsbevolkte land in die wêreld wees.

Nog ’n uitdaging is die massiewe belegging wat die vasteland moet maak om die volgende geslag Afrikane meer produktief te maak. As daar nie ordentlike paaie, hawens en ’n spoorwegnetwerk gebou word nie en nie optiese veselkabels aangelê word nie, sal drome van Afrika as ’n gerekende mededinger in die wêreldwye nywerheidsektor net ’n droom bly.

'n Beraming van die Afrika Ontwikkelingsbank in 2018 is kommerwekkende leesstof: minder as die helfte van die sowat US$170 miljard wat jaarliks in Afrika nodig is om infrastruktuur te verbeter, word bestee.

Dan is daar die era van kunsmatige intelligensie wat wag – iets wat die eertydse Chinese leier Deng Xiaoping nie bekommer het toe sy land stadig maar seker van ’n landelike in ’n nywerheidsekonomie begin ontwikkel het nie.

Lande soos Ethiopië met ’n bevolking van 100 miljoen wil graag in China se voetspore volg, maar hulle sal gou moet spring. In minder as ’n dekade kan masjiene groot getalle fabriekswerkers vervang.

As daar nie ander arbeids- of ekonomiese geleenthede tuis is nie, kan miljoene Afrikane hul heil in die noorde gaan soek. Dit sal Europa se onlangse migrasiekrisis soos ’n Sondagskoolpiekniek laat lyk.

* Ed Cropley is ’n rubriekskrywer vir Reuters. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Geingob: Kabinet sien mense se woede oor kurrupsie

2 dae gelede | Regering

Pres. Hage Geingob het vanoggend vanjaar se die laaste kabinetsvergadering gelei.Hy sê die land se topleierskap is bewus van die huidige korrupsiestorm in die visbedryf,...

Von Bach, Daan Viljoen kry water

2 dae gelede | Omgewing

Die Von Bachdam is nou 2,5% voller as Maandag. Teen 09:00 vanoggend het 3,4 m³ water die dam elke sekonde binnegevloei. NamWater het pas ’n...

NHE to build houses in informal settlement

2 dae gelede | Infrastruktuur

The National Housing Enterprise (NHE) has embarked on a pilot study for the construction of houses for qualified land owners living in informal settlements.Speaking at...

Crafting a future

2 dae gelede | Mense

Elizabeth JosephFrancois Wahl studied B.Acc at Stellenbosch University and is a qualified chartered accountant. Since taking the seat as the CEO of Nictus Furnishers, he...

Oordragplanne van Hatuikulipi’s gefnuik

2 dae gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer - Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) het gistermiddag by die aktekantoor in Windhoek beslag gelê op dokumente vir die oordrag van 15 deeltiteleenhede op Swakopmund...

Waarskuwing: Swaar storms tot Saterdag

2 dae gelede | Weer

Elvira Hattingh - Terwyl ’n vrou van Otjiwarongo Woensdag gesterf het toe reënwater haar meegesleur het, waarsku die Namibiese weerkantoor nog swaar storms kan tot...

Highly mechanised

2 dae gelede | Mense

Justicia Shipena Vivacious Marco Swart is a mechanical technician in the packaging engineering department at Namibia Breweries Limited (NBL) - a subsidiary of the Ohlthaver...

Compassion is the new fashion

2 dae gelede | Mense

Evany van WykMarizelle Pienaar lives by the motto, “the more you have to do, the more you get done.” She believes in being a balanced...

Never say never

2 dae gelede | Mense

Mariselle StofbergHester Uushona is a firm believer that being average in life is not an option. She strives towards making her mark while providing others...