'As ék kan, kan enige een'

Boogskutter én belowende boerin

08 October 2021 | Landbou
Elvira Hattingh – “As ek aan 'n jong boer of boerin net 'n krieseltjie hoop kan gee: Ek is 'n jong meisie wat geen kennis van landbou of boerdery gehad het of enige graad of studies agter my naam het nie – ek het net begin.

“As ek dit kan doen, kan enige iemand dit doen.”

Só gesels Babette Taljaard, wat beter bekend is vir die verskeie senior nasionale boogskiettitels wat sy al opgeraap het. Sy het Namibië as boogskutter al op 'n wêreldjeugkampioenskap in China in 2013 verteenwoordig, toe weer op die junior en senior Afrika-kampioenskappe in Windhoek (2016) en Luxor, Egipte (2014).

Die 2017 Wêreldjeugkampioenskap in Rosario, Argentinië en die 2019 Senior Wêreldkampioen­skap by Hertogenbosch, Nederland, was haar laaste vertonings in nasionale kleure.

Sy sê sy het aanvanklik gehoop dat boogskiet haar loopbaan sou word, maar die Covid-19-pandemie het vir eers veral oorsese kompetisies tot 'n stilstand geruk. Sy oefen egter steeds voluit in haar vrye tyd.

Intussen is daar geen keer aan dié jong, belowende groenteboer nie.



BOERDERY

Taljaard plant tamaties en groenrissies tussen Julie en Desember en kool in die wintermaande. Vanaf volgende jaar wil sy egter diversifiseer en dalk uie ook as 'n wintergewas plant.

Sy boer op haar ouers se plaas, Veldduin, 110 km buite Grootfontein.

“Ek boer net op een hektaar en probeer om die groente te roteer. Ek deel dit in vier blokke op en kan nie twee seisoene ná mekaar dieselfde gewas op dieselfde stuk grond plant nie – dit gaan daaroor om die voedingstowwe terug in die grond te sit,” het sy gesê.

“Ek ry self die trekker, ek ploeg self en ek stel self die trekker in. Ek strooi ook self die kunsmis. As dit by die oes kom, huur ek stukwerkers.”

Taljaard het een vaste werker en wanneer dit oestyd raak, huur sy tussen tien en 30 werkers.



KWEEKHUIS

Verlede jaar het sy ook 'n kweekhuis vir saailinge gebou. “Ek het eers saailinge in die opelug gekweek, maar dit is moeilik met peste soos motte wat eiertjies lê en die donkies op die plaas wat die saailinge eet.

“'n Mens wil vroeg begin om saailinge te kweek – ek begin 1 Julie. Op dié manier sorg ek dat ek vroeg in die mark kan wees.”

Sy sê sy bestel saad van plaaslike saadmaatskappye en kweek haar eie saailinge in saailaaie met 'n groeimedium.

“Hier is nie 'n kwekery waar 'n mens die saailinge kan bestel nie. As jy dit self doen, is jy ook verseker van die gesondheid van die plant. 'n Gesonde saailing gee vir jou 'n gesonde eindproduk.”

Taljaard lewer tans haar groente hoofsaaklik aan informele straatmarkte op Rundu, Grootfontein, Tsumeb en selfs Otjiwarongo.

Sy maak van drupbesproeiing en boorgatwater gebruik. Tans maak sy nog twee hektaar skoon om groente op te plant en sy hoop om weg van informele markte te kan beweeg.

“Dis 'n bietjie te onvoorspelbaar. As iemand iewers groot plant, word die mark oorstroom. As ek dus met 'n maatskappy 'n kontrak kan sluit wat 'n standvastige afsetpunt bied, sal dit fantasties wees. Hopelik kan ek eendag uitvoer.”



UITDAGINGS

Taljaard sê sy het nog nooit enige negatiwiteit ervaar omdat sy 'n vroueboer is nie.

“Die gemeenskap by wie ek leer, was nog net behulpsaam en help my daar waar ek kennis kortkom. Daarom voel ek nie dat dit 'n uitdaging is om 'n vroueboer te wees nie, maar om 'n groenteboer te wees – beslis. Daar is altyd peste en natuurgebeurtenisse soos reën wat jou land oorspoel.”

Sy sê sy het op 6 Februarie vanjaar haar koolsaailinge uitgeplant – so 4 000 daarvan. 'n Week later het die Omuramba verby haar land begin loop en tussen haar saailinge ingestoot.

“Al my saailinge was onder water en ek het redelik van hulle verloor, maar soos my ma altyd sê – it is for your good and God's glory.”

Taljaard sê sy het toe sowat 100 plantjies verloor, bo en behalwe dat die baie reën veroorsaak het dat van die koolkoppe misvorm geraak het. “Dit was te veel water vir daardie spesifieke variëteit.”



BEGIN NET

Sy sê jongmense wat wil boer, moenie huiwer nie.

“Moet dit nie oordink nie, begin net. Ek het altyd gedink groenteboerdery is nie vir 'n vrou nie, maar moenie jouself onderskat nie. Begin net, spaar geld, kry genoeg inligting en kry vir jou 'n mentor.

“Daar is baie om te leer. Die vinnigste wat jy leer, is deur foute te maak. Jy leer nie uit iemand anders se foute nie. In enige boerdery kos foute geld en jy wil nie geld verloor nie, jy wil eerder geld maak.

“Jy kan ook uit ander mense se raad leer deur dit jou eie te maak,” het sy gesê.

“Ek sal sê begin klein, al is dit net met 'n paar duisend plantjies. Moenie groot begin nie, 'n mens leer deur klein te begin en soos jy leer, kan jy jou produksie groei.”

Taljaard sê afhangende van jou opset, het jy nie so baie kapitaal nodig om met groente te boer nie.

“As jy reeds die grond het en die water is daar, het die deure al oopgegaan. Dan is dit net vir pype koop en kunsmis – as 'n mens klein begin, het jy nie nodig om so baie kapitaal in te sit nie.”

Sy het op 'n plaas grootgeword en het op Tsumeb skoolgegaan. Sy het een jaar ná skool afgevat en toe in 2018 in Potchefstroom gaan studeer, maar moes weens gesondheidsredes terugkeer huis toe. Sy het intussen 'n fotografiekursus voltooi en aanvanklik saam met iemand met groente geboer, voor sy op haar eie begin het.

“Ek dink 'n boer word gebore – ek dink nie 'n mens word gemaak om 'n boer te wees nie. Ek dink daar word seker 'n bietjie ekstra stof van die aarde gebruik wanneer 'n boer gebore word.”

Taljaard sê groenteboerdery is baie intensief. “Ek weet nie hoe ander boere vir weke lank van hul groente kan wegbly nie. As jy jou oë knip oor 'n naweek, broei daar goeters uit wat jy nog nooit eens van gehoor het nie.

“Hoe vinniger jy 'n pes raaksien, hoe vinniger kan jy dit bestry en hoe minder skade ly jy. Hulle sê mos die oog van die boer maak die kalf vet.”

Sy sê 'n groenteboer moet 'n planmaker wees, maar dat daar ook baie hulp en kreatiewe idees op YouTube is wat kan help. “Byvoorbeeld, toe ek 1 Julie met my saailinge wou begin, was daar so een of twee oggende 'n stoute kouefront en ek het gesien dit is nie warm genoeg om optimale groei vir my saailinge te verseker nie.”

Taljaard vertel een oggend het haar termometer in die kweekhuis tot 5 °C gedaal. “Toe moes ek plan maak, ek moes kole warm maak. Dit het kreatiewe denke vereis.”



AANLYN

Taljaard het 'n Instagram, Facebook en YouTube-kanaal van haar boerdery.

“Dit was vir my soos 'n foto-album om na te kan terugkyk oor hoe ek groei. Ook om

na die planne te kyk wat ek al moes maak – wat gewerk het en wat nie, vir as ek iets vergeet.

“Dit het egter intussen 'n platform geraak waar ek ander mense help – mense wat nie gedink het hulle kan so iets doen nie. Ek deel klein stukkies kennis met hulle.”

Haar Instagram- en Facebook-blad se naam is Farmshack en die YouTube-kanaal is Babette Taljaard.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Namibiër met Omicron: Kontakopsporing begin

7 ure gelede | Gesondheid

Ronelle Rademeyer - Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het reeds begin om die mense op te spoor met wie die Namibiese diplomaat wat...

Beleggingswet op ys … vir nou

7 ure gelede | Regering

Brigitte WeidlichDie minister van nywerheidsontwikkeling en handel, me. Lucia Iipumbu, het gistermiddag die konsepwet op die bevordering en fasilitering van beleggings in die parlement teruggetrek...

Somer, swem en lafenis

7 ure gelede | In beeld

Die munisipale swembad in Katutura en die een in Olympia is vanaf verlede Saterdag vir die publiek oop. Ingangsfooie by die swembaddens is N$10,50 vir...

Verdediging trap vas oor ‘geheime’

7 ure gelede | Ministeries

Augetto GraigDie ministerie van verdediging en veteranesake se boeke klop nie en die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge moes gister worstel om antwoorde uit...

Weer vir 1 Desember 2021

7 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm in die suidweste, maar elders gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm met enkele tot verspreide donderbuie in Otjozondjupa en Omaheke....

Geen keer aan brande

7 ure gelede | Ongelukke

Tanja BauseDie brand wat ’n week gelede by die Osona- militêre basis naby Okahandja begin het, het gister laat namiddag nog steeds in die berge...

Vroeë vakansie ná uitgelekte vraestelle

7 ure gelede | Ministeries

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur sê skole gaan vroeër sluit as wat aanvanklik aangekondig is, om streke in staat te stel om voor...

Namibiërs kan derde dosis Sinopharm kry

7 ure gelede | Gesondheid

Henriette LamprechtNamibiërs wat volledig met Sinopharm teen Covid-19 ingeënt is, kan nou vir ’n derde bykomende primêre dosis gaan. Die tydsverloop tussen die tweede en...

Pohamba gekritiseer oor uitsettings vanaf sy plaas

7 ure gelede | Politiek

Augetto Graig en Enzo Amuele Nege en sewentig jaar ná haar geboorte op die plaas Guinaspoh, moet me. Amanda Kairises, haar man Alfred en hul...