Baanbrekerswerk in die Namibwoestyn

Jong Ailly se baanbrekerswerk in Namib

29 May 2020 | Omgewing
Elvira Hattingh – Terwyl die res van die wêreld in die Covid-19-pandemie en –inperkings vasgevang is, verrig 'n jong Namibiese meestersgraadstudent baanbrekersnavorsingswerk in die hart van die Namibwoestyn.

En dit op die sentrale Namib se unieke, uiters sensitiewe ligeenvelde.

Vir die navorsing gebruik me. Ailly Nanguloshi Nambwandja (25) van die Gobabeb-navorsings- en opleidingsentrum toonaangewende nuwe tegnologie – hommeltuie.

Dié tegnologie bied aan wetenskaplikes soos Nambwandja 'n geleentheid om omgewingskade in hierdie sensitiewe gebiede te minimaliseer, terwyl betekenisvolle en robuuste data vinnig ingesamel kan word.

Sy genereer ruimtelike data om die reaksie van ligene op vog te monitor en hul fotosintetiese aktiwiteit oor 'n tydperk te meet. Die data van ongerepte gebiede word vergelyk met dié van meer ontwrigte gebiede.



SENSITIEF

'n Ligeen bestaan eintlik uit twee soorte organismes wat simbioties saamleef: 'n alg en 'n swam. Dit vertoon dikwels as kleurvolle patrone op klippe en rotse. Ligene is dikwels baie sensitief vir besoedeling en omgewingsversteuring en word soms as 'n meting vir skoon lug gebruik.

Na raming word 6% van die aarde se oppervlakte met ligene begroei en is daar meer as 20 000 verskillende spesies. Dit word as een van die aarde se oudste lewende organismes beskou.

Maar hoe sensitief is die Namib se ligeenvelde werklik?

“Die spore van ossewaens, wat meer as 'n eeu gelede in die woestyn gelaat is, is steeds duidelik sigbaar,” sê Nambwandja.

“Dieselfde geld vir meer onlangse spore van verkenningsvoertuie in die 1970's, asook nuwe spore in moderne tye waar mense met hul motors in die woestyn ry.”

Sy het 'n kaart gewys wat aandui dat bykans geen ligene voorkom in gebiede wat deur die spore van motors deurkruis word nie.

“Groot rolprentproduksies soos The Flight of the Phoenix en Mad Max het ook hul merke gelaat, al het die maatskappye daarna miljoene aan rehabilitasie van die omgewing bestee.

“Die hergroei van ligene is uiters stadig. Na raming neem dit tussen 50 en 500 jaar om ten volle natuurlik te herstel. Die sukses van kunsmatige rehabilitasie is te betwyfel,” sê Nambwandja.

“Daarom is steuring tydens wetenskaplike opnames ook 'n ernstige probleem.”

KLIMAATSVERANDERING

Sy sê ligeenvelde is bekend daarvoor dat dit koolstofdioksied in die lug verminder en dus is dit een van die belangrikste bepalende faktore teen wêreldwye klimaatsverandering.

“Daar word aangeneem dat die ligene op die rotsagtige gruisvlaktes van die hiper-droë sentrale Namibwoestyn van mis vir fotosintetiese prosesse afhanklik is.”

“Ongelukkig is die verwagting dat klimaatsveranderinge ook veranderinge in die mis gaan veroorsaak, wat nadelige gevolge vir ligeenspesies beteken wat watersensitief is,” het Nambwandja gesê.

Sy meen mynboubedrywighede, toerisme en motors wat in die Namib rondry hou 'n verdere bedreiging vir die Namib se ligeenvelde in.

STUDIE

Nambwandja se navorsing vorm deel van 'n projek deur die Universiteit van Weten­skap en Tegnologie (Nust), met spesifieke take wat aan Gobabeb gesubkontrakteer is.

Sy fokus op die Swartbankrif in die sentrale Namibwoestyn, Namib-Naukluft Park, asook 30 km van Gobabeb (of nagenoeg 100 km vanaf Walvisbaai).

“Ek bestudeer hoe ligene op die veranderende klimaat en mense se bedrywighede reageer deur van hommeltuie se afstandswaarnemingstegnieke gebruik te maak.”

Nambwandja sê sy moet, ná afloop van die studie, 'n tesis vir haar meestersgraad teen die einde van 2021 by Nust indien. Daarna kan die resultate van haar studie in 'n wetenskapsjoernaal publiseer word, by konferensies aangebied word en by die Gobabeb-biblioteek ingesluit word.

Sy sê die eerste stap in haar navorsing is om die navorsingsgebied te karteer.

“Dit wys hoe die terrein, of topografie van die gebied, die verspreiding van die ligene beïnvloed.

“Ek kon reeds sien verskillende soorte ligene groei op verskillende plekke. Hoogliggende, klipperige gebiede het meer ligene as platter gebiede of rivierlope. Dit is omdat die mis die hoër gebiede vinniger bereik,” sê sy.

“Die Namib se ligene verkeer egter meestal in 'n droë, onaktiewe toestand. Hulle fotosinteer net wanneer daar genoeg sonlig, asook vog is. Dié toestande kom meestal slegs vroeg soggens voor wanneer die mis naby aan die grond is,” verduidelik Nambwandja.

Sy sê net voor die son ondergaan, verbeter bevogtiging ook en handhaaf ligene dan weer 'n baie lae vlak van fotosintese.

Nambwandja sê uit vorige studies blyk dit dat ligene vinnig weer 'n dormante fase binnegaan as die son sterk begin skyn.

“Wetenskaplikes se begrip van hoeveel ligene werklik in 'n jaar groei, asook hoeveel koolstofdioksied dit opneem, is nog beperk.”

DEURBRAAK

Nambwandja meen hommeltuie is 'n groot deurbraak vir wetenskaplike navorsing en veral toepaslik in omgewingsnavorsing.

“Dit kan selfs ingespan word vir omgewingsimpakstudies, om stropers te volg, om opnames van habitatte, plante-biomassa en -diversiteit te doen of vir navorsing op dierebevolkings.

“Dit kan help om die gapings tussen bestaande metodes vir lugwaarneming en opmetings op grondvlak te vul,” sê sy.

Boonop is dit 'n kostedoeltreffende manier om data te versamel terwyl dit ook die mens se impak op die omgewing verminder ... “soos in hierdie geval waar daar in sensitiewe, brose en stadig-herstellende ligeenvelde gewerk word,” sê Nambwandja.

Sy sê vir haar studie sal hommeltuie onder meer gebruik word om multispektrale foto's van ligene te neem – wat ware kleurfoto's asook naby-infrarooi en rooi foto's insluit, wat haar in staat sal stel om die fotosintese van ligene waar te neem.

Sy sal so kan vasstel hoe ligene herstel ná 'rampspoedige' gebeurtenisse – soos as motors daaroor ry of erge bergwindtoestande dit beskadig.

Sy sê lugopnames sal tydens en net ná mistige toestande gedoen word.

Nambwandja sê plante wat fotosinteer, absorbeer die meeste rooi lig wat daarop skyn terwyl dit die meeste van die naby-infrarooilig weerkaats.

Plante wat dood is of onder stres is, reflekteer meer rooi lig en minder infrarooi lig.

Sy sê ander oppervlaktes reflekteer die ligspektrum baie meer gelyk.

Sy sê deur 'n foto te bestudeer volgens die hoeveelheid rooi en naby-infrarooi lig wat dit reflekteer, kan 'n indeks opgestel word van hoe “groen” die plantegroei is.

Nambwandja sê haar navorsing sal ook help om standaarde op te stel vir die langtermynmonitering van ligene, asook vir bestuurspraktyke van die uraanryke sentrale Namib.

“Dit lê ook die basis om permitte vir hommeltuignavorsing in parke uit te reik,” sê sy.

Sy sê hommeltuie bied aan Gobabeb en hul vennoot-universiteite reeds nuwe geleenthede om navorsing te doen – wat insluit dat die landskappe en ekostelsels rondom Gobabeb gekarteer is. Data van plantegroei soos die !nara en Welwitschia-plant is ook met behulp van hommeltuie bekom, terwyl dit verder ingespan is vir die 3D-kartering van sandduine.

Nambwandja sê sy het baie oor hommeltuie van plaaslike wetenskaplikes geleer, asook internasionale kenners van Duitsland en Nieu-Seeland, wat Gobabeb besoek het.

Dit sluit in hoe om hommeltuie te vlieg, ekologiese navorsing in die woestyn te doen en meteorologiese metings te doen.

“My betrokkenheid in dié projekte help dat ek nou meer hommeltuigwerk vir Gobabeb kan doen, wat die kartering van oewerplantegroei in die Kuisebrivier insluit. Ons kyk hoe plantegroei in die rivier verander het nadat die rivier in Maart, ná 'n lang droogte, weer begin vloei het.”

Nambwandja sal binnekort ook ander wetenskaplikes oplei om hommeltuie vir hul navorsing te gebruik.

Nambwandja kom oorspronklik van die Ohakwenyanga-nedersetting in die Oshanastreek. Sy het in die Shandumbala-buurt in Katutura grootgeword en is van jongs af passievol oor aardwetenskappe en -waarnemings.

Sy het haar voorgraadse studies by die Universiteit van Namibië (Unam) – 'n BSc-honneursgraad in geo-inligtingwetenskap, met afstandswaarneming as haar hoofvak en ook rekenaarwetenskap voltooi.

Tans werk sy aan haar meestersgraad in natuurlike hulpbronnebestuur by die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust).

Haar toekomsplanne is om op die velde van Geo-inligtingwetenskap (GIS), asook afstandwaarneming (RS) te fokus, waar dit op natuurlike hulpbronnebestuur toegepas kan word. Hierin wil sy onder meer van afstandwaarnemingstegnologie gebruik maak, soos foto's van satelliete, vliegtuie en hommeltuie.

Sy sê haar passie vir die natuur en wetenskap het sy oorsprong in haar begeerte om die invloed van mense op die omgewing te verstaan, asook watter gereedskap beskikbaar is om dit te meet en monitor.

'EWIG NUUSKIERIG'

“Ek was nog altyd nuuskierig oor hoe verskillende akademiese velde soos geografie, omgewingstudies en -bestuur met mekaar verbind is.”

Sy moedig jong mense aan om blootstelling aan die sosiale, ekonomiese en omgewingsaspekte in hul onder­skeie studiegebiede te kry.

“'n Begrip van hoe die stelsels verbind is, sal hul in staat stel om hul akademiese vaardighede uit verskillende gebiede in te span om probleme doeltreffend op te los. Dit sal baie deure oopmaak in 'n land waar werksgeleenthede beperk is,” sê sy.

Sy vind inspirasie in mense wat sy as suksesvolle leiers beskou. Dit sluit in dr. Tjama Tjivikua, stigter-visekanselier van Nust; Jerry Beukes, uitvoerende hoof van die Namibiese Opleidingsowerheid (NTA); Iipumbu Shiimi, minister van finansies, en die belangrikste, dr. Gillian Maggs-Kölling, Gobabeb se uitvoerende direkteur.

“Hulle raai jong mense aan om nuwe tegnologieë te benut en plaas die klem op die idee dat verandering die enigste konstante is.

“Dr. Tjivikua sê die jeug moet vertroud met die sogenaamde vierde nywerheidsrewolusie raak. Hy meen die rewolusie sal meebring dat die die jeug bestuursposisies beklee – en dat hulle kennis gaan benodig om hul take uit te voer. 'Julle is die leiers van môre', is sy boodskap.

“Dit sal onmoontlik wees om myself in die toekoms opgevoed te noem, tensy ek die veranderinge wat tegnologie meebring, kan beïnvloed. Ook moet ek kan byhou met die altyd veranderende behoefte aan nuwe vaardighede vir onder meer probleemoplossing, netwerk en etiese gedrag.”

- [email protected]

Soortgelyk

 

Iran: Kernkragontploffing veroorsaak beduidende skade

2 ure gelede | Internasionaal

’n Kernkragontploffing Donderdag in ’n pakhuis by die Ntanz-aanleg in sentrale Iran het beduidende skade aangerig en kan die produksie van sentrifuges vertraag wat uraan...

Egipte arresteer dokters om kritici stil te maak

3 ure gelede | Internasionaal

Ongeveer tien dokters en ses joernaliste is vanaf Februarie in Egipte in hegtenis geneem omdat hulle die regering van pres. Abdel Fattah el-Sissi kritiseer oor...

Covid-19 knou Media24

5 ure gelede | Afrika

Media24 oorweeg dit om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante...

Kenia heropen grense na 4 maande

6 ure gelede | Afrika

Mnr. Uhuru Kenyatta, die president van Kenia, het Maandag die heropening van dié land se grense “in fases” aangekondig.Internasionale vlugte sal vanaf 1 Augustus...

55 nuwe Covid-19-gevalle bring totaal op 593

6 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê 55 nuwe gevalle van Covid-19 is die afgelope 24 uur in die land...

Twee vas oor olifanttande

17 ure gelede | Misdaad

Volgens die weeklikse wildmisdaadverslag vanaf 29 Junie tot 6 Julie is twee nuwe wildmisdaadsake aanhangig gemaak en vier verdagtes in hegtenis geneem. Mnre. Alfred...

Kleintjies terug skool toe

17 ure gelede | In beeld

Leerlinge vanaf graad 0 tot 3 het gister weer vir aangesig tot aangesig onderrig teruggekeer met leerlinge en ­onderwysers wat opgewonde was om weer by...

Tuiskwarantyn aan kus ’n opsie

17 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan meer buigsaam wees in die kwarantyn van kontakte van bevestigde Covid-19-gevalle in die...

Psemas: ‘Tender sluit almal behalwe Methealth uit’

17 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Dit wil voorkom asof die bepalings van ’n tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, op so ’n manier...