Beesboere se plan kry lyf

Planne vir groter winsgewendheid, volhoubaarheid

15 September 2021 | Landbou
Elvira Hattingh – Namibiese produsente het die Forum vir die Beesvleis­waar­deketting (BVCF) opdrag gegee om 'n “winsgewende en volhoubare”waardeketting vir die land se beesvleis te vestig – wat die bou van 'n nuwe, moderne uitvoer­abattoir en verwerkingsaanleg insluit.

Die forum se voorsitter, mnr. Mecki Schneider, het in 'n mediaverklaring gesê die stap is belangrik sodat Namibië nie op die ou einde sy nisuitvoermarkte vir beesvleis hoef prys te gee nie. Die verklaring is vroeër vandeesweek aan die media uitgereik.

“Daar moet beklemtoon word die doel is om die aantal lewende speenkalwers wat die land verlaat te verminder deur 'n mededingende prys in die slagbedryf te bied en boonop 50 000 méér beeste te slag.

“'n Omkeerstrategie sal slegs met behulp van markkragte slaag, soos beter slagpryse. Dit sal help dat ons internasionale mark vir hoë gehalte beesvleis nie sy markaandeel verloor nie – iets wat duidelik in 'n vooraf-haalbaarheidstudie uitgelig is.”

Dit volg ná die forum Donderdag 9 September 'n vergadering op Otjiwarongo gehou het sodat die taakspan terugvoering aan sy lede oor onder meer 'n haalbaarheidstudie asook 'n sakeplan kon gee.

“Daar is op 'n moderne uitleg vir 'n abattoir gefokus, terwyl verskeie plekke besoek is en twee persele as moontlike liggings gekies is om 'n ­uitvoerabattoir en verwerkings­aanleg te bou.

“Die sakeplan is ook onderskryf en die komitee is opdrag gegee om om 'n winsgewende en volhoubare sektor vir die beesvleiswaardeketting te vestig,” het Schneider gesê.

Schneider sê lewendehaweprodusente het in 2017 vir 'n haalbaarheid­studie gevra om die tekortkominge en winsgewendheid van beesvleisuitvoere te ondersoek. 'n Vooraf-haalbaarheidstudie is in Maart 2020 voltooi.

“Die studie het duidelik getoon die beesslagbedryf en veral beesvleisuitvoere is nie meer mededingend nie, omdat produsente nie meer 'n mededingende prys vir hul slagbees ontvang nie. Verder het dit gewys produsente skakel noodgedwonge na speenkalfproduksie oor.

“Tans word goeie pryse vir speenkalwers betaal, maar as die neiging voortduur sal Namibiese produsente eindelik 'n belangrike waardeketting verloor waar beesvleis, waartoe waarde toegevoeg is, in winsgewende nisuitvoermarkte verkoop kan word.

“Daarbenewens sal produsente die risiko loop om té afhanklik te raak van Suid-Afrika – 'n eenrigting-uitvoermark na voerkrale vir speenkalwers op die hoef,” het Schneider verduidelik.

“Dit moet beklemtoon word Namibië se beesvleis is bekend daarvoor dat dit gesond is en van goeie gehalte is, omdat beeste op natuurlike weiding grootgemaak word. ­Daarbenewens kry hulle nie groeistimulante, hormone en antibiotika nie.”



PROSES

Schneider sê ná die bevindinge van 2020 se studie het 'n groep bekommerde lewendehaweprodusente in November 2020 op Otjiwarongo bymekaargekom om die pad vorentoe te bespreek. By die vergadering is ooreengekom 'n alternatiewe plan moet gevind word vir winsgewende en volhoubare waardetoevoeging in die beessektor.

Tóé is 'n taakspan met agt lede saamgestel. Die forum se lede vorm die basis en die doelwit is om 'n produsent-gedrewe inisiatief te begin om 'n winsgewende beesvleisuitvoermark te verseker.

“Talle vergaderings is intussen oraloor die land gehou om 'n sterk produsente-basis te mobiliseer. In totaal het meer as 250 lede by ons aangesluit en N$5 000 lidmaatskapgeld betaal.

“Die oorspronklike mikpunt was om N$1 miljoen in te samel om 'n haalbaarheidstudie en sakeplan voor te lê. Eindelik is meer as N$1,9 miljoen deur lidmaatskapgeld asook bykomende finansiering ingesamel,” het Schneider gesê.

Die taakspan is met ses lede vir bykomende ondersteuning aangevul en lede moes verskeie take uitvoer, terwyl konsultante aangestel is om die haalbaarheidstudie te voltooi en die sakeplan op te trek.

Gesprekke is ook met die regering, finansiële instansies en verskeie belangegroepe gevoer om die inisiatief te steun.

[email protected]

FOTO
Die BVCF beoog om mededingende slagpryse te bied sodat boere osse produseer, eerder as wat jong speenkalwers die land verlaat. FOTO ELVIRA HATTINGH

Soortgelyk

 

Mariental-hospitaal kry suurstofaanleg

17 minute gelede | Gesondheid

Die Mariental-hospitaal het 'n skenking van N$7 miljoen van Namib Desert Diamonds (Namdia) ontvang. Die omgewingsvriendelike suurstofaanleg met 'n kapasiteit van 500 liter wat aan...

Kleuter sterf ná pot kookwater op hom val

41 minute gelede | Misdaad

'n Driejarige seuntjie van Mondesa, Swakopmund, is Sondag dood, nadat sy boetie (5) 'n pot kookwater op hom afgetrek het. Volgens die polisie in die...

Bordjies verhang in Duitse verkiesing

6 ure gelede | Internasionaal

Die Sosiaal-demokratiese Party (SPD) het volgens voorlopige uitslae gister se algemene verkiesing in Duitsland met 25,7% van die stemme gewen.Dit beteken egter nie mnr. Olaf...

Klein, maar getrain

13 ure gelede | Landbou

William Klazen junior (5) van Windhoek is gister aangewys as die beste kindertouleier by die Windhoek Skou in die afdeling vir nul tot ses jaar....

Tragedie tref ná rugbywedstryd

13 ure gelede | Plaaslik

Andrew Poolman – Die tragiese heengaan van Edwardo Nell kort ná ’n rugbywedstryd Saterdag is vir FNB Wanderers-klub en die rugbygemeenskap ’n diepe skok.“Ons is...

Nida probeer kraaines oor geldsake ontrafel

13 ure gelede | Ministeries

Jo-Maré Duddy – Die agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) is besig om ‘n regsmening in te win oor sy wetlike verpligting om die mediesefondsbydraes...

Rowers buit byna ’n miljoen in Walvisbaai

13 ure gelede | Misdaad

Dani Booysen en Erongo-redaksie – Die Namibiese polisie het bevestig gewapende rowers het Saterdagoggend by Pupkewitz MegaBuild in Walvisbaai N$943 616,84 gesteel.Vyf mans – twee...

Naweekpret by ‘motorhuismark’

13 ure gelede | Gebeure

Windhoek Express (WE) se eerste Garage Market het Saterdag plaasgevind. Markgangers kon verskeie stalletjies met handgemaakte items en produkte deur plaaslike entrepreneurs besoek, musiek luister...

Weer vir 27 September 2021

13 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die //Kharas-, Kunene- en Khomasstreke. Elders gedeeltelik bewolk en baie warm.KUS: Gedeeltelik bewolk en matig met buie in die...