“As ek ’n verskil kan maak, moet ek”

Sy is ’n besigheid- en familievrou, ma en iemand wat onselfsugtig vir die gemeenskap werk.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Sy is ons dorp se engel en ons gemeenskap se hoeksteen,” is maar net een van die beskrywings wat mense van Hentiesbaai vir Daleen Agenbag het.

“Ek is net hier en doen die Here se werk,” sê sy beskeie.

Daleen het grootgeword in Gobabis en by die Ernst Meyer plaasskool haar skoolloopbaan begin.

“Dit was heerlik.”

Sy het haar hoërskoolloopbaan by Wennie du Plessis in Gobabis voltooi waar sy in matriek ook die hoofmeisie was.

“Dit is waar netbal deel van my lewe geword het, soveel so dat ek nie veel van die akademiese deel kan onthou nie. Ek het van graad 9 af vir die destydse Suidwes netbal gespeel en in matriek is ek gekies as lid van die Suid-Afrikaanse skolespan wat teen Australië gespeel en die toernooi gewen het.”

Ná skool is sy Vanderbijlpark toe om mode te studeer, maar in haar derde jaar van studies het sy vir die Vaaldriehoek weereens netbal gaan speel.

“Ek het van kleins af vir al my poppe klere gemaak, gehekel en gebrei. Ek het ook al my maatjies in laerskool se teddiebere klaar gebrei en dus het ek gereken om mode te gaan studeer, is ’n goeie idee.”

Sy het in Windhoek by ’n bank begin werk toe sy haar man ontmoet het en Okiep toe getrek het. Haar man was ’n meganiese ingenieur vir die goudmyne in Suid-Afrika en het hulle baie rondgetrek van myn na myn.

Hulle het ook vir drie jaar op Springbok in die Noord-Kaap gewoon waar sy klere ontwerp en gemaak het. Sy het selfs vir die skool op Springbok hul sweetpakke gemaak.

HENTIESBAAI

“Ek dink my ouers het te veel na ons verlang en hulle het ons 25 jaar gelede die geleentheid gegee dat ons in Henties vir onsself iets kan opbou. Eenmaal ’n Namibiër, altyd ’n Namibiër.”

“In 1995 het ons met die SPAR met die helfte van die vloerspasie begin. Ons het in daai tydperk letterlik alles probeer verkoop – met bitter min kennis van die kleinhandelbedryf, soos jy van ons vorige loopbane kan aflei. Maar kleinhandel is ’n passie vir mense en dit is waaroor alles vir my gaan.”

Volgens haar begin alles by die personeel. Hulle het met slegs vier personeellede begin en vandag is tussen 60 en 70 mense by hulle in diens.

“Wat ons die meeste plesier verskaf, is wanneer een van ons personeellede uitstyg en iets bereik. Van ons huidige topstruktuur het as vloerwassers begin en hulself opgewerk tot bestuurders. Sewentig persent van ons personeel is al langer as vyf jaar by ons en een persoon is van die begin af saam met ons; die ander een het verlede jaar afgetree.

“Ons het drie kinders en een pragtige skoondogter wat saam met ons in die SPAR-besigheid is, waarop ons ontsettend trots is. Hulle is so passievol oor wat hulle doen. Ons kliënte het begin familie raak en ons verlang hulle as hulle nie tydens hul vakansies kom inloer nie. Kleinhandel gaan nie oor kos verkoop nie, maar oor die mense.”

GEMEENSKAPSPROJEKTE

Daleen is by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke. Een daarvan is ’n sopkombuis in Omdel-woonbuurt waar sy 15 jaar gelede begin het om vir 80 kinders en ’n paar bejaardes kos te gee. Intussen het die getal veral onlangs met die Covid-19 pandemie tot 300 kinders gegroei.

“Daar is en was oor die jare baie mense hierby betrokke wat dit vir my moontlik gemaak het om met die sopkombuis aan te gaan. Ek is by baie projekte betrokke, maar ek probeer so stil-stil doen wat ek doen.”

Daleen het ’n passie vir kinders en sy kan nie toesien hoe ’n kind moet swaarkry as gevolg van hul ouers se omstandighede of gewoontes nie.

“Kinders is ons toekoms en as ek oor die jare heen net een kind se lewe kon verbeter sodat hy of sy iets kon bereik, is ek tevrede. Ek sien ook by my personeel hoe moeilik dit vir hulle is om hul kinders groot te maak en dan moet ons help en ’n verskil maak waar en soveel ons kan.

“Ons is elke dag geseën en ons kan ons dankbaarheid wys deur te gee. My ma het my geleer jy mag nooit belangriker raak as die man wat op straat sit nie. Jy weet nooit wat sy omstandighede is nie.”

Daleen is by verskeie projekte betrokke, hoewel dit dikwels nie haar projekte is nie.

“Ek dink die Here het my geseën met ’n gawe om te kan organiseer en mense bymekaar te bring. Ons probeer om ons dorp weer optel juis deur te organiseer en mense bymekaar te kry.

“Ek hoop regtig dat ons ’n verskil kan maak en ons dorpie weereens in ’n spogdorp te verander. Waar almal welkom is. Om ’n veilige en rustige hawe vir vakansiegangers te skep sodat hulle uitgerus na hulle alledaagse lewe kan teruggaan. Werk is hier baie skaars en as ons ’n manier kan kry om werk te skep sal dit die dorp ’n beter plek maak.”

Daleen is nou betrokke by die blou Covid-19 huis (Jesus se Hande en Voete Huis).

“Ek sal altyd probeer ’n verskil maak. Gedagtes kom oor my pad. Ek het ’n gedagte uitgespreek en soveel mense het onmiddellik ingespring en begin help. Mense is ongelooflik en help graag as ’n mens vra. Ek glo met my hele hart ons het mense se lewens gered met hierdie huis. Ons het ongelooflike mense wat saam met ons werk om ’n verskil te maak.”

TOEKOMS

“Ek is ’n baie impulsiewe mens en reageer gewoonlik op wat nou gedoen moet word en doen dit. Dis nie altyd ’n goeie ding nie, maar ons hou baie van kamp en toer en ek hoop dat ons dit meer sal kan doen; dat ons meer tyd kry om saam met vriende die land te kan verken. Natuurlik is kleinkinders nou ook baie welkom,” het sy laggend gesê.

RAAD

Volgens haar het elke persoon ’n talent gekry sodat hulle ’n verskil kan maak.

“Die Here het dit vir jou gegee en dit maak nie saak hoe groot of hoe klein dit is nie, dit is gegee sodat jy ’n verskil kan maak en dit vorm ’n ketting. Die ketting kan ’n groot verskil maak, maar as een skakel verlore is, gaan die nie werk nie.

“Doen dit waarvoor jy geroep is. Moet nooit bang wees vir wat mense sê nie. Daar sal altyd kritiek wees; evalueer die kritiek en as dit ongegrond is, steur jou nie daaraan nie en gaan aan met wat jy doen.

“Omring jou met mense wat jou arms kan hoog hou en op wie jy kan vertrou en wat jou deur die moeilike tye kan dra, nes jy vir hulle. Sonder my man en familie, wat ook my personeel insluit, sou ons nie wees waar ons vandag is nie.”

[email protected]


FOTO’S VERSKAF
Daleen Agenbag in Kolmanskop, een van die plekke in die land waaroor sy mal is.
Johan en Daleen Agenbag van Hentiesbaai op ’n dag toe hulle hoedens werk toe aangetrek het om te wys dat die son weer sal skyn
Johan en Daleen Agenbag met hulle kinders en skoondogter Karel, Corne, Sue-Ellen en Inamari.
Daleen Agenbag deel Covid-19 hulppakkies uit aan die gemeenskap van Hentiesbaai.

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!