Al dieper in die rooi
Namibiërs se persoonlike lening- en kredietkaartskuld groei nou reeds meer as twee jaar teen dubbelsyfers.
Jo-Maré Duddy
Vuisvoos verbruikers neem toenemend hul toevlug tot kredietkaarte en persoonlike lenings en was teen die einde van November met bykans N$6,3 miljard in totaal hiervoor by plaaslike banke in die rooi.
Dít is amper N$1,3 miljard meer as 'n jaar gelede.
Afgesien van die bogenoemde skuld het verbruikers se oortrokke bankrekeninge teen die einde van November in totaal bykans N$3,1 miljard beloop. Totale paaiementskuld was meer as N$6,7 miljard.
Die jongste syfers wat deur die Bank of Namibia (BoN) vrygestel is, toon “ander lenings en voorskotte” by banke, wat kredietkaartskuld en persoonlike lenings insluit, was aan die einde van verlede maand bykans 19,6% hoër as in November 2017. Dit is die hoogste groeikoers op 'n jaargrondslag sedert Mei 2017.
Persoonlike lening- en kredietkaartskuld groei nou reeds meer as twee jaar teen dubbelsyfers.
Tot dusver vanjaar het verbruikers dié skuld elke maand met gemiddeld N$88 miljoen opgejaag.
Verlede maand het verbruikers sowat N$128,7 miljoen se persoonlike lenings en kredietkaartskuld aangegaan – die derde hoogste bedrag in 2018. Augustus was die piekmaand met N$201,1 miljoen se nuwe persoonlike lening- en kredietkaartskuld, naas Julie met N$162,4 miljoen.
Ander skuld
Die koers waarteen oortrokke rekeninge en paaiementskuld op 'n jaargrondslag groei, is egter nie onrusbarend nie. Vergeleke met November 2017 was oortrokke rekeningskuld sowat N$26,7 miljoen, of 0,9% hoër.
Ná die Bank of Namibia (BoN) maatreëls soos verpligte deposito's en korter terugbetalingstermyne op onder meer voertuiglenings ingestel het, groei paaiementskuld teen 'n negatiewe syfer.
Verbruikers se totale paaiementskuld aan die einde van November was sowat N$491 miljoen, of 6,8% minder as dieselfde maand in 2017.
Huisleningskuld, wat deur die sentrale bank as produktiewe skuld beskou word, het verlede maand op bykans N$38,3 miljard gestaan. Dit is amper N$2,5 miljard, of 6,9% meer as November 2017.
In totaal het verbruikers plaaslike handelsbanke verlede maand bykans N$56,3 miljard geskuld – amper N$3,3 miljard, of 6,1% meer as 'n jaar gelede.
Die jongste beskikbare inligting van die Namibiese Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings (Namfisa) toon verbruikers se totale skuld by geregistreerde mikroleners in die land aan die einde van Maart vanjaar was sowat N$5,6 miljard.
Dit is bykans N$1,2 miljard, of 27% meer as in Maart 2017.
Die BoN se jongste finansiële stabiliteitsverslag, wat in April vanjaar vrygestel is, toon verbruikers gebruik N$83,30 uit elke N$100 se besteebare inkomste in hul sak om skuld te delg.
Beide die BoN en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het hul kommer oor verbruikers se skuldlas uitgespreek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie