2017 begin met duurder brandstof

Opec kry skuld vir prysstyging

28 December 2016 | Ekonomie
Verbruikers in Namibië spring die nuwe jaar met ‘n geniepsige brandstofprysverhoging weg.

Volgens ‘n verklaring wat gister deur die ministerie van myne en energie uitgereik is, styg die petrolprys op 4 Januarie met 20 c/l. Diesel word terselfdertyd met 30 c/l duurder.

Obeth Kandjoze, die minister van myne en energie, skryf dié verhoging aan die jongste verwikkelinge met die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opec) toe. Dié oliekartel het verlede maand besluit om produksie in Januarie met 1,2 miljoen vate per dag te sny. Dit is die eerste keer in agt jaar dat Opec olieproduksie snoei.

Kandjoze sê brandstofpryse is “erg” deur Opec se aankondiging geraak.

Op 21 Desember het die onderverhaling op brandstofprodukte van sowat 33 c/l tot bykans 42,7 c/l gewissel. Verbruikers is die volle impak hiervan gespaar met die Nasionale Energiefonds wat ‘n gedeelte van die onderverhaling sal absorbeer, sê Kandjoze.

Vanaf volgende Woensdag sal petrol op Walvisbaai N$10,68 per liter kos, terwyl diesel se groothandelprys van N$10,58 tot N$10,63 per liter sal wissel.

Kartel

Intussen berig Bloomberg Opec staar ‘n nuwe uitdaging in die gesig ná sy besluit.

Die kartel wil oliepryse verhoog, maar nie soveel dat dit vir Amerikaanse produsente van olie uit skalie die geld werd word om meer boorgate te boor en produksie te verhoog nie.

Die eerste opbloei in skalie-olieproduksie het juis aanleiding gegee tot die wêreldwye oorproduksie van olie, wat sedert middel 2014 die prys van olie in ’n stadium met selfs twee derdes laat tuimel het.

Dit is vererger toe Opec sy produksieperke laat vaar en lidlande soos Saoedi-Arabië olie teen rekordvlakke begin uitpomp het in ’n poging om markaandeel te wen.

Die prys van Brent-ruolie het in Februarie vanjaar tot selfs US$27 per vat gedaal, ná ’n vyfjaarhoogtepunt van US$126 in Maart 2012.

Opec het einde November onderling besluit om produksie te verlaag en het toe begin Desember ook met lande soos Rusland saamgespan om dieselfde vanaf 2017 te doen.

Amerika

Bloomberg raam dat dié strategie pryse in 2017 tot gemiddeld US$58 per vat sal laat styg. Dit is 29% méér as 2016 se gemiddelde tot dusver.

Brent verhandel op die oomblik in die omgewing van US$55 per vat.

Die VSA pomp steeds nagenoeg 8,8 miljoen vate per dag, al het dit net ’n derde van die aantal aktiewe bore wat in 2014 aktief was, volgens syfers van die olienavorsingsfirma Baker Hughes en die land se energie-inligtingsadministrasie. Sedert Mei vanjaar is nog 200 boorgate geaktiveer in ’n poging om uit stygende pryse voordeel te trek.

Ontleders verwag dat olie- en gasproduksie in Amerika mettertyd sal styg en teen 2018 weer op rekordvlakke sal wees.

Opec-lande se gesamentlike inkomste was in 2014 US$956 miljard, maar in 2015 net US$518 miljard. Dit het die staatsbegrotings van lande geknou wat die meeste van hul inkomste uit olie verdien. Selfs Saoedi-Arabië het staatsamptenare se salarisse besnoei en staatseffekte uitgereik om sy begrotingstekort te probeer aanvul.

Maar ’n olieprys van US$58 per vat sal nie veel doen om dié lande se probleme op te los nie. Die Internasionale Monetêre Fonds het onlangs geraam dat ’n gemiddelde prys van minstens US$62 per vat in 2017 vir olieproduserende lande nodig is.

Boonop hang ’n groot vraagteken nog daaroor of al die lande wat tot produksiebesnoeiings ingestem het, dit wel sal toepas. Ali al-Naimi, ’n voormalige Saoedi-Arabiese minister van olie, sê lidlande “is geneig om te kul”.

Hy is baie skepties daaroor of Rusland wel sy produksie met 300 000 vate per dag sal verminder.

“Ek weet nie. In die verlede het hulle nié.”

Nigerië en Libië, albei lid van Opec, is vrygestel van produksieperke omdat interne konflik hul produksie ingeperk het. As hulle in 2017 hul volle potensiaal kan bereik, sal dit die besnoeiings van ander produsente uitwis.

Iran hoef ook nie te besnoei nie omdat dié land nog ná jarelange sanksies herstel. – Eie berig en Netwerk24/Bloomberg

Soortgelyk

 

'n Lewe gekenmerk deur vaste beginsels

1 dag gelede | Mense

Estelle de Bruyn - 'n Ryk en vol lewe, 'n lewe wat gekenmerk is deur vaste beginsels, iemand wat hom nooit laat voorskryf het deur...

Ya Toivo: Tyd vir groet breek aan

1 dag gelede | Mense

Roubeklaers en hoëlui het hulle plekke ingeneem by die Onafhanklikheidstadion in Olympia waar die gedenkdiens vir die vryheidstrydikoon mnr. Herman Andimba Toivo ya Toivo nou...

Lloyd Zandberg: Midas-Hofnar

2 dae gelede | Kuns en vermaak

BL3: Die Ventertjies en Heidi kom kuierBL8: Sit vonkel in jou strompel

Jooste: 'SOE's se wittebrood is verby'

2 dae gelede | Vervoer

Francoise Steynberg - Die minister van staatsondernemings (SOE's), mnr. Leon Jooste, het dit gistermiddag duidelik gestel dat korrupsie by regeringsmaatskappye nie geduld sal word nie....

Resessie wurg Namibië

2 dae gelede | Maatskaplik

Jo-Maré Duddy - Die ekonomie wat in die eerste kwartaal vanjaar sowat N$750 miljoen armer was as in dieselfde drie maande in 2016, het Namibië...

Kalender 23 Junie

2 dae gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Pak vandag ’n piekniekmandjie en raak deel van die eerste WINE ON TAP by die MegaCentre in Windhoek. Daar gaan onbeperkte...

Tronkmoord: trio gevonnis

2 dae gelede | Howe

Jacqueline Louw - In ’n uitspraak wat gister in die hoërhof in Windhoek gelewer is, het regter Dinnah Usiku vir Herman Rukero (28), Benedictus Afrikaner...

Kabinet besluit teen invoer van gevaarlike afval

2 dae gelede | Regering

Augetto Graig - Die kabinet het tydens hul onlangse vergadering besluit om die invoer van gevaarlike afval van ontwikkelde lande teen te staan.Dít deur die...

Weer vir 23 Junie

2 dae gelede | Weer

BINNELAND: Aanvanklik gedeeltelik bewolk en koud in die oggend oor die //Kharasstreek, maar later sonnig en matig. Elders sal dit sonnig en matig tot warm...