Behuisingsprojek van N$4,3 miljard uit die blokke

Reusebelegging hupstoot vir ekonomie

16 August 2019 | Sakenuus
Augetto Graig - Die aarde het gister aan die noordoostelike kant van Windhoek begin skud toe stootskrapers en ander swaarvoertuie aan die werk gespring het met die ontwikkeling van 'n N$4,3 miljard-behuisingsprojek.

Oor die volgende vyf jaar sal 4 500 nuwe huise ter waarde tussen N$400 000 en N$900 000 elk, daar gebou word.

Die amptelike sooispitseremonie is Woensdag deur die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, behartig. Volgens hom is die Ongos-projek noodsaaklik vanweë die brandende nasionale terkort aan bekostigbare gehaltebehuising en sanitasie. Hy sê die nasionale agterstand in die voorsiening van huise beloop reeds 110 000, en die aanvraag in die hoofstad groei jaarliks met 4%. Teen 2030 sal Windhoek se inwonertal 645 355 beloop, sê hy.

Volgens hom kom die ontwikkelaars pres. Hage Geingob se oproep na om nasionale ontwikkeling te ondersteun. “Ontwikkeling bring nog ontwikkeling. Sit en niks doen nie, bring niks,” sê hy. “Hierdie jong Namibiërs het gekies om deel van die oplossing te wees om die akute tekort aan bekostigbare behuising in die stad van Windhoek te takel,” sê hy. Die direkteure van die maatskappy is mnre. Americo de Almeida, Isak Nahum, Chris Nieuwoudt en Jarik Botha - almal in hul laat dertigerjare.

Mnr. Reagon Graig, voorsitter van die maatskappy Ongos Valley, sê dié yslike projek word deur Namibiërs vir Namibiërs aangepak. “Vir ons gemeenskappe en vir ons stad,” sê hy.

“Alhoewel die voetwerk ses jaar geneem het, is vandag maar die begin van 'n 20-, 30-, of 40 jaar-projek, wat dalk die res van my leeftyd sal neem om te voltooi,” sê hy. “As dit nie ons is nie, wie dan. As dit nie nou is nie, wanneer dan?” wou hy weet. “Ek verbind my daartoe om dit wat ons belowe, te lewer,” sê hy.

Die Ongos-belofte is om 30 000 huise oor die volgende 20 jaar op 'n gedeelte van 1 743 hektaar van plaas Ongos, wat ses jaar gelede gekoop is, te bou.

Die ontwikkelaars beloof om ook te sorg vir 20 skole, gesondheidsfasiliteite, paaie, vullisverwydering en rioolstelsels deur vennootskappe met kundiges te sluit, sê Graig. Hy sê 4 000 permanente werksgeleenthede en 10 000 deeltydse werksgeleenthede sal geskep word.

Graig het klem gelê op inklusiewe ontwikkeling met gemeenskappe se insette en deelname. Innoverende finansiële oplossings word gevind om die bekombaarheid van die huise te vermaklik, sê hy.

Die verkoopskantoor vir Ongos-huise het Maandag in Windhoek se sentrale sakegebied geopen. Teen eergister is drie kontrakte vir nuwe huise reeds goedgekeur, met tien wat vir goedkeuring wag, sê die besturende direkteur van Nedbank Namibia, mnr. Lionel Matthews.

Nedbank verskaf die finansiering vir die N$1,2 miljard van die eerste fase van die projek. Matthews sê die skaal van die ontwikkeling is groter as wat tot nou toe in die land gesien is. “Die impak op ons nasionale ekonomie in 'n tyd gekenmerk deur finansiële soberheid, gaan groot wees en dit is belangrik om nuwe paaie van volhoubare groei en werkskepping te vind. Die Ongos Valley-stigters verdien al die krediet vir die monumentale ontwikkeling. Americo, jy en jou span is visionêre. Met hierdie tipe jong, talentvolle, passievolle leierskap met integriteit, kan Namibië, en die hele wêreld, net 'n beter plek wees,” sê hy.

Mnr. Martin Inkumbi, uitvoerende direkteur van die nasionale ontwikkelingsbank (DBN), sê Namibië kan nie die vrugte van ekonomiese ontwikkeling vier as die voordele nie families begunstig nie. “Dit is belangrik om die fondament vir toekomstige generasies te lê en die besit van 'n woning is die hoogtepunt daarvan.”

Hy sê Ongos is 'n merkwaardige belegging vir die ontwikkelingsbank in die middeltermyn, maar die bank sien nog kans om dit vir die langtermyn ook aan te pak. “Subkontrakteurs wat hierop werk kan ons ook nader vir finansiering,” sê hy. "As jy die deure vir behuising oopmaak, is ons deur altyd vir jou oop,” sê hy.

Standard Bank Namibië en Absa Bank in Suid-Afrika is ook vernootfinansierders vir die projek.

Soortgelyk

 

8 beeste, 5 elande en 5 buffels vir Heldedag...

2 ure gelede | Gebeure

Otjiwarongo skud sy vere reg vir die viering van Heldedag Maandag en om die verwagte 10 000 besoekers te voed, word agt beeste, vyf elande...

Polisie skiet 'ietermagôsmokkelaar' in die voet

2 ure gelede | Misdaad

'n Man (34) wat 'n lewende ietermagô op Omaruru wou smokkel, lê nou in die hospitaal. Volgens adj.komm. Erastus Iikuyu, koördineerder van misdaadondersoeke in die...

Drama met bultrugwalvis

14 ure gelede | In beeld

Pogings om ’n volwasse bultrugwalvis wat by Onafhanklikheidstrand by Walvisbaai gestrand het, terug in die see te stoot, was onsuksesvol. Volgens me. Dorothy Fourie van...

Imalwa sê oor GIPF-appel

14 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – Die oudvakbondleier en hedendaagse politikus mnr. Evilastus Kaaronda sê hulle oorweeg steeds regstappe teen die aanklaer-generaal, me. Martha Imwalwa, oor die regering...

Mynbestuurder oor oortyd gedreig

14 ure gelede | Misdaad

face="Verdana" >Otis Finck op Swakopmund - ’n Bestuurder van Swakop Uranium, wat die Husab-myn besit, se lewe is weens ‘n oortydbetalingkwessie in gevaar.Mnr. Timo Ipangwela,...

Namibië en Rwanda verstewig bande

14 ure gelede | Ministeries

Pres. Hage Geingob het die hoop uitgespreek dat die Rwandese president, mnr. Paul Kagame, se staatsbesoek aan Namibië vandeesweek stukrag aan die verstewiging van die...

Weer vir 22 Augustus 2019

14 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Ooswindtoestande sal dié week tot in die naweek oor die kusgebiede heers. BINNELAND: Sonnig en baie warm. Winderige toestande sal voortduur. KUS: Sonnig en...

Reënbooghare vir siek kinders

14 ure gelede | Gebeure

Tanja Bause - ’n Twaalfjarige van die hoofstad met ’n groot hart het groot planne om geld vir liefdadigheid in te samel. Lelita Esterhuizen (12)...

Twee keer lewenslank vir vrouemoordenaar

14 ure gelede | Howe

Die man wat in Januarie 2016 twee vroue vermoor en hul liggame op die stortingsterrein wes van die westelike verbypad in die hoofstad verbrand het,...