Bekende in boubedryf sterf

Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg- Van Wyngaarden Projects word as een van Namibië se mees vooraanstaande boumaatskappye beskou, en is tans een van die grootste Namibiese kontrakteurs met meer as 200 werknemers.

Die afsterwe van mnr. Samuel Jacobus (Cobus) van Wyngaarden verlede Vrydag het dié maatskappy diep geraak.

Van Wyngaarden is op 2 September 1936 in Windhoek gebore. Op die ouderdom van drie het sy pa by die Tweede Wêreldoorlog aangesluit en het die gesin na Kimberley in die Noord-Kaap verhuis.

Ná die oorlog het Van Wyngaarden se pa die plaas Molly 100 km van Gobabis af gekoop en het die gesin teruggetrek Namibië toe. Van Wyngaarden het sy skoolloopbaan aan die plaaslike plaasskool afgeskop en het sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Gobabis voltooi.

Ná matriek is Van Wyngaarden terug plaas toe om vir drie jaar op die plaas te werk, met beeste as betaling.

Die boureus het egter besluit die plaaslewe is nie vir hom nie, en het toe argitektuur aan die Univeristeit van die Vrystaat begin studeer.

In 1958 het hy sy eerste vrou, me. Louise Francis, ontmoet.

Na afloop van sy finale eksamen is hy op 4 Februarie 1964 by die SWA Institute of Architects as argitek geregistreer.

Ná sy gradeplegtigheid het hy by Frank Dixon Architects aangesluit en na Walvisbaai verhuis om hul kantoor daar te bestuur.

Hierná het hy en mnr. Chabus Nel hul eie praktyk genaamd Van Wyngaarden & Nel Architects in Windhoek begin, wat verskeie kerke, skole, biblioteke en huise oraloor Namibië ontwerp het.

Mnr. Terry Paschke het later by hulle aangesluit, en die besigheid het as Expo Construction bekend gestaan.

Van Wyngaarden het Expo Construction later verlaat, en Van Wyngaarden Building Company in 1978 gestig.

Hy het ook verskeie klein woonstelblokke op Swakopmund in die vroeë 80's ontwikkel.

In 1985 het hy 'n erf op Swakopmund langs die munisipale swembad aangekoop en An Der Mole, die eerste groot ontwikkeling op Swakopmund, gebou.

Hierdie groot ontwikkeling is in slegs 12 maande, sonder die moderne toerusting wat vandag beskikbaar is, gebou. In 2006 het Van Wyngaarden Building Company hul bouwerk opsy geskuif om eerder op eiendomsontwikkeling te fokus, waarná die naam na Van Wyngaarden Projects verander is.

In 2011 het Van Wyngaarden op die ouderdom van 75 ’n Kaap-na-Kaïro-reis in ’n 1970-Mercedes met Namibiese vriende aangepak.

Hy het ook met beeste geboer, en het die plaas Richtberg naby die lughawe besit, wat ongeveer 10 jaar gelede verkoop is.

Van Wyngaarden het diep spore in die bou- en eiendomsontwikkelingsbedryf getrap.

Verlede jaar het hy na Stellenbosch verhuis, maar het meeste van sy tyd in Kaapstad deurgebring.

Hy is Vrydagoggend ná ’n kort siekbed op die ouderdom van 82 oorlede.

Hy laat sy vrou, Carmen, vyf kinders, Heiko, Charl, Delia, Arno en Cobus en 11 kleinkinders agter.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!