Aussenkehr staar ramp in gesig

Die florerende tafeldruifbedryf by Aussenkehr met sy tienduisende werksgeleenthede is weens swak waterbestuur in die gedrang.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Namibiese regering is versoek om Suid-Afrika te vra om dringend water uit sy opgaardamme vry te laat, aangesien die Oranjerivier by Aussenkehr feitlik opgedroog het en besproeiingsboere se wingerde, dadelboorde en groenteboerderye skade te ly.

Dié gewasse word tans net-net aan die lewe gehou deurdat produsente met spesiale toerusting gate in die rivierbedding boor om syferwater vir besproeiing te bekom.

Produsente is bevrees dié multimiljoenbedryf, wat aan tussen 20 000 en 25 000 mense werk verskaf, se toekoms is in die gedrang as die kommunikasie tussen die regerings van Namibië en Suid-Afrika oor die bestuur van die rivier se vloei nie verbeter nie.

Mnr. Nico van der Merwe, voorsitter van die Namibian Grape Growers Association (NGGA), het gister gesê ’n nuuskonferensie vind vandag op Aussenkehr plaas om die desperaatheid van die situasie onder die regering se aandag te bring.

“Ons het ook reeds ’n brief aan die minister (van landbou, water en bosbou, mnr. Alpheus !Naruseb) geskryf waarin ons hom versoek het om dringend met sy eweknie in Suid-Afrika oor die krisis in verbinding te tree.”

Hy sê Suid-Afrika moet gevra word om water uit die Van der Kloofdam stroomop in die Oranjerivier vry te laat.

“Só ’n versoek kan nie deur ons vereniging of deur ’n waterraad of só ’n liggaam gerig word nie. Dit is iets wat net op regeringsvlak onderhandel kan word,” sê Van der Merwe.

Volgens hom is water onlangs uit dié dam vrygelaat, maar aangesien die vlak van die rivier so laag is, gaan dit Aussenkehr dalk nie bereik nie.

“Die water het Komsberg al bereik, maar ek twyfel of dit tot by ons gaan kom.”

Van der Merwe sê die vrylating moet reg bestuur word.

“Wanneer die rivier so min water het soos nou, moet water wéér kort op die hakke van die eerste vrylating vrygelaat word, anders bereik dit ons nie.”

Wanneer water vrygelaat word, bereik dit Aussenkehr 18 tot 21 dae later. Wanneer die rivier so droog is soos nou, duur dit tot 30 dae.

Hy sê die damme in die Vaal- en Oranjerivierstelsel is tans gesamentlik 70,1% vol. “Verlede jaar hierdie tyd het dit op 64,9% gestaan. Daar is dus genoeg water. Dit word net nie reg bestuur nie,” sê hy.

Van der Merwe verduidelik dat hierdie ’n kritieke tyd in die groeifase van die wingerde en ander gewasse is. “As die wingerde nou dors ly, maak dit nie genoeg vrugte vir die volgende seisoen nie.”

Tafeldruiwe is een van Namibië se vernaamste landbou-uitvoerprodukte. Altesaam 6,8 miljoen kartonne tafeldruiwe van 4,5 kg elk is in die pas afgelope seisoen na die buiteland uitgevoer.

Van der Merwe sê daar is tans 2 360 ha onder wingerde, terwyl oewerboere ook 300 ha groente en 300 ha dadels onder besproeiing het.

“Ons is 23 produsente wat geraak word. Dit is die tafeldruifmaatskappye sowel as die individuele produsente.”

Volgens hom is dit die derde seisoen dat produsente asem ophou omdat die vloei van die water stroomaf in die Oranjerivier nie reg bestuur word nie.

“Ons vra onsself af wat hou die toekoms in en of dit die moeite werd is om uit te brei.”

Hy sê die situasie het nie net op oewerboere en die tafeldruifbedryf ’n impak nie, maar bedreig ook die ekostelsel in die Oranjerivier se mond by Oranjemund. Verder hou dit ook gesondheidsgevare in vir die mense wat langs die rivier woon.

“Omdat die water nie meer vloei nie, is dit nie meer geskik vir menslike gebruik nie. Dit stink en hou ’n gesondheidsgevaar in. Dit is selfs nie eintlik eers meer geskik vir besproeiing nie,” sê Van der Merwe.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!