AG en bank trek tou oor Fishrot-bates

'Meesterbreine' se luukshede in kollig

08 June 2021 | Howe
Jemima Beukes en Mathias Haufiku – Minstens 23 voertuie ter waarde van N$24 miljoen, wat binne die bestek van ses jaar aangekoop is, is die middelpunt van 'n hofstryd tussen die land se grootste handels­bank en die aanklaer-­generaal (AG).

Die vloot behoort aan die neefs mnre. Tamson en James ­Hatuikulipi; die voormalige minister mnr. Sacky Shanghala, en mnr. Ricardo Gustavo.

First National Bank Namibia (FNB) veg verbete om te keer dat die AG, me. Martha Imalwa, bates in die besit van die Fishrot-beskuldigdes verkoop wat deur FNB gefinansier is – insluitend huise en motors.

Ons susterkoerant Namibian Sun het hofstukke onder oë gehad wat verlede week ingedien is en verband hou met die saak wat wys hoe dié viertal tussen 2013 en 2019 'n groot verskeidenheid motors aangekoop het.

Gedurende dié periode het Tamson 13 motors met 'n gesamentlike waarde van N$14 miljoen gekoop; James sewe ter waarde van N$7,5 miljoen; Shanghala twee ter waarde van N$2,5 miljoen en Gustavo een teen N$505 000.

Die inligting oor hul vloot het aan die lig gekom nadat die Teenkorrupsie­kommissie (ACC) groot plaaslike motorhandelaars soos M+Z Motors, Jaguar Land Rover en Pupkewitz Toyota ontbied het om inligting te openbaar oor voertuie wat die vermeende Fishrot-meester­breine gekoop het en hoe hulle daarvoor betaal het.

Dié in hul binnekringe beweer dít is nie die enigste voertuie wat aangekoop is deur die viertal nie, wat tans in aanhouding is weens hul ­beweerde rol in die land se grootste vissery­skandaal ooit, waardeur hulle glo omkoopgeld van meer as N$150 miljoen ontvang het.

Die Hatuikulipi-neefs het meestal hul voertuie deur hul maatskappye en trust-entiteite gekoop.



MILJOENDOLLAR-DEPOSITO'S

Die presiese besonderhede van hoe die vier hul luukse vloot gekoop het, soos vervat in Imalwa se beëdigde verklaring, verduidelik hoe hulle kontantdeposito's van tot N$1,6 miljoen sou betaal om hul droommotors te koop.

Daar word ook uiteengesit hoe Shanghala in Oktober 2019 – tydens sy ampstermyn as ­-generaal (PG) – binne tien dae 'n luukse Range Rover en 'n Land Rover ­Discovery ter waarde van onderskeidelik N$2,4 miljoen en N$742 000 gekoop het. Hy het 'n kontantdeposito van N$1,02 miljoen vir die Range Rover betaal. Sy jaarlikse salaris as PG was destyds ongeveer N$940 000.

Tamson het tussen 2013 en 2018 net meer as N$10 miljoen bestee op vyf Mercedes Benz-spogmotors.

Toe hy in September 2018 'n ­Mercedes Benz E63 AMG gekoop het, het hy 'n deposito van N$1,6 miljoen neergesit en die oorblywende bedrag is deur Standard Bank Namibia gefinansier.

Op 3 November 2017 het hy 'n Lexus 450 teen N$1,5 miljoen deur sy maatskappy, JTH Trading CC, gekoop en in die naam van sy vrou, me. Johanna Ndapandula Hatuikulipi, geregistreer. Sy is die dogter van die voormalige minister van visserye, mnr. Bernhard Esau.

Nog N$150 000 is betaal deur sy ander maatskappy, Erongo Clearing and Forwarding, en die ­oorblywende N$1,35 miljoen is uit sy persoonlike FNB-rekening betaal.

FNB Namibia se regsadviseur, mnr. Taswald July, het na Imalwa gekap en daarteen beswaar gemaak dat sy ­die verbandskuld van die Fishrot-­beskuldigdes by die saak betrek het.

Die bank voer aan Gustavo en Tamson (deur sy maatskappy JTH Trading) skuld FNB gesamentlik minstens N$5,3 miljoen vir huis- en motorlenings.

Tamson se bates ter waarde van N$2,6 miljoen is steeds aan die bank gekoppel, terwyl Gustavo N$2,7 miljoen skuld.

Die bank vrees dat hy geld kan verloor as die AG voortgaan om die eiendomme te verkoop, en hou vol dat hy 'n voorkeurreg het oor die verbandlenings wat op elk van die vaste eiendomme geregistreer is, en dat die bank ook eienaarskap van die voertuie moet hê totdat die betaling ten volle afgehandel is.

Die AG hou egter vol dat FNB geen rede tot kommer het nie, aangesien die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad voldoende ­meganismes insluit om die belange van die bank te beskerm.

Imalwa het ook die bank se wigte en teenwigte bevraagteken nadat sy verneem het dat Tamson se FNB-­gefinansierde voertuie in sy naam geregistreer is en nie in dié van JTH Trading, wat vir die voertuie betaal het nie.

Sy het bygevoeg FNB moes besef het Tamson is 'n polities-bloot­gestelde persoon.

Dít nadat die bank in sy beëdigde verklaring gesê het “dit het nie voorgekom asof hierdie bates enige iets met onwettige aktiwiteite te doen het nie”.



OPDRAANDE STRYD

July het in sy beëdigde verklaring wat vroeg in April ingedien is, gesê die bank het geen rede gehad om te vermoed dat dié bates of betalings wat aan FNB gemaak is, deur ­kriminele aktiwiteite gefinansier is toe die lenings vir die verkryging en betalings van die bates toegestaan is nie.

Hy het ook gesê die AG se ­beperkingsbevel is nie soos gewoonlik deur die balju of sy adjunk aan FNB ­uitgereik nie, en ook nie die lys van eiendomme wat aangeheg is nie, wat 'n lys van FNB-bates ingesluit het.

“As die strafregtelike verhoor verder uitgerek word en die kliënte nie hul betalingsverpligtinge nakom nie, kan FNB dalk nie met die verrigtinge begin om betalings te ontvang nie,” het hy gesê.

Hy sê hoewel 'n mate van beskerming vir FNB in die bepalings van konsultasies in plek is, maak die beperkingsbevel tans die verkoop van FNB-versekerde bates moont­lik sonder om die bank se belange in daardie bates te beskerm.

Volgens July het die afwesigheid van die batelys – wat ook nie op die elektroniese regstelsel beskikbaar was nie – die beperkingsbevel ongeldig gemaak. Hy sê die PG moes geweet het FNB het belange in sommige van hierdie vaste eiendomme.
[email protected]

Soortgelyk

 

27 sterftes, 1 649 nuwe gevalle

22 ure gelede | Gesondheid

Die sterftesyfer skiet met nog 27 - nege in Rehoboth, agt in Windhoek, drie in Keetmanshoop, twee in Walvisbaai en een elk in onderskeidelik Karasburg,...

Mental well-being suits us all

2 dae gelede | Mense

DR JOHN STEYTLERMental health is a subject which we are only starting to scratch the surface of in Namibia and it is not talked about...

Diva of finesse and fitness

2 dae gelede | Mense

Jeanette DiergaardtLiezel Ndjaronguru, a 32-year-old businesswoman, allows fitness enthusiasts to bring their best attitude to the table when working out. In 2013 the owner of...

Bonifatius Kantori Paulino is the Managing Director at Alexander...

2 dae gelede | Mense

Wetumwene Shikage Since Paulino joined Alexander Forbes, he spent some time to familiarise himself with the areas of responsibility of the position of...

Streng vereistes vir gebruik van blitstoetse

2 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) het opgedateerde regulasievereistes vir die verkoop, verspreiding en gebruik van antigen-blitstoetse vrygestel.Die NMRC sê antigeen diagnostiese blitstoetse (Ag-RDT’s)...

Sterftes neem sesvoudig toe

2 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die Covid-sterftes vir Namibië het bykans sesvoudig die afgelope ses maande toegeneem – vanaf 16 sterftes per week in Desember verlede jaar...

'Woestynpsalm' nou in pylvak

2 dae gelede | Byvoegsels

Bosman Films, 'n jong produksiemaatskappy in die Namibiese filmbedryf, het opgewonde aangekondig dat produksie vir hulle eerste film, Woestynpsalm, onlangs afgehandel is. Woestynpsalm is 'n...

High-flyer Samantha Geyser soared to customer service executive at...

2 dae gelede | Mense

Staff reporterSamantha Geyser dreamed of becoming a pilot when she was a young girl. She admired Amelia Earhart for her achievement of being the first...

Gweri Vintage Collection – the brand that keeps on...

2 dae gelede | Mense

Zulu Boy sets the trend for creativity Created by Namibians for international consumption The Gweri Vintage Collection is a brand focused on providing exclusive and...