Akkerbouers skep moed

Sowat 90% van lande in die Mieliedriehoek is onder mielies geplant en ‘n kenner verwag goeie oeste.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Terwyl die Namibiese weerkantoor sê meer reën is dalk vandeesweek op pad, meen plaaslike mielieprodusente hul vooruitsigte het intussen drasties verbeter.

Mnr. Gernot Eggert, voorsitter van die Akkerbouprodusente-vereniging (APV), het gister aan Republikein gesê waar vooruitsigte enkele weke gelede baie sleg gelyk het, het die reën wat die afgelope week veral in die Mieliedriehoek voorgekom het, die situasie drasties verbeter.

Intussen het die weerkantoor se hoofweervoorspeller, mnr. Odillo Kgobetsi, gesê hulle verwag vandeesweek nog reën oor die Noordooste, asook die sentrale, oostelike en suidoostelike dele van Namibië, alhoewel droë toestande na verwagting oor die noordwestelike dele sal bly heers.

Dit volg nadat verskeie dele van die land sedert die naweek goeie reën ontvang het en die Nautedam se sluise ook gistermiddag oopgemaak moes word toe die damvlakke 104,1% bereik het.

GOEIE OESTE VERWAG

Eggert sê mits akkerbouprodusente genoegsame opvolgreën kry, kan tot 80% van bewerkte lande voorts goeie opbrengste lewer.

Eggert sê daar is op die meeste lande in die sentrale vallei naby Grootfontein geplant, terwyl minder lande in die meer marginale gebiede noord en suid van die vallei bewerk is.

“In totaal skat ek dat akkerbouers in die Mieliedriehoek, met láát aanplantings ingesluit, op sowat 90% van die lande geplant het.

“Die eerste droëlandmielies het ‘n bietjie swaar gekry, maar ons reken dat sowat 80% van die lande redelik goeie oeste sal lewer.

“Boonop het ‘n groot gebied in die Mieliedriehoek laasnag, asook die afgelope week goeie reën gekry,” het Eggert gesê.

Eggert sê nog reën later in die seisoen is belangrik. “Mielies is in hul mees kritieke stadium wanneer hulle in die saad kom en daarom hoop ons op nog reën.”

TE LAAT VIR GRONDBONE

Hy sê die reën was egter te laat vir die grondboontjieboere en om hierdie rede is bykans geen grondboontjies noord van Grootfontein, by Gobabis en Summerdown, geplant nie. “Grondbone moet vroegseisoen reeds in die grond wees,” het hy gesê.

“Wat die mielies betref, was die reën wel nog betyds. Droëlandmielie-aanplantings op Summerdown is vanjaar egter ook heelwat minder, want die Ooste se reën was baie laat,” het Eggert gesê.

Tydens ‘n bestuursvergadering verlede week het die APV die hoop uitgespreek dat die Akkerbouraad (NAB) se Harambee-program vir Surplus Droëlandgraanproduksie sal realiseer. Eggert sê produsente glo die skema is uitstekend en dat dit tydens rampdroogtes groot verligting vir akkerbouers sal bring.

“Dit kom daarop neer dat die regering tydens rampdroogtes ‘n gedeelte van boere se insetkoste sal dek. Dit sal bykans soos ‘n tipe oesversekering werk,” het Eggert verduidelik.

Hy sê akkerbouers is steeds bekommerd dat vanjaar ‘n rampjaar kan wees en is daarom gretig dat die skema op die been moet kom. “As akkerbouers vanjaar weer deur droogte geteister word, sal daar verskeie produsente wees wat nie weer sal kan plant nie.

“Ons aanvaar dat kommersiële boere dalk nie ‘n prioriteit is as die staatskas leeg is nie. Die reën het egter nou gekom en ons sal moontlik kan deurtrek. Enkele weke gelede het die situasie baie slegter gelyk,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!