Antie Nora teer onthou

Geëer vir haar liefde vir Namibië

14 March 2018 | Mense
Denver Kisting - Toe die 77-jarige politieke vuurvreter me. Nora Schimming-Chase gisteroggend om 02:32 sterf, was sy deur haar hartsmense omring.

Haar twee dogters, ­advokaat Esi Schimming-Chase en me. Afra Schimming-Chase, en haar enigste kleinkind, Neo (14), het by haar sterfbed gewaak.

Neo is Afra se seun.

Esi, Afra en Kweku, hul broer, is gister wees gelaat nadat hul pa, dr. William McDonald Chase (84), minder as drie maande gelede op 21 Desember 2017 oorlede is.

Afra het gister aan ­Republikein gesê 'n longinfeksie het uiteindelik haar ma se lewe geëis.

“Dit was net een infeksie té veel.”

Sy sê omdat haar ma in vrede heengegaan het, was hulle ook gereed om haar te laat gaan ondanks hul hartseer.

“Sy het 'n vol lewe gelei en het nie daarvan gehou dat sy (teen die einde) aan 'n bed vasgekluister was en niks vir haarself kon doen nie.”

Huldeblyke het kort nadat die nuus oor die dood van dié boorling van die Ou Lokasie bekend geword het, van oral ingestroom.

Verskeie politici, diplomate, regeringsamptenare en vriende en familie het ook op die gesinswoning in Windhoek se Herzingerstraat in Klein Windhoek toegesak om hulde aan dié bevrydingstrydheldin te bring.

President Hage Geingob het gister by monde van sy woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, gesê Schimming-Chase was 'n leier wat ook gedien het.

Mnr. McHenry Venaani, die leier van die ­amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), sê: “Ons onthou haar politieke vernuf as ongeëwenaar in die eerste generasie vroue van ons republiek.

“Sy was so skerp soos 'n l­emmetjie. Sy het met lewensmoed en deursettingsvermoë vir 'n ­veelparty demokrasie geveg.”

Me. Joyce Mends-Cole, 'n voormalige UNHCR-verteenwoordiger, sê sy het die ontslape aktivis se dapperheid, skerp intellek en haar liefde vir haar familie en Namibië bewonder.

Hulle het mekaar in 1984 in Holland ontmoet toe hulle albei aan 'n twee maande lange slypskool oor die regte, veral menseregte, en ontwikkeling deelgeneem het. Die twee ystervroue het dié vriendskap in 2006 hervat toe Mends-Cole Namibië toe gestuur is.

Die Congress of Democrats (CoD), eens Schimming-Chase se politieke tuiste nadat sy Swapo verlaat het, se waarnemende president, mnr. Vaino Amuthenu, sê hulle onthou haar as 'n beginselvaste kampvegter van die Grondwet.

Volgens ambassadeur Tuliameni Kalomoh was Schimming-Chase 'n raakvatdiplomaat wat 'n mentor was vir jonger diplomate.

“Een van haar bepalende kenmerke was ook haar liefde vir haar land. Met ander woorde, sy was 'n patriot. Daarnaas was sy bekend vir haar skerp intellek en derdens was sy 'n vername diplomaat.”


Mylpale

Schimming-Chase was tussen 1992 tot 1996 die Namibiese ambassadeur in Duitsland.

Sy het in 1961 'n onderwysdiploma aan Universiteit Kaapstad, Suid-Afrika, verwerf en vyf jaar later, in 1966, vang sy graad aan die Vrye Universiteit van Berlyn in Duitsland in politieke wetenskap, Engelse taalleer (linguistiek) en Afrika-letterkunde.

In 1968 het sy 'n magisterprogram voltooi en is tot doktorale studie toegelaat.

Hoewel Engels haar moedertaal was, was sy vlot in geskrewe en gesproke Duits, Afrikaans, Damara/Nama, Otjiherero en kon ook redelik haar vrou in Frans staan.

Sy het ook in drie flieks verskyn – op Duitse televisie in 1984, in 'n BBC ­dokumentêr, Third Eye, en in The Supreme Law oor die Namibiese grondwet.

Schimming-Chase het ook tot verskeie publikasies bygedra.

Naas haar kinders en kleinseun word sy deur haar suster, me. Ottilie Abrahams (80), oorleef.


Laaste ­onderhoud

In haar laaste amptelike media-onderhoud op die vooraand van haar 76ste verjaardag laat in 2016 het Schimming-Chase gesê sy bly 'n trotse Namibiër.

Sy was tydens dié gesprek op haar stoep op haar stukke en het ge­skerts dat die rolstoel nie sigbaar moet wees op die foto nie, “want ek is 'n besige vrou wat nie tyd het vir kuiergaste wat my bejammer nie”.

Hengari het gistermiddag gesê hy kon nog nie 'n aanduiding gee of Schimming-Chase 'n ­staatsbegrafnis gaan kry nie.

Soortgelyk

 

Man sterf op Walvisbaai-Swakopmund-pad

3 ure gelede | Ongelukke

Die 27-jarige Franico Esly Huseb is vandag omstreeks 07:30 dood, nadat die bakkie waarin hy op reis was op die pad tussen Swakopmund en Walvisbaai...

Eksamenuitslae dán bekend

4 ure gelede | Onderwys

Die voorlopige uitslae vir graad 10 (JSC) en graad 12 (NSSC) hoë vlak vir voltydse en deeltydse kandidate word aanstaande Donderdag (20 Desember) amptelik bekendgemaak....

Drie meisies verdrink in sandputte

5 ure gelede | Ongelukke

Die Namibiese polisie in die Ohangwenastreek het ‘n beroep op kontrakteurs gedoen om sandputte toe te stoot wat geskep is met die uitgrawe van sand...

1,6 miljoen toeriste besoek Namibië in 2017

6 ure gelede | Toerisme

Altesaam 2,2% meer toeriste het Namibië in 2017 as in die vorige jaar besoek met meer as 1,6 miljoen buitelandse toeriste wat die land ingestroom...

Studente betaal meer by Unam

6 ure gelede | Onderwys

Die finansiële verknorsing waarin die Universiteit van Namibië (Unam) verkeer, tesame met die algemene ekonomiese vooruitsig vir die land, het die universiteitsraad genoop om klasgelde...

Plunderwoude: Ministerie ontken ongerymdhede

16 ure gelede | Plaaslik

Elvira Hattingh - Die ministerie van landbou, water en bosbou sê die meerderheid permitte wat vir die oes en vervoer van hout uitgereik is, is...

Polisie op sy knieë

16 ure gelede | Polisie

Denver Kisting – Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, sê die land se finansiële verknorsing het die mag op sy knieë.Ndeitunga het...

Avihe-moordenaar het dalk landuit gevlug

16 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – As Avihe Cheryl Ujaha (9) nie deur iemand in haar binnekring vermoor is nie, is haar moordenaar(s) waarskynlik al landuit.Só sê die...

Weer vir 13 Desember 2018

16 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met geïsoleerde buie plek-plek in die noordelike en sentrale dele. Elders sal dit sonnig en baie tot...