Air Nam nié 'n geldlas

Die nasionale lugredery mag wel jaarliks miljoene dollar in subsidies van die belastingbetaler opslurp, maar dit is nie ‘n ekonomiese meulsteen nie, sê kenners van Oxford.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Sonder tien van Air Namibia se internasionale en streekvlugte sou die land in 2015-’16 bykans N$2 miljard en meer as 2 000 werkgeleenthede armer gewees het.

Dit is die bevinding van Oxford Economics, toonaangewende konsultante verbonde aan Oxford Universiteit se sakekollege, in ‘n verslag wat gister in Windhoek vrygestel is.

Word net Air Namibia se finansiële state vir 2015-’16 gebruik en die regering se subsidie van N$579 miljoen in berekening gebring, het die nasionale lugredery in dié begrotingsjaar nie ‘n enkele sent tot die Namibiese ekonomie bygedra nie. Inteendeel, dit het N$263 miljoen daaruit onttrek, luidens die verslag.

Air Namibia se impak op die ekonomie kan egter nie net hieraan gemeet word nie, sê Oxford Economics. Dié dinkskrum se berekeninge toon Air Namibia het in 2015-’16 direk én indirek in totaal meer as N$3,6 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (GDP) bygedra. Boonop het dit direk en indirek 8 950 werkgeleenthede verseker.

Air Namibia se “ambisieuse” uitbreidingsplanne kan sy direkte en indirekte bydrae tot die ekonomie teen 2020-’21 met bykans 70% verhoog, meen die konsultante. Dit beteken sowat N$6,1 miljard (in 2015-’16-pryse) en 14 000 werkgeleenthede.

Oxford Economics kategoriseer dié totale bydrae onder geleerde terme soos kern-, katalitiese en konnektiwiteitsimpak. Basies is die som vir 2015-’16 só saamgestel: N$704 miljoen uit Air Namibia se kernbedrywighede, asook goedere en dienste wat plaaslik bekom is. Hieruit het belasting van N$316 miljoen na die staatskas gevloei. Toeriste wat danksy Air Namibia die land besoek het, het N$971 miljoen tot die BBP bygedra én vir belasting van N$245 miljoen gesorg.

Deurdat die lugredery Namibië met ander lande verbind, word sake, handel en belegging en dus produktiwiteit plaaslik bevorder. Oxford Economics sê dié konnektiwiteitsimpak het in 2015-’16 vir N$1,4 miljard in die ekonomie gesorg.

Werkgeleenthede wat in die jaar onder oorsig verseker is, is: Werknemers van Air Namibia (750), werknemers van plaaslike ondernemings wat goedere en dienste gelewer het (2 700), en werknemers van ondernemings waar eersgenoemde twee groepe hul geld as verbruikers bestee (1 100). Voorts is 4 400 werkgeleenthede in die toerismesektor verseker.

Sonder Air Nam

Oxford Economics het tien vlugte van Air Namibia gebruik om die impak op die ekonomie te bepaal indien dit afgeskaf word: Van Windhoek en Walvisbaai na Frankfurt, Kaapstad, Johannesburg, Maun, Victoria Falls, Harare, Lusaka en Luanda.

Sowat 475 000 passasiersreise sou in 2015-’16 in die slag gebly het indien dié vlugte nie plaasgevind het nie, luidens die verslag. Hiervan sou sowat 378 000 Air Namibia-passasiers nie direkte vlugte op die bestaande netwerk kon kry nie en sou van indirekte vlugte met bykomende aansluitings gebruik moes maak.

Hoewel indirekte vlugte dikwels goedkoper is, beteken dit meer en langer vlugte en dus meer tyd en geld. Die koste verbonde hieraan beteken sommige passasiers sou glad nie hul reis aangepak het nie.

Oxford Economics se berekeninge toon Air Namibia se passasiersgetalle sou in 2015-’16 met 48% getuimel indien die redery nie die tien vlugte aangebied het nie. Dit beteken meer as 226 000 passasiers minder. Hiervan is 115 000 reise na Namibië, waarvan 79 000 nie-Namibiese passasiers is.

Volgens Oxford Economics sou dié verlies toerismeverdienste met meer as N$480 miljoen laat val het. Dít sou die BBP met N$452 miljoen laat krimp het én N$114 miljoen minder in Jan Taks se sak beteken het. Meer as 2 000 werkgeleenthede in toerisme sou ook in die gedrang wees.

Vlugte na veral Frankfurt, Johannesburg en Kaapstad is deurslaggewend vir Air Namibia se konnektiwiteitsimpak. Sonder die tien vlugte sou die ekonomie in 2015-’16 dus ook N$1,4 miljard armer gewees het, sê Oxford Economics.

“Die resultate van ons ontleding benadruk die geweldige belangrikheid van Air Namibia vir die ekonomie. Hoewel die lugredery ‘n subsidie van die regering ontvang, skat ons dit word bykans als deur die bruto belastinginkomste verhaal wat deur die redery gegenereer word,” sê Oxford Economics.

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!