Antibiotika – Die donker kant

Gevaar van misbruik

31 May 2019 | Gesondheid
Henriette Lamprecht - Meer as 70 jaar nadat Alexander Fleming die eerste antibiotika ontdek het, is weerstandigheid teen die wondermiddel besig om al hoe meer algemeen te raak.

Volgens die sentrums vir siektebeheer en –voorkoming (CDC) word meer as twee miljoen siektes in Amerika jaarliks veroorsaak deur weerstandigheid teenoor medisyne wat voorgeskryf is om bakteriële of swaminfeksies te behandel. Sowat 23 000 mense sterf ook jaarliks wanneer dié medikasie nie meer werk nie. Die sentrum maan as ’n virus jou siek maak, kan die neem van antibiotika jou meer skade as goed doen. Die gebruik van antibiotika wanneer jy dit nie nodig het nie, of wanneer dit nie voldoende gebruik word nie, kan tot weerstandigheid daartoe lei. Dit gebeur wanneer bakterieë verander en daartoe in staat word om die uitwerking van ’n antibiotika te weerstaan.

Fleming, ’n Skotse wetenskaplike, kry die eer vir die ontdekking van die eerste antibiotika, penisillien.

In 1928 het hy opgemerk bakterieë kan nie oorleef op ’n bord met ’n skimmel wat oor die algemeen op brood gevind word nie. Volgens hom was die gevolg danksy ’n verspreibare stof wat deur die muf gemaak word. Penisillien was egter nie tot die vroeë 1940’s vir die algemene publiek beskikbaar nie, toe wetenskaplikes geleer het hoe om groot hoeveelhede penisillien te produseer en skoon te maak. Feitelik gesproke het Fleming moontlik ’n middel herontdek wat voorheen gevind is.

In 1986 het die Franse mediese student Ernest Duchesne antibiotiese eienskappe van die skimmel penisillien gevind, maar nie ’n verbinding tussen die swam en ’n middel gerapporteer wat anti-bakteriese eienskappe gehad het nie.

Penisillien was egter onbekend aan die wetenskaplike gemeenskap totdat Fleming die verskynsel en die middel ontdek en dit penisillien gedoop het.

Anti-mikrobiese weerstand is volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) een van die grootste uitdagings in openbare gesondheid. Hoewel die ontwikkeling van dié weerstand ‘n natuurlike verskynsel is, word die ontwikkeling en verspreiding daarvan versnel deur die misbruik van anti-mikrobiese medisyne (antibiotika), onvoldoende of geen programme vir die voorkoming en beheer van infeksie, swak kapasiteit by laboratoriums, sowel as onvoldoende regulering in die gebruik van anti-mikrobiese medikasie. Die meeste lidlande van die WHO het ook nie ‘n bestaande plan om die weerstand teen antibiotika te takel nie.

Die organisasie het vanaf 2013 tot 2014 ‘n opname in al ses WHO-streke gedoen om onder meer vas te stel wat is die betrokke lidlande se nasionale plan om weerstandigheid van antibiotika te takel, die misbruik van dié medisyne te beheer en ook om bewustheid onder Jan Alleman oor die gebruik of misbruik daarvan aan te wakker. ‘n Totaal van 133 uit die 194 lidlande het inligting vir die opname verskaf. Die meeste lande het ‘n gebrek aan laboratoriums met voldoende, vaardige tegniese personeel, swak infrastruktuur en databestuur en ‘n gebrek aan standaarde genoem as struikelblokke om weerstandigheid teen antibiotika hok te slaan.

Minstens een land in elk van die ses streke het wel ‘n nasionale verwysingslaboratorium gehad wat vir sensitiwiteit vir antibiotika kan toets. Dieselfde lande het ook gesê hulle monitor weerstandigheid teen antibiotika in mense.

Nagemaakte medisyne is in baie van die streke ‘n probleem en die situasie spruit uit swak beheerstelsels en ‘n onvermoë om wette toe te pas. Volgens die opname is die beskikbaarheid van medisyne vir direkte verkope aan pasiënte op byvoorbeeld die internet ‘n probleem in alle streke.

Weerstandigheid en die misbruik van antibiotika kan volgens die verslag toegeskryf word aan onder meer die voorskryf van die medikasie wanneer dit nie vereis word nie, die verkeerde keuse van medikasie of ‘n verkeerde dosis en ook selfmedikasie in lande waar antibiotika vrylik beskikbaar is.

Min lande het ook aangedui dat ‘n stelsel bestaan om die gebruik van antibiotika te monitor en voorskryfpatrone dop te hou.

Die verkoop van antibiotika sonder medikasie was wydverspreid en baie lande het ‘n gebrek aan standaardriglyne vir gesondheidswerkers vir behandeling. Daarom sê die verslag die oorgebruik van antibiotika deur die publiek en die mediese professie bly ‘n potensiële probleem in alle lidlande. In sommige van die lande waar nasionale bewusmakingsveldtogte wel uitgevoer is, was daar steeds ‘n wydverspreide mening dat antibiotika doeltreffend teen virale infeksies ingespan kan word. Dié situasie wek volgens die WHO kommer, veral in lande waar antibiotika vrylik sonder ‘n voorskrif beskikbaar is. Die organisasie maan weerstandige mikro-organismes kan vinnig oor lande, streke en die wêreld versprei, en word gefasiliteer deur globale handel, reise en toerisme.

Swak infeksiebeheer in enige land kan grootliks die verspreiding van middelweerstandige infeksies verhoog, veral tydens uitbrekings van siekte.



Wat is bakterieë?

Bakterieë is baie klein organismes wat nie sigbaar vir die menslike oog is nie. Miljarde bakterieë leef te alle tye in en op mense, diere en plante. Die meeste bakterieë is van hulp vir mense, terwyl ander skadelik is en infeksies kan veroorsaak.

Wat is antibiotika?

Antibiotika is voorgeskrewe medikasie wat bakteriële kieme aanval. Dit is kragtige middels wat bakterieë wat siektes veroorsaak, kan doodmaak of afskakel.

Hoe veilig is antibiotika?

Antibiotika is oor die algemeen veilig en behoort altyd soos voorgeskryf deur ’n dokter gebruik te word. Dit kan egter die doeltreffendheid van ander medikasie verander en ook newe-effekte of allergiese toestande veroorsaak.

Wanneer behoort jy antibiotika te neem?

Antibiotika word voorgeskryf vir siektes wat deur bakterieë en nie virusse veroorsaak word nie. ’n Gewone verkoue en griep word deur virusse veroorsaak waarteen antibiotika nie werk nie. Wanneer dit verstandig gebruik word, is dit ’n kragtige middel om bakteriële infeksies hok te slaan.

Hoe besluit ’n dokter watter antibiotika om voor te skryf?

Dokters ondersoek pasiënte en oorweeg hul simptome om te bepaal of antibiotika voorgeskryf moet word en ook watter een. Dokters kan ook ’n kultuur kweek om te sien of bakterieë ’n sekere siekte veroorsaak.

Moet ek dit ophou drink as ek beter voel?

Die voorskrif dek die tyd wat die pasiënt se liggaam nodig het om hom te help om teen die bakterieë te baklei. Word die medikasie te vroeg gestop, kan die bakterieë nog nie dood wees nie en weer ’n infeksie begin.

Kan ek die antibiotika bêre vir wanneer ek weer siek is?

Antibiotika wat oorgebly het, is nie ’n volledige dosis nie en gaan nie werk om al die bakterieë dood te maak wat die siekte veroorsaak nie.

Wat is antibiotiese weerstand?

Antibiotiese weerstand vind plaas wanneer ’n antibiotika sy vermoë verloor het om doeltreffend bakteriële groei te beheer of dood te maak. Met ander woorde die bakterieë is weerstandig en gaan voort om in die teenwoordigheid van terapeutiese vlakke van ’n antibiotika te vermenigvuldig.

Hoekom raak antibiotika weerstandig tot bakterieë?

Weerstandigheid teen antibiotika is ’n natuurlike verskynsel. Wanneer ’n antibiotika gebruik word, het bakterieë wat weerstand teen die antibiotika bied, ’n groter kans vir oorlewing as dié wat “ontvanklik” is. Ontvanklike bakterieë word deur antibiotika doodgemaak of ingeperk, wat lei tot die druk vir oorlewing van weerstandige stamme van bakterieë. Die huidige hoër vlakke van bakterieë wat weerstandig teen bakterieë is, word voor die deur gelê van die oorgebruik en misbruik van antibiotika. In sommige lande en selfs oor die internet kan antibiotika sonder ’n doktersvoorskrif gekoop word. Pasiënte neem ook soms onnodig antibiotika om virale siektes soos ’n verkoue te behandel.

Hoe raak bakterieë weerstandig?

Sommige bakterieë is natuurlik weerstandig teen sekere tipes antibiotika. Bakterieë kan ook op twee maniere weerstandig raak, naamlik deur genetiese mutasie of deur weerstand van ’n ander bakterieë te bekom. Mutasies - rare, spontane veranderinge van die bakterieë se genetiese materiaal - kom in sowat een in een miljoen tot een in tien miljoen selle voor. Verskillende genetiese mutasies lei ook tot verskillende tipes weerstand.

Hoe versprei antibiotiese weerstand?

Oor die algemeen versprei antibiotiese weerstand deur bakterieëbevolking beide vertikaal wanneer nuwe generasies weerstandige gene erf en ook horisontaal wanneer bakterieë dele van genetiese materiaal met ander bakterieë deel of uitruil. Met betrekking tot die omgewing versprei weerstandigheid soos die bakterieë self van een plek na ’n ander beweeg – op ’n vliegtuig, water en die wind. Mense kan ook die weerstandige bakterieë aan ander oordra deur middel van hoes of kontak met besmette hande.

Kan bakterieë hul weerstandigheid verloor?

Kenmerke van antibiotiese weerstand kan verlore gaan, maar die omkeerproses gebeur stadiger. Sou die selektiewe druk wat toegepas word op die teenwoordigheid van ’n antibiotika verwyder word, kan die bevolking bakterieë potensieel terugkeer na ’n bevolking wat op antibiotika reageer.

Hoe is antibiotiese weerstandigheid skadelik vir mense?

Sou groot getalle bakterieë weerstandig tot antibiotika wees, is dit al hoe moeiliker en duurder om menslike bakteriële infeksies te behandel. Wanneer antibiotika nie meer werk nie, sluit gevolge ekstra besoeke aan die dokter, hospitalisasie en uitgebreide verblyf in hospitale, ’n behoefte vir duurder antibiotika om ouer, ondoeltreffende antibiotikas te vervang, verlore werksdae en soms selfs die dood in.

Hoekom is weerstandigheid tot antibiotika ’n openbare gesondheidsprobleem?

Antibiotika word ook “maatskaplike dwelms” genoem omdat weerstandigheid van bakterieë na bakterieë kan beweeg en weerstandige bakteriële infeksies van een persoon na ’n ander oorgedra kan word. Die gebruik van antibiotika en weerstandigheid kan later ’n hele gemeenskap beïnvloed.

Waarom is antibiotiese weerstandigheid ’n ekologiese probleem?

Wanneer antibiotika in mense of diere gebruik word, word sowat 80 tot 90% van die ingeneemde antibiotika nie afgebreek nie, maar verlaat die liggaam ongeskonde en bereik die omgewing as afval. Die antibiotika behou dus hul vermoë om bakterieë te beïnvloed en bevorder weerstandigheid selfs wanneer dit grond of water as ’n afvalproduk bereik.

Raak mense weerstandig teen antibiotika?

Dit is onwaar en ’n algemene wanpersepsie. Mense kan allergiese reaksies tot antibiotika toon, maar hulle is nie weerstandig tot antibiotika nie. Dit is die bakterieë self en nie die geïnfekteerde gasheer wat weerstandig raak nie.

Hoe ernstig is die probleem van weerstand teen antibiotika?

Die CDC beraam 23 000 jaarlikse sterftes onder Amerikaners en US$20 miljoen in direkte gesondheidskoste is die gevolg van weerstand teen antibiotika. Hoewel die werklike omvang van die probleem onbekend is, word die monetêre koste om antibiotika weerstandige infeksies wêreldwyd te behandel, op miljarde dollars per jaar beraam. Sommige kenners meen omdat weerstand tot antibiotika teen ’n vinniger pas toeneem as wat dit beheer word, die toekoms die tydperk voor antibiotika sal weerspieël. Ander is meer optimisties dat navorsing en die versigtige bestuur van medikasie die neiging kan omkeer, sou globale pogings op die erkenning en beheer van weerstand teen antibiotika fokus.

*Bronne: www.medicalnewstoday.com; www.medlineplus.gov; www.apua.org; www.cdc.gov; www.who.int

Soortgelyk

 

Vyf damme kry water

3 ure gelede | Omgewing

Teen gistermiddag om 14:50 het die Hardapdam nog sowat 289,3 m³ water per sekonde ingekry, terwyl nog drie ander nasionale damme sedert Maandag ‘n inloop...

Lelies begin Sondag blom

13 ure gelede | Omgewing

Belangstellendes kan Sondag weer die lelieskouspel op die plaas Sandhof naby Maltahöhe bewonder wanneer die blomme na verwagting in die kleipan sal begin blom. Die...

Nóg reën word voorspel

13 ure gelede | Weer

Henriette Lamprecht – Met die weerprofete wat nóg reën voorspel, is dit veral die suidelike en sentrale gedeeltes van Namibië wat juig oor hul reënmeters...

Oranje: Oorstromings ‘haas onafwendbaar’

13 ure gelede |

Ronelle Rademeyer – ’n Volgende vloedgolf is in die Benede-Oranjerivier op pad en oewerboere is volgens berigte in die Suid-Afrikaanse media gewaarsku oorstroming lyk nou...

Weer vir 20 Januarie 2021

13 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Tref voorsorg teen wyd verspreide donderbuie.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die Namib en die Zambezi- en Omaheke-streke met enkele buie. Elders bewolk en...

Reën beskadig tente by Havana-projekskool

13 ure gelede | Ministeries

Jeanette Diergaardt – Die Havana Sekondêre Projekskool het gister reënskade gehad nadat reënbuie die aand tevore in die hoofstad uitgesak het. Volgens die onderwysers wat...

Boer oorleef ná windpompstaaf hom deurboor

13 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer – ’n Boer van Gobabis is na bewering Maandagnag op sy plaas deur die stiefseun van een van sy werkers ingewag en toe...

Uitspraak vandag oor omstrede skietvoorval

13 ure gelede | Howe

Augetto Graig – Landdros Taboka Mopipi lewer vanoggend om 08:30 in die hof op Kasane in Botswana uitspraak in die geregtelike nadoodse ondersoek na die...

Toeristegetalle styg in 2021

13 ure gelede | Toerisme

Henriette Lamprecht – Die aantal toeriste wat Namibië verlede jaar besoek het, het met 37,1% teenoor dié van 2020 gestyg. Verlede jaar het 'n totaal...