Antibiotika, voorbehoedmiddels weer in voorraad

Sowat 75% by Sentrale Mediese Store

19 February 2021 | Gesondheid
Henriette Lamprecht – Die diensvlak van die Sentrale Mediese Store (CMS) aan openbare gesondheidsgeriewe oraloor die land het van 63% verlede jaar in Januarie tot 81% in dieselfde maand vanjaar verbeter.

Ten spyte van uitdagings het die verskaffing van medisyne aan staatshospitale en -klinieke beduidend verbeter, het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, gesê.

Volgens die minister is 370 uit 493 aktiewe kliniese voorrade (75%) tans in voorraad by die CMS. Van die wat nie nou in voorraad is nie, is daar volgens die minister genoeg hoeveelhede by gesondheidsgeriewe oraloor die land.

Uit die 123 kliniese voorrade wat tans nie beskikbaar is nie, is 94 oftewel 76% op bestelling en 16 (13%) is volgens Shangula besig om aangekoop te word. Die oorblywende 11% is gekanselleer omdat verskaffers nie by afleweringsdatums gehou het nie. Die tenders hiervoor sal volgens hom opnuut geadverteer word.

Uit die 585 aktiewe farmaseutiese voorrade is 425 of 75% tans in voorraad. Beperkte hoeveelhede van die 27% wat nie in voorraad by die CMS is nie, is wel by gesondheidsgeriewe oraloor die land beskikbaar. Van die 157 aktiewe farmaseutiese voorrade wat tans nie beskikbaar is nie, is 60% op bestelling en 29% in die proses om aangekoop te word. Die oorblywende 11% is gekanselleer omdat verskaffers nie by afleweringsdatums gehou het nie en tenders hiervoor sal weer adverteer word.

Volgens Shangula verskaf die CMS en gevolglik die ministerie voorrade aan vier verwysingshospitale, 34 distrikshospitale, 44 gesondheidsentrums en 285 klinieke landswyd. Dit kan slegs doeltreffend en voldoende gebeur as verskaffers aan wie tenders toegeken is, hul kontraktuele verpligtinge nakom.

Hy het verwys na verskeie uitdagings tydens die 2020-2021 finansiële jaar om mediese voorrade betyds en gereeld te ontvang. Dit sluit in onderbrekings weens Covid-19 in die verskaffingsketting, die tekort aan aktiewe farmaseutiese bestanddele vir sommige produkte en skommelinge in die aanvraag na farmaseutiese produkte en kliniese voorrade in die lig van die pandemie.

Shangula het beklemtoon die aankoop van medisyne is ’n “komplekse proses”. Namibië moet “letterlik al die medisyne en die meerderheid kliniese voorrade wat ons in die land gebruik, invoer”.

Hy het verduidelik die aktiewe farmaseutiese bestanddele waaruit medisyne vervaardig word, is soms nie in die globale mark beskikbaar nie.

“Wat dan gebeur, is dat dit nie moontlik is om die betrokke medisyne te vervaardig nie en wat tot tekorte lei.”

Medikasie waarvan die voorrade by die CMS vermeerder het, sluit onder meer bloeddrukmedikasie, voorbehoedmiddels, anti-retrovirale middels (ARV’s) en antibiotika in.

[email protected]

Soortgelyk

 

Namibië se Ontplooiings- en Immuniseringsplan "onder die beste...

2 ure gelede | Gesondheid

Namibië se Ontplooiings- en Immuniseringsplan teen Covid-19 is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) as "een van die beste in die wêreld" beskryf. Volgens die minister van...

N$583 miljoen vir Namibië se Covid-19 Ontplooiings- en Immuniseringsplan...

2 ure gelede | Gesondheid

Die totale voorgestelde begroting vir Namibië se Ontplooiings- en Immuniseringsplan vir Covid-19-entstowwe is N$583 miljoen waarvan N$484,8 miljoen vir die aankoop van die entstowwe is....

Covid-19-regulasies geld tot 31 Maart

2 ure gelede | Gesondheid

Pres. Hage Geingob het pas by Staatshuis aangekondig die huidige Covid-19-maatreëls geld vir die volgende 36 dae vanaf middernag tot 31 Maart (Onafhanklikheidsdag op 21...

Knopvelsiekte breek in Omaheke uit

3 ure gelede | Landbou

Knopvelsiekte het by Eiseb in die Omahekestreek uitgebreek en die beweging van beeste in dié gebied is tot verdere kennisgewing opgeskort.Volgens dr. Albertina Shilongo, hoof-veeartsenybeampte...

Metro spoils its customers

5 ure gelede | Plaaslik

Metro Namibia celebrated its birthday in style once again by spoiling five lucky customers each to a trailer of their own, stocked with N$5,000-00 worth...

Vrou woon in haar motor by hospitaal

13 ure gelede | Mense

Henriette Lamprecht – 'n Bejaarde vrou van die kus woon die afgelope week in haar motor in die parkeerterrein van 'n staatshospitaal in Windhoek om...

Toekoms van 77 Air Nam-vlieëniers onseker

13 ure gelede | Vervoer

Francoise Steynberg – Altesaam 77 vlieëniers van Air Namibia se toekoms is onseker. Boonop het bykans 75% van die redery se vlieëniers se lisensies verval...

Ses damme voller as 100%

13 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl altesaam sowat ses Namibiese damme tans 100% of meer water bevat, oorstroom die Zambezirivier sy walle, met water wat in die...

Weer vir 24 Februarie

13 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Wydverspreide donderbuie word in Ohangwena, Oshikoto, Otjozondjupa en Omaheke verwag. BINNELAND: Sonnig en warm in die Suide en Weste, andersins gedeeltelik bewolk en baie...