ACC gryp by Okahandja-erf in

Ondanks bewerings dat die gebou van ’n versorgingsprojek privaat verhuur word, weier die stigterslid om die munisipale eiendom te verlaat.
Yanna Smith
Yanna Smith - Volgens bewerings word ’n eiendom wat aan die Okahandja-munisipaliteit behoort al vir sowat 10 jaar lank privaat verhuur.

Boonop steek ’n stigterslid van die organisasie wat vanuit die eiendom bedryf word, die onwettige huurgeld glo in haar sak.

Dié saak is nou aan die Teenkorrupsiekommissie (ACC) oorhandig.

Erf 1246 op Okahandja, wat Okahandja Home-Based Caregivers huisves, word glo volgens bronne sedert 2009 reeds privaat verhuur.

Die organisasie, wat in 2004 gestig is, help met die versorging van MIV-positiewe en vigspasiënte.

Een van die stigters, me. Susan de Beer, sê toe die projek van stapel gestuur is, het die staat geen antiretrovirale (ARV) behandeling verskaf nie en het dié gemeeenskap op die dorp het erg daaronder gely.

Die organisasie bedryf ’n sopkombuis, groentetuin en bied opleidingsprogramme aan om uit te reik na families wat deur die siekte geraak word.

’n Liefdadigheidswinkel en naaldwerkprojek is ook deel van die projek.

Hoewel die aktekantoor nie die eiendomsakte vir die erf kon opspoor nie, het De Beer bevestig die eiendom, erf 1246, word deur die munisipaliteit besit en alle ooreenkomste is met die raad onderteken.

De Beer het die projek in 2009 verlaat en wou die saak nie verder bespreek nie.

Na wat verneem word, is die eiendom gratis aan die liefdadigheidsprojek verskaf.

In die middel van die storm is me. Kathleen Uri-khos, een van die stigterslede van Okahandja Home-Based Caregivers.

Twee klagte van aanranding deur dreigement staar haar in die gesig ná sy glo twee lede van die Okahandja Residents Damage Control Committee (ORDCC), mnre. Basie Tjikune en Petrus Kampaku, op 21 Januarie met ’n mes gedreig het.

Die saak is tot 19 September uitgestel sodat sy private regsverteenwoordiging kan bekom.

Uri-khos het glo twee kamers op die perseel aan private individue verhuur en die huurgeld in haar sak gesteek.

Een van die huurders op die perseel het ’n ooreenkoms met Uri-khos bevestig.

Bankstate in Namibia Media Holdings (NMH) se besit, toon maandelikse betalings deur verskeie individue wat in die organisasie se rekening inbetaal is, maar op dieselfde dag onttrek is.

Die ORDCC het op 5 Julie ’n klag van diefstal deur toe-eiening teen Uri-khos aanhangig gemaak.

Die groep het maande lank druk op die munisipaliteit geplaas om by die eiendom in te gryp.

Hulle het ook gevra waar die inventaris met internasionale skenkers is.

Die eiendom beskik oor ten volle toegeruste kantore, ’n kliniek en ’n sopkombuis.

Konferensies word gereeld daar aangebied.

Die Verenigde State se Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (Usaid) het N$85 000 aan die eiendom geskenk sodat opknapwerk gedoen kan word en toerusting aangeskaf kan word.

Die eiendom het twee toilette, maar geen badkamer nie. Die kantore word oënskynlik as kamers verhuur.

UITSETTINGSBRIEF

Dit lyk of die Okahandja-raad bewus was van huurders by die eiendom.

Volgens ’n uitsettingsbrief, geteken deur Okahandja se uitvoerende hoof, me. Martha Mutilifa, gedateer 4 Julie, moes Uri-khos haar “huurders” teen 14 Julie verwyder.

“Sien die uitsettingsbrief as laaste waarskuwing. As die eiendom nie verlaat word nie, sal die raad geen ander opsie hê as om wetstoepassers te betrek nie,” lui die brief.

Mutilifa het in die brief ook melding gemaak van vorige kennisgewings, gedateer 9 November verlede jaar en 24 April vanjaar, wat aan Uri-khos gestuur is.

Uri-khos het aan NMH gesê hulle sal die eiendom nie verlaat nie, en het bygevoeg die polisie het nie die reg om hulle van die eiendom te verwyder nie.

Sy het gesê hulle sal die eiendom “slegs met ’n hofbevel” verlaat.

Sy wil weet waarom die uitvoerende hoof haar nie om ’n vergadering genader het om die kwessie te bespreek nie en sê daar is ’n “politieke kwessie” agter die saak.

Polisiebronne het sê die saak is ingewikkeld en moet deur die ACC ondersoek word. Die lêer is Vrydag aan die ACC oorhandig.

Individue sal na verwagting aangekla word sodra die ACC sy ondersoek afgehandel het.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!