Albie Morkel gee die Eagles-kolwers leiding

Krieket

10 January 2019 | Sport
Andrew Poolman - Die aanstelling van Albie Morkel as 'n swaargewig konsultant vir kolfwerk behoort 'n sterk inspuiting vir die Namibiese nasionale krieketspan te wees.

Krieket Namibië het Morkel se aanstelling as 'n spesialiskonsultant vir kolfwerk, effektief vanaf Januarie, gister bekend gemaak – op dieselfde dag dat Morkel op 37-jarige leeftyd sy amptelike uittrede as speler aangekondig het.

Morkel het min bekendstelling in die krieketwêreld nodig, ná 'n lang en suksesvolle loopbaan as veelsydige speler vir Suid-Afrika.

As linkshandige kolwer kon hy op sy beste verwoesting onder enige boulaanval saai, terwyl hy ook met sy regterarm mediumboulwerk waardevolle deurbrake kon maak.

Vir die Proteas het Morkel in 58 eendagwedstryde gespeel (2004 tot 2012), vyftig keer in T20-wedstryde (2005 tot 2015) asook 'n enkele vyfdagtoets in 2009.

Benewens sy internasionale loopbaan het hy 'n verdere 318 wedstryde in T20-ligas wêreldwyd gespeel en is dus een van die mees ervare en gesogte spelers ter wêreld in die kortste formaat.

Hy was onder meer in die Chennai Super Kings se kampioenspan in die Indiese Premierliga.

Sy loopbaan het 'n gesamentlike 13 770 lopies en 742 paaltjies in die verskillende formate van die spel opgelewer. Morkel het sy kant gebring vir beroepspanne soos Oostelikes, die Titans, Chennai Super Kings, Royal Challengers Bangalore, Delhi Daredevils, Rising Pune Supergiants en Durban Heat.

In Engeland het hy vir Durham, Somerset en Derbyshire gespeel.



'VOORTDURENDE ONTWIKKELING'

Peter Forster, die uitvoerende hoof van Krieket Namibië, sê die krieketgemeenskap in die land verwelkom Morkel met ope arms.

“Dié stap is deel van Krieket Namibië se strategiese plan om die prestasie van ons nasionale spanne op die wêreldverhoog optimaal te verbeter.

“Die komende kwalifiserende toernooi in April, die Internasionale Krieketraad se Afdeling 2-toernooi, is nou ons eerste prioriteit.

“Terselfdertyd is ons voortdurende ontwikkeling op alle vlakke ewe belangrik in ons strewe om ons plek op die wêreldranglys te verbeter en meer blootstelling vir elke aspek van Namibiese krieket te verseker.

“Ons is opgewonde dat 'n oudspeler met Albie se gehalte en ondervinding ons op hierdie reis sal bystaan.

“In samewerking met ons nuwe nasionale afrigter, Pierre de Bruyn, glo Krieket Namibië dat ons 'n uitstekende afrigterspan bymekaar gesit het wat verbind is tot die verbetering van alle vlakke van die plaaslike spel.”

Albie Morkel het in die nuusverklaring gesê: “Ek is dankbaar teenoor Krieket Namibië vir hierdie geleentheid. Krieket het deur die jare vir my so baie gegee en vir die kans om nou ondervinding as 'n afrigter op te bou, het ek groot waardering.

“Ek kan nie wag om te begin om waarde tot die Namibiese span by te voeg en om saam met Pierre en die afrigterspan die spelers te ontwikkel nie. Daar is baie op die spel en dit sal wonderlik wees om te sien dat Krieket Namibië sy volle potensiaal bereik.

Pierre de Bruyn, 'n voormalige spanmaat van Morkel by die Titans, is aan die einde van verlede jaar as afrigter van die Namibiese Eagles aangestel.

De Bruyn sê: “As deel van die visie van die hoëprestasieprogram is ek verheug om Albie aan boord te hê. Sy loopbaan spreek vanself en as 'n suksesvolle kaptein van die Titans oor die jare is sal sy kennis en leierskap 'n waardevolle brons tot die spelers se beskikking wees.”

Jacques Faul, uitvoerende hoof van die Titans, beskryf Morkel as een van die mees geliefde krieketspelers in Suid-Afrika.

“Hy het hom bewys as 'n ongelooflike sterk leier en was 'n puik kaptein vir ons, al het talle krieketlui nie gedink hy sou uitstaan as kaptein nie.

“Rob (Walter, eertydse Titans-afrigter) het die kans gewaag om Albie die kaptein in witbal-krieket te maak en ons het onder hom ongekende sukses behaal en verskeie trofeë gewen.

“Hy het baie mense verkeerd bewys met sy leierskap. Albie is beslis een van die beste veelsydige spelers wat Suid-Afrika oor die laaste meer as 'n dekade gehad het,” sê Faul.

Soortgelyk

 

Olifante beskadig optiese kabels naby Khorixas

22 minute gelede | Plaaslik

‘n Trop olifante het inwoners in die Noorde van die land sonder landlyn- en selfoonverbinding gelaat, nadat die optiese kabel tussen Omatjete en Khorixas Donderdagmiddag...

Skietklub lê weer aan

2 ure gelede | Howe

Denver Kisting - Mnr. Norman Tjombe, die regsverteenwoordiger van die Rehoboth-skietklub, het vanoggend (Vrydag) bevestig sake is terug na normaal.Dít kom nadat die Namibiese weermag...

'Boere se veglus verdwyn'

12 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer en Elvira Hattingh - Twee bekende boere van die Suide sê die droogte het boere op hul knieë.“Ek was gister by ’n veiling...

Egpaar herontdek skaars plantjie

12 ure gelede | Omgewing

Denver Kisting – ’n Dekaan by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), dr. Rolf Becker, en sy vrou, me. Alma Moller, het verlede...

Kalender 18 Januarie

12 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) bied met trots Unam se beeldende kunste-uitstalling vir 2018 aan. Dié uitstalling is tans...

'DRK maak staat op ons'

12 ure gelede | Politiek

Inwoners van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) maak staat op lande deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) om die land weer op die...

Operasie Hornkranz: Meer misdaad aangemeld

12 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig Die Namibiese polisie het Woensdag by die Israel Patrick Iyambo-polisiekollege in Olympia terugvoering gegee aan die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, en die...

Weer vir 18 Januarie

12 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die //Kharasstreek, andersins gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar tot geïsoleerde donderbuie in...

'Die beste tyd van my lewe'

12 ure gelede | Kuns en vermaak

Lloyd ZandbergDie 22-jarige gebore Namibiër Kyle Farrer verwys na homself as koel en kalm. Jy kan dit aan sy voorkoms sien. Eenvoudig, maar deurdink, ‘n...