Allan Gray, die waarde-belegger
Allan Gray, die waarde-belegger

Allan Gray, die waarde-belegger

Die stigter van dié batebestuursgroep is die naweek op 81 dood.
Francois Williams – As jy in 1998 ’n los R10 000 gehad het en dit by die batebestuurder Allan Gray se aandelefonds belê het, sou dit teen einde September vanjaar tot R529 935 gegroei het. Dit is nadat koste afgetrek is.

As dit belê was in ’n teoretiese fonds, wat die gemiddelde van alle ander algemene aandelebeleggingsfondse weerspieël, sou jou R10 000 net tot R173 987 gegroei het.

Allan Gray, stigter van dié batebestuursgroep wat in die naweek op 81 dood is, het sulke soort opbrengste in gedagte gehad toe hy Allan Gray in 1973 in Kaapstad begin het.

Waardebelegging

Gray was by uitstek ’n waarde-belegger, hoewel mense in die binnekringe van Allan Gray eintlik sou sê dit was meer van ’n stroomop-benadering.

Vandag nog is Allan Gray se beleggingsfilosofie volgens hul webblad steeds geskoei op Gray se fokus op deeglike navorsing om beleggings van waarde te vind en dit slegs te koop wanneer dit teen ’n winskopie beskikbaar raak, ongeag die marktoestande.

Gray het by die batebestuurder Fidelity in Boston, Amerika, sy tande as stroomop-belegger geslyp. Daily Maverick berig hoe Gray in 1962, toe die New Yorkse beurs in Januarie met meer as 20% geval en tot Oktober so laag gebly het, in dieselfde tyd sy eie portefeulje met 10% laat groei het.

Piet Viljoen, voorsitter van die batebestuursfirma RECM, het van 1991 tot 1995 by Allan Gray Investment Council gewerk, in die jare toe Gray nog aktief by die onderneming betrokke was.

“Allan Gray was ’n uitsonderlike mens, en ’n uiters bekwame belegger. Ek was gelukkig genoeg om by sy firma aan te sluit toe daar nog minder as 40 mense daar gewerk het.

“Sy beleggingsfilosofie – waarde – het vinnig aanklank by my gevind en diep wortelgeskiet.

“Om in ’n beleggingsvergadering met hom te sit, was insiggewend. Hy het onophoudelik vrae gevra, en sodoende alle aspekte van ’n potensiële belegging deeglik ondersoek.

“Hy het die gawe gehad om die kern van ’n beleggingsargument vinnig raak te vat, uitmekaar te haal, en weer aanmekaar te sit – op ’n manier wat altyd nuwe insigte gebring het,” sê Viljoen oor sy tyd onder Gray.

Viljoen noem die volgende as opsomming van die invloed wat Gray gehad het op hom en ander wat saam met hom gewerk het:

· Sy onwrikbare toepassing van sy spesifieke beleggingsfilosofie van waardebelegging;

· Sy geweldige werksetiek; en

· Sy diepe menslikheid.

“Ons is in én buite die beleggingswêreld vandag baie armer noudat hy nie meer daar is nie,” sê Viljoen.

Beplanner van formaat

Waar sommige batebestuurders hul groot institusionele kliënte soos pensioenfondse soms moet waarsku oor hul sogenaamde “key-man risk” – wanneer die batebestuurder dalk te afhanklik raak van die vernuf en kennis van ’n enkele persoon – het Gray dit anders gedoen.

Hy was bekend as ’n noukeurige beplanner, skryf die batebestuursfirma Allan Gray in ’n kort huldeblyk oor hul stigter. Gray het dus ’n aantal jare geneem om stelselmatig sy verantwoordelikhede aan ander oor te gee, met die vertroue dat sowel Allan Gray as Orbis, die buitelandse internasionale beleggingsfirma wat hy begin het, in goeie hande is.

Die leierskap van Orbis is dus in 2000 aan sy seun William oorgegee, en hy het teen 2010 uit die direksie van Allan Gray bedank. Teen 2012 het hy afstand gedoen van sy oorblywende beleggingsverantwoordelikhede by Orbis en teen 2016 amptelik uit Orbis afgetree.

Geskiedenis

Gray is in 1938 in Oos-Londen gebore. Vandeesweek vertel die sakejoernalis Alec Hogg in sy Biznews-nuusbrief dat Gray afstam van ’n Skotse familie wat hulle in die 1890’s in Butterworth in die destydse Transkei gevestig het. Vandag is die dorp se naam Gcuwa en is dit deel van die Oos-Kaap.

Gray se ouma het volgens Hogg aan die Universiteit van Aberdeen in Skotland gestudeer en was baie bedrewe in wiskunde. Sy het glo sewe kinders grootgemaak, ’n suksesvolle onderneming bedryf en was die eerste vroueburgemeester in Suid-Afrika, wat ook Butterworth se eerste hospitaal laat bou het. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!