Beestekort teen 2020
Die droogte en beter verslagtingspryse het vleis- en veebemarking vanjaar die hoogte laat inskiet, terwyl rooi ligte vir die skaapbedryf flikker.
Elvira Hattingh - Die sterk toename in veral beesbemarkingsyfers tot September vanjaar is indrukwekkend, maar nié volhoubaar nie.
Trouens, ’n tekort aan bees word in 2020 op markte verwag, meen mnr. Ace Mutelo, hoof van inligtingstelsels by die Vleisraad van Namibië.
Terselfdertyd het skaapbemarking weer swakker gevaar met skaapuitvoerabattoirs se slagprestasie wat die swakste op rekord is, terwyl lewende skaapuitvoere ook nie toegeneem het nie.
Mutelo sê die langdurige droogte was ’n sterk dryfveer vir die jongste beesbemarkingsyfers. Hy sê plaaslike beesprodusente moes selfs van kuddediere ontslae raak en kuddebestuur toepas - in ooreenstemming met droogtetoestande.
“Sou voorspellings van goeie reëns realiseer, sal beesprodusente voorts op produksie fokus. Hulle sal hul kuddegetalle wil herstel ná hulle soveel daarvan moes verkoop. Dit beteken minder beeste sal in markte beskikbaar wees,” het hy gesê.
Mutelo sê dié mark sal na verwagting eers teen 2021 of 2022 herstel.
Dit volg nadat statistieke wat deur die Vleisraad bygehou word ’n 9,69%-verhoging in totale beesbemarking vir die tydperk tussen Januarie en September vanjaar toon in vergelyking met dieselfde tydperk in 2018.
Altesaam 382 149 beeste is vanjaar tot September bemark in vergelyking met verlede jaar se 348 381 beeste.
Boonop het abattoirs beter pryse vir slagbeeste betaal en het verslagting vanjaar met 83,21% toegeneem. Meatco het in dié tydperk gemiddeld 93,77% van sy slagkapasiteit ingespan.
Terselfdertyd het B- en C-klas abattoirs asook lewende beesuitvoere swakker as verlede jaar gevaar.
Die Vleisraad sê van al die beeste wat plaaslik tot in September 2019 bemark is, is 62% lewend uitgevoer, 29% aan uitvoerabattoirs gelewer en is 9% hiervan aan B- en C-klas abattoirs gelewer.
Vergeleke met verlede jaar het beide die sektore vir lewende uitvoere asook B- en C-klas abattoirs onderskeidelik 10% en 2% van hul markaandeel aan uitvoerabattoirs afgestaan.
SKAAPSEKTOR
Die skaapsektor het weer swakker gevaar – ietwat onverwags vir ’n droogtejaar en ’n aanduiding dat die nasionale skaapkudde krimp.
Volgens die Vleisraad is ’n totaal van 632 067 skape tot in September vanjaar bemark – sowat 3,59% minder as die 655 579 skape verlede jaar in dieselfde tydperk.
Mutelo sê skaapbemarkingsgetalle het ’n langtermyn- afwaartse neiging weens verskeie faktore, maar die onderbreking van die kleinveebemarkingskema gun die mark die geleentheid om te herstel.
“Dit bied beleidmakers ook die geleentheid om na toepaslike beleide te kyk om die sektor te versterk tot waar ons dalk weer ’n miljoen skaap per jaar kan bemark.”
Hy sê ’n swakker lewering van skaap vir plaaslike verslagting is gewoonlik ’n teken dat die Suid-Afrikaanse mark beter betaal.
“Tans is dit nie die geval nie, want hoewel lewering aan plaaslike abattoirs skerp val, het uitvoere redelik normaal gebly. Dit dui dalk daarop dat ons nie meer genoeg skape het nie,” het Mutelo verduidelik.
Hy sê die uitgerekte droogte kan hiertoe bydra, in die sin dat produsente nie meer bemarkbare skape het nie en hul produserende skape, oftewel C-graad skape, begin bemark.
Dit kom daarop neer om jou kapitaal te verkoop, het Mutelo gesê.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie