95 jaar, 3 lande, báie plase

Watwou ouetehuis

18 October 2019 | Mense
Tanja Bause – Om sonder ’n sent uit jou land te vlug, sit nie in sommer in enigiemand se broek nie.

Christine Gärtner (95), of Tante Christel soos haar vriende haar ken, het as 50-jarige tydens die burgeroorlog in Angola met slegs haar klere, ’n slaapsak en een kombers uit die land gevlug.

Vandag boer sy gelukkig en tevrede op Otjiwarongo en sorg sy vir twee koeie, een kat en een werker.

Tante Chrsitel se pa was ’n padbou-ingenieur wat onder meer in Togo, Kameroen en Tanzanië in diens van die Duitse regering was.

“As jongman het my pa in die Duitse kolonies in Afrika gewerk en paaie gebou. Toe breek die Tweede Wêreldoorlog uit en is hy geïnterneer. Ná die oorlog het hy in ’n kantoor gewerk en kon die gesit agter ’n lessenaar dag ná dag nie verdra nie,” sê sy.

Haar pa het mense geken wat na Angola geëmigreer het en hom en sy jong gesin saamgenooi het.

“Daar kan jy ’n nuwe begin maak,” het hulle vir hom gesê.

“Ek was drie jaar oud toe ons Duitsland verlaat het. Die Portugese, wat toe in Angola aan bewind was, was Duitsers goedgesind. My pa het vir homself ’n stuk grond gekies en begin boer.”

Gärtner was die enigste kind en ná haar ouers gesterf het, het sy die boerdery oorgeneem.

“Dit was soms baie moeilik. Daar was ’n redelike groot Duitse gemeenskap in Angola, maar ons was baie ver uitmekaar uit.

“Maande het verbygegaan waarin ek nie een Duitse woord gepraat het nie. Weens die afstande het ek ook nie gereeld Portugees gepraat nie. Ek en my werkers was vir lang tye alleen en ek het Umbundu met hulle gepraat.”

Tante Christel het beeste en melkkoeie op die plaas aangehou en kaas in haar melkery gemaak.

Sy het ook koffie aangeplant.

In 1975, onmiddellik ná Angola se onafhanklikwording van Portugal, het ’n burgeroorlog uitgebreek en Gärtner moes, soos baie ander, uit Angola vlug.

“Ek het met my klere, ’n slaapsak en kombers op die vlug geslaan. Maar dit het nie saak gemaak nie. Die skeiding van al die diere op die plaas het my gedagtes so besig gehou dat niks saak gemaak het nie. Die strydende partye het gedurig gewissel en ek weet nie watter een my beeste geslag het nie. Maar dit was vir my baie erg, omdat ek veral my melkkoeie persoonlik en by die naam geken het,” vertel Tante Christel.

Gärtner moes sowat 500 koeie, haar koffieplantasie en die goudakaas in haar melkery agtergelaat.

“Ek het baie kaas gemaak en van die verkope geleef. Ek was toe op pad Namibië toe sonder ’n rand op my naam.”

Op die vlug

Op 50 het Tante Christel en een werker van die plaas af na Serra da Leba (vandag Lubango) gery sodat hulle van daar hul pad Namibië toe kon vind.

“My werkers en die mense van die omliggende dorpe was my glad nie vyandiggesind nie. Toe ek die plaas verlaat het, het ’n man op ’n fiets agter my aan gery en vir my ’n sak vol eiers gegee sodat ek kos vir die langpad het.”

Volgens Tante Christel het sy verskeie interessante ervarings gehad toe sy op die vlug was.

“Die eerste keer wat ek Lubango toe gery het, was dit net ek en my werker in die voertuig. Mans in weermaguniforms het ons van die pad af getrek en gesê ons moet vir hulle brandstof gee. Ek het gesê ons moet nog oor die 200 km ry en sal dan self nie genoeg brandstof hê nie.

“Die mans kon die voertuig eenvoudig gevat het en ons net daar gelos het, maar een het gevra of ons asseblief net ’n liter kan gee. Natuurlik het ons dit gedoen, en hy het ons verder laat ry.”

Iemand het ’n paar rand aan Tante Christel geskenk en sy kon nog een keer terugry plaas toe.

“Ek wou nog een keer kyk hoe dit lyk,” sê sy.

Op die plaas het sy een van haar werkers gesoek wat aangesê is om na die sendelingstasie op Kalukembe te gaan.

“Hulle het gesê hy is reeds op pad soontoe, en ek het dieselfde dag ook na Kalukembe gery. Daar het ek gehoor hy is by ’n Unita-kamp sowat 5 km buite Kalukembe. Ek en ’n sendelingvriendin is toe soontoe.”

Tante Christel het haarself aan soldate by die kamp voorgestel, na haar werker gevra en gesê hy moet saam met haar gaan.

Sy vertel sy’t bygevoeg die werker het nog nie geëet nie.

“Die soldaat het vir my gesê hulle het die werker kos gegee. Hy het ook seker gemaak ons het genoeg brandstof in die voertuig sodat ons kon terugry, en het gesê die man kan saam met ons terugry. Ek was baie verbaas oor sy vriendelikheid en het hom bedank. Dit is toe dat hy my vra of ek hom nie meer onthou nie.

“‘Ek was die man vir wie jy ’n maand gelede die liter brandstof gegee het,’ het hy gesê.”

Natuurlik was dit erg traumaties vir Tante Christel om uit Angola te vlug.

Sy moes alles agterlaat waarvoor sy omgee.

Tog sê sy mense wat hulle teëgekom het, was vriendelik.

Een van haar herinneringe was van een laatnag op ’n treinstasie op ’n dorpie in Angola.

“Ek was op pad Namibië toe en het op ’n klein dorpie aangekom. Op die dorp is die ‘terroriste’ versorg wat gewond is.

“Ek het een vrou geken en wou weet of sy saam met my Namibië toe wou gaan, maar sy wou saam met haar seun per voertuig ry en ons het afskeid geneem. Ek het toe na die treinstasie gegaan en wou vandaar ’n trein na Lubango en dan na Namibië neem.”

Volgens Gärtner was dit al baie donker en daar was net ’n klomp mans op die stasie wat bier-in-die-hand rondgeloop het.

“Ek het nie ’n goeie gevoel gehad nie. Een van die mans het na my gekom en gesê ‘senora, die bier proe baie lekker’ en sy bottel vir my gegee. Ek het net geantwoord ek is ’n sendeling en mag nie bier drink nie. Hy het gesê ‘dis jammer, want die bier proe regtig baie lekker’. Toe het hy omgedraai en geloop.”

Tante Christel het toe op die trein geklim en sonder ’n sent op haar naam uit Angola gevlug.

Namibië

Met haar aankoms in Namibië het sy eers by vriende gaan bly.

“Baie mense is voor my uit Angola weg en ek het by hulle gaan bly en werk op plase begin soek.”

In die volgende jare het sy op verskillende plase oraloor die land gewerk.

“Ek het 25 koffiebome op ’n plaas by die Waterberg geplant. Hulle het net begin blom en ek sou die betrokke jaar my eerste koffie geoes het, maar die plaas is toe verkoop en ek het ’n week gekry om van die plaas af te trek. Ek het gepak en getrek, en dit is al wat ek kan sê.”

Tante Christel bly tans op ’n plaas tussen Windhoek en Otjiwarongo.

“Ek het twee koeie en ’n kat waarvoor ek moet sorg. Saam met my is Kajanga, my werker, wat al van 1980 af vir my werk. Kajanga het sy hoenders en ek my koeie en ons is gelukkig.”

Sy maak ook nog gereeld konfyt van appelliefies wat sy en Kajanga in haar tuin plant en oes.

“Mense het my al aangeraai om na die ouetehuis op Otjiwarongo te gaan, maar ek is ’n boervrou en hoort op ’n plaas, en wie gaan my koeie kos gee en vir hulle sorg?”

Soortgelyk

 

Wettig aborsie, sê Geingob

31 minute gelede | Regering

Denver KistingOf aborsie wettig is of nie – dit gebeur en baie vroue sterf jaarliks as gevolg daarvan.Daarom, sê pres. Hage Geingob, sal aborsie in...

Gertze: Geen borg vir nou

31 minute gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht – ’n Klag van poging tot moord staar ’n Windhoeker in die gesig ná hy glo verskeie skote die naweek op sy vrou...

Make way for the PillowChick

31 minute gelede | Mense

Ester Kamati Julia Ndeilenga has turned her love for décor into a thriving pillow business, with her merchandise now decorating Nictus’ shelves in Windhoek.Walvis Bay...

Berserker vermoor 2-jarige nefie glo

31 minute gelede | Misdaad

’n Tweejarige seuntjie is vroeg Saterdagoggend dood toe sy 50-jarige oom hom na bewering met ’n graaf aangeval het, terwyl ’n driejarige meisie ernstige beserings...

Pastoor bly agter tralies

31 minute gelede | Howe

Leandrea Louw op Walvisbaai - Past. Marvin Damaseb (39) van die Holy Ghost Fire Ministries op Walvisbaai het gister op ’n klag van ontvoering...

Weer vir 19 November 2019

31 minute gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met enkele donderbuie by Tsumkwe en in die streke van Omaheke enZambezi. KUS: Gedeeltelik bewolk en koud...

VERKIESINGS 2019: PRESIDENSIËLE KANDIDATE

31 minute gelede | Politiek

Mike KavekotoraRally for Democracy and Progress (RDP) Mike Kavekotora is die RDP se presidensiële kandidaat.'n Maatstaf by die stembus sal wees of hy meer as...

More books for more children

31 minute gelede | Onderwys

Ester KamatiOn 12 November, the National Library proudly hosted the donation of 308 books towards the One Book, One Child reading campaign, which aims to...

An apple a day

31 minute gelede | Onderwys

Mariselle StofbergThe Cancer Apple Project has impacted the lives of numerous Namibians and has managed to raise N$2.5 million in aid of the Cancer Association...