Afrika-ritme klop in Nederland

Boorling van Rundu neem oorsese verhoë op horings

12 January 2018 | Kuns en vermaak
Tanja Bause – Sy was ’n doodgewone meisie van Rundu. Tot sy ses jaar gelede Nederland toe getrek het om haar musiekdroom ’n werklikheid te maak en om die liefde van haar lewe te volg.

Nou is sy die hoofsanger van die gewilde Danella Smith Band in Den Haag. Sy en haar vier groeplede het ’n bedrywige program en het al selfs in Parys (in Frankryk) op ’n verhoog gestaan met hul Afrika-geïnspireerde musiek.

Danella, die jongste van drie kinders, is in 1981 in die noorde van die land op Rundu gebore. Toe sy een jaar oud was, het haar ouers, Hanne-Dore en JJ, sak en pak Windhoek toe getrek.

In die Deutsche Schule Windhoek (vandag Laerskool Delta) het sy as graad eentjie vir die eerste keer met musiek kennis gemaak en die blokfluit begin speel.

Dit is hier waar sy haar liefde vir musiek ontdek het.

Danella het grootgeword soos elke tipiese Namibiese kind – na aan die natuur en tussen diere.

“My kindertyd was wonderlik. Ek het baie vriende gehad en baie buite gespeel, geswem en die natuur verken. Vakansies het ek gewoonlik op my oupa en ouma se plaas saam met familie deurgebring. Daar was altyd ’n magdom diere om my en in my lewe,” sê sy.

’n Paar jaar later het haar ouers weer getrek - dié keer Otjiwarongo toe. Hier was Danella vir twee jaar op skool voor sy haar skoolloopbaan aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl, in Suid-Afrika, voltooi het.

“Ek het van die eerste oomblik wat ek begin het om ’n instrument te speel, daarvan gehou. Ek het dit onmiddellik geniet. Om te oefen, was nooit werk nie, maar baie pret en plesier. Dit was nog altyd baie maklik om die musikale reis te geniet,” sê sy.

Danella het ook in die skoolkoor gesing. Sy het blokfluit en klavier op skool gespeel en op 12-jarige ouderdom het haar pa haar aan die kitaar blootgestel.

“Ek het onmiddellik op die kitaar verlief geraak. Op Otjiwarongo was daar nie ’n geleentheid om met my kitaarlesse te vorder nie. My ouers het dus besluit om my na La Rochelle te stuur. Daar kon ek my skoolloopbaan voltooi en al my aandag aan professionele kitaarlesse gee,” sê sy.

Danella het onder prof. Dietrich Wagner in Stellenbosch klassieke kitaar aan die Trinity College van Londen studeer en uiteindelik haar studies onder die bekende klassieke kitaarmeester Ashley Zolkov in Windhoek voltooi.

In 2002 het sy Kenia toe gereis en vir Stefan Verhoeve en Pieter Huizenga ontmoet wat besig was om deur Afrika te toer. Hulle het vriende geraak en in kontak gebly. Agt jaar gelede het Stefan en Pieter saam met Koen Kalma Namibië vir ’n vakansie besoek. Hulle het vir Danella genooi om saam met hulle na Hobatere in die Suide te reis.

“Toe Koen die eerste keer vir my glimlag, was dit my einde. Ek het halsoorkop verlief geraak en is vandag nog bitter lief vir hom,” sê sy.

Twee jaar nadat sy vir Koen in Namibië ontmoet het, het Danella besluit om haar lewe saam met die man van haar drome aan te pak en na Den Haag in Nederland te trek.

Sy het die Danella Smith Gitarren Unterricht-skool geopen vir kinders wat kitaarlesse wil neem. Tans leer sy 34 hoofsaaklik Duitse kinders kitaar speel. Jaarliks hou die kinders ’n groot konsert by die teater in De Steeg in Den Haag.

Danella het ook as Danella Smith begin optree terwyl sy liedjies vir haar eerste verlengde enkelsnitalbum (EP) geskryf en opgeneem het. ’n EP is ’n musikale opname wat meer as een liedjie bevat, maar nie genoeg om as ’n album te kwalifiseer nie.

Nadat die EP genaamd My Afrika voltooi is, het sy ander musikante genader en die Danella Smith Band is gebore.

“Ek het die woord ‘Band’ agter my naam gesit omdat ek as ’n hele groep gesien wou wees en nie net as een sanger en liedjieskrywer wat net vir enkelshows bespreek word nie. Om my eie komposisies met goeie musikante te kan speel, is ’n droom wat waar geword het. Ek is baie gelukkig dat ek my passie elke dag kan uitleef en musiek kan maak,” sê Danella.

Die Danella Smith Band bestaan uit vyf musikante wat voltyds werk of studeer.

“Die band kom uit vyf lande van die wêreld,” sê sy.

Mark Brophy van Suid-Afrika is die baskitaarspeler, die tromspeler en agtergrondsanger is Terry Knight van Engeland, Maarten Benschop van Nederland is die hoofkitaarspeler en Julian Bonitz van Duitsland speel die klavier en is ook ’n agtergrondsanger.

“Ek is die groep se hoofsanger. Ek speel die elektriese kitaar en die ukelele en soms gebruik ek ’n trapbord met funky effekte om die klank beter te gebruik,” sê sy.

Maarten is tans besig om klassieke komposisie in Engeland te studeer en kan soms nie saam met die groep optree nie. Mark werk voltyds, Terry is ’n inligtingstegnologiekonsultant en Julian studeer kommunikasiekunde in Den Haag.

Die Danella Smith Band se klank pas nie in slegs een genre nie. Dit is 'n kombinasie van volksmusiek, pop, rock en 'n bietjie donker progressiewe rock.

Danella skryf self al die liedjies en verwerk dit saam met Karl Petti, die groep se vervaardiger.

Afrika is diep in haar bloed en die meeste van haar liedjies het Afrika-wortels.

“Afrika is ’n groot en belangrike deel van my en my musiek.

“Ek voel ek moet die wêreld van ons mooi en besonderse kontinent vertel. My nuutste liedjie gaan oor renosters, olifante en ietermagôs,” sê sy.

Volgens Danella inspireer verskeie kunstenaars haar.

“Een van my gunstelinge is Nick Cave en sy liedjie There she goes, my beautiful world. Ek is mal oor hoe hy voortdurend sy klank ontwikkel en hoe hy met ritmes en effekte speel. Nina Simone se I put a spell on you is nog ’n groot gunsteling. Haar sang is ongelooflik. Dan is daar natuurlik ook Leonard Cohen en sy Hallelujah. Ek hou van sy lirieke en die manier waarop hy sinvolle woorde so moeiteloos in pragtige melodieë omskep.”

Mense wat opstaan vir dit waarin hulle glo, inspireer haar - mense wat doen, in plaas van net praat. Ook mense wat vir diegene sonder stemme opstaan, of dit nou vir kinders, diere of die omgewing is.

’n Aand wat Danella nie sommer sal vergeet nie, is toe sy en haar groep in Den Haag by die Paard Cafe opgetree het.

“Ons het in Desember daar opgetree en dit was een van daai wonderlike, onvergeetlike shows waar alles net perfek was. Die groep was een en ons het die liedjies sonder moeite gespeel. Ons was heeltemal ontspanne en het elke oomblik geniet. Die plek was gepak met aanhangers wat saamgesing het. Sulke aande is die beste. Aande waar alles goed en glad verloop, waar ons onsself as musikante geniet en waar die gehoor die vibe van die verhoog af kan voel en elke oomblik geniet,” vertel sy.

Hulle het in November in Parys opgetree – nog ’n droom wat waar geword het.

“Die gehoor in Parys was ongelooflik en het groot waardering vir die musiek gehad.”

Vanjaar word die groep se eerste album opgeneem en vrygestel. Volgens Danella sal dit ’n mylpaal wees en iets waaraan sy al ’n paar jaar werk.

Sy is ’n groot diereliefhebber en wanneer sy nie op toer is of shows doen nie, geniet sy dit om ma te speel vir haar katte, Rupert en Rudolf. Haar hond, Jakop, is in Namibië gebore en toe sy Nederland toe trek, was Jakop saam op die vliegtuig.

“Jakop word 10 die jaar. My ma het ’n bistro op Otjiwarongo besit en kliënte van haar se hond het babas gekry. Hulle het vir Jakop na die bistro gebring en hom vir my gegee. Hulle het gesê hy is ’n baie spesiale hondjie wat ’n baie spesiale mamma benodig. Ek kon hom nie weerstaan toe ek hom die eerste keer sien nie. Ek kon hom ook nie agterlaat toe ek Nederland toe trek nie. So, Jakop is saam en ons het saam ons nuwe lewe in Nederland begin,” vertel sy.

“Ek is ook mal daaroor om in my tuin te werk - veral in die lente en somer wanneer die wilde voëls die tuin kom besoek en ek hulle met kos kan bederf.”

Danella se stokperdjie is om te skilder.

Sy maak ook baie tyd vir vriende en familie – juis omdat haar familie so ver van haar af weg is.

“Dit is vir my belangrik om op WhatsApp of Facetime met my familie in kontak te bly. Hulle is ’n groot deel van my lewe en ek moet moeite doen omdat ek so ver van hulle af woon.”

En haar lekkerste lekker?

“Om saans rustig melodieë op die kitaar te speel terwyl Koen kosmaak,” sê sy.

Om kinders kitaar te leer speel, maak haar ook baie gelukkig. Sy leer hulle nie net speel nie, maar ook om musiek te lees.

“Ek sê altyd vir my kinders musiek is ’n internasionale taal. Jy kan ’n kind van China, Europa of Afrika vat en niemand kan dieselfde taal praat of verstaan nie, maar almal kan musiek lees en almal kan saamspeel. Ek deel my liefde vir die instrument met hulle en leer vir hulle die instrument is hul vriend.”

Afgesien van die feit dat sy geklukkig is en haar droom uitleef, is daar ook goed wat Danella ontstel.

“Mense wat ons renosters, olifante en ietermagôs stroop of kinders en diere mishandel, maak my baie hartseer en kwaad. Ook die oorlog die afgelope paar jaar en die groot vlugtelingkrisis en die manier waarop hulle hanteer word.”

Haar grootste droom is om die hele Danella Smith Band Namibië en Suid-Afrika toe te bring.

“Ons wil deur my geboorteland en sy buurland toer. Maar dit kos ongelukkig baie geld en ons moet geld insamel of iemand kry wat ons kan borg om dit te kan doen. In Julie kom ek egter met vakansie Namibië toe en sal dan twee of drie shows op my eie doen.“



Liedjies van die Danella Smith Band

Die Wieg (Single) 2013

Summer Kisses (Single). 2014

My Africa (E.P.) 2014

Pinned up Butterfly (Single) 2015

Lekker Sand (EP.) 2015

Fake Fake Trees (Single en Video) 2017



1

Danella Smith, Koen Kalma en Jakop tydens ‘n vakansie in Italië.

5.

Danella by die Danella Smith Band se show by die Paard Cafe in Den Haag. Foto Frank van den Ing

2.

Die Danella Smith Band tydens hul show by die Paard Cafe in Den Haag. Julian Bonitz op klawerbord, Terry Knight agter die tromme, Mark Brophy op baskitaar en Danella as hoofsanger.

3.

Lede van die Danella Smith Band van links is Julian Bonitz, Mark Brophy, Terry Knight, Danella en Maarten Benschop. Hier is hulle ná ’n show by die Cafe’ de Bieb in Den Haag.

6

Danella Smith en Jakop. Foto Mareli Huizenga



Danella Smith Foto Frank van den Ing

Soortgelyk

 

Tweejarige bebloed in bosse ná verkragting

12 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting - Toe die polisie en familie­lede gisteroggend op die erg beseerde dogtertjie (2) buite Outjo afkom, het sy ver­skriklik gebloei.Die vorige dag het...

Swakopmund se boeke duister

12 ure gelede | Regering

Denver Kisting - Die Swakopmund-munisipaliteit se bedryfsverlies het in een jaar met N$1,6 miljoen gestyg.Dít verteenwoordig 'n toename van nagenoeg 130%.Dié beroerde toedrag van sake...

'Ons sal lughawe se beeld, integriteit red'

12 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer - Die nuwe voorsitter van die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) se direksie, dr. Leake Hangala, is vasbeslote om “die beeld en integriteit” van die...

Weer vir 18 Oktober 2018

12 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Zambezi met enkele buie. Elders sal dit sonnig en baie tot bloedig warm wees. ...

Orka-walvisse in Lüderitz

12 ure gelede | Omgewing

Tanja Bause - Die kusdorp Lüderitz is Dinsdag deur twee orka- of moordwalvisse begroet. Volgens die Facbook-blad “Lüderitz Marine Research” is die twee walvisse aanvanklik...

‘Slimmer’ Namibië ná 2020

12 ure gelede | Tegnologie

Elvira Hattingh - 5G sal na verwagting ná 2020 in Namibië bekend gestel word, mits kerninfrastruktuur soos optiese vesel (FTTx) of hoëkapasiteit-radiotransmissieskakels aangebring kan...

Twee bly agter tralies ná Aussenkehr-moord

12 ure gelede | Misdaad

'n Man en vrou het Dinsdag in die Karasburg-landdroshof verskyn in verband met die moord op 'n 32-jarige vrou, me. Patricia Madyumo, wie se halfnaakte...

Vyf Namibiërs vas in Suid-Afrika

12 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - Vyf Namibiërs wat glo mense wat goedere op OLX geadverteer het, ontvoer en afgepers het, is verlede Donderdag in Vereeniging in Suid-Afrika...

Goud-ogie help ander oorleef

12 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Skaars 'n jaar nadat Nami­biese wetenskaplikes 'n studie oor goud-ogies begin het, kon hulle reeds enkele splinter­nuwe spesies ontdek. “Ons weet dat...