15 vas oor renosterstropery

Twee verdagtes staatsamptenare

14 January 2020 | Misdaad
Francoise Steynberg



Altesaam 15 verdagtes is verlede week in verband met renosterstropery of pogings daartoe in hegtenis geneem.

Volgens die Namibiese polisie en die ministerie van die omgewing en toerisme se wildmisdaadverslag van 6 tot 12 Januarie is ses renosterhorings – vier in die Etosha Nasionale Park en twee op Katima Mulilo – gekonfiskeer.

Die Blue Rhino-taakspan het ook beslag op drie voertuie, twee vuurwapens en 17 patrone gelê.

Dié taakspan, onder leiding van komm. Barry de Klerk, bestaan uit beamptes van die Namibiese polisie, die ministerie van die omgewing en toerisme en die Namibiese weermag.

Volgens die woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, is twee van die vermeende renosterstropers amptenare van die Oshakati-dorpsraad wat betrap is toe hulle glo besig was om die horings van twee gestroopte renosters te verwyder.

Hulle is mnre. Heimo Namweya en Seboron Shivolo, wat verlede Woensdag saam met mnre. Diogenus Shivute en Moses Ekandjo in Etosha in hegtenis geneem is.

Die vier staan ook tereg op 'n ou saak van sameswering om 'n renoster by Omuthiya in Oktober 2019 te stroop.

Twee dae later is mnre. Johannes Pinias en Samuel Matias ook in verband met die Etosha-stroperysaak in hegtenis geneem. Beslag is op vier renosterhorings, een voertuig, een .303-jaggeweer en ses patrone gelê.

Die sestal staan tereg op klagte van die onwettige jag van 'n spesiaal be­skermde spesie, die handel in renosterhorings, sameswering om 'n renoster te jag, die onwettige besit van wapens en ammunisie, die onwettige betreding van 'n nasionale park en die diefstal van renosterhorings.

Die sestal het reeds afsonderlik in die Tsumeb-landdroshof verskyn.

Vrydag is mnre. Lubbula Hendricks en Zambwe Matengu op Katima Mulilo glo met twee renosterhorings in hul besit in hegtenis geneem ná hulle dit aan geheime polisie wou verkwansel.

Beslag is op onder meer twee voertuie gelê.

Die twee verdagtes word van die ­onwettige handel in renosterhorings aangekla, asook van die oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca).



ZAMBIëRS

Vrydag is vier Zambiërs, mnre. Makalo Meki, Junior Sililo, Inonox Sibela en Sheka Vitali op dieselfde dorp vasgetrek in verband met sameswering om 'n spesiaal beskermde spesie ('n renoster) te jag.

Een .308-jaggeweer en ses van sy patrone, asook ses patrone van 'n .375-geweer is gekonfiskeer.

Die verdagtes staan dus ook tereg op klagte van die onwettige besit van wapens en ammunisie.

Altesaam 18 wildmisdaadverdagtes is verlede week in hegtenis geneem en vyf nuwe klagte is aanhangig gemaak.

Drie uit die 18 vermeende wildmisdadigers is verdagtes in ou sake: Mnr. Sem Johannes is 'n verdagte in 'n saak van Julie 2019 wat by Okahao aanhangig gemaak is, en staan tereg op klagte van die onwettige betreding van 'n nasionale park en die onwettige besit van 'n vuurwapen.

Mnre. Herold Hangara en Tobias Murenga is onderskeidelik verlede Maandag en Woensdag by Epukiro Pos 3 in verband met 'n renos­terstroperysaak van Julie 2019 in ­hegtenis geneem. Hulle staan ook tereg op klagte van sameswering om 'n renoster te jag en die oortreding van die wet op wapens en ammunisie.



IETERMAGôVELLE

Mnre. Matheus Kaandala en Joseph Jermia is verlede Sondag op Ondan­gwa glo met 'n ietermagôvel in hul besit betrap.

Op Otjiwarongo is mnre. Eliaser Sem verlede Maandag glo met 'n ietermagôvel in hegtenis geneem.

Op dieselfde dorp is mnr. Mbayenovantu Katiti Donderdag in die landdroshof op borgtog van N$4 000 vrygelaat ná hy glo met ses stukke ivoor wou smokkel.

[email protected]

Soortgelyk

 

Kenner van familieondernemings kom lewer praatjie

8 ure gelede | Kuns en vermaak

Een van Suid-Afrika se voorste kenners van familieondernemings lewer Vrydagoggend op uitnodiging van die kultuurorganisasie, Netwerk, ‘n ontbytpraatjie by Am Weinberg Hotel in Windhoek.Prof. Elmarie...

Nog water vir Hardap en ses ander

8 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Ses nasionale damme ontvang steeds water, met ‘n sewende een wat gister om 16:00 óók nog water gekry het.Volgens NamWater se jongste...

Oudpres. Hosni Moebarak van Egipte sterf

10 ure gelede | Internasionaal

Die voormalige Egiptiese president Hosni Moebarak is dood, het die staatstelevisie berig.Hy was 91.Moebarak is in 2011 ontsetel ná 'n bewind van sowat 30 jaar....

Nege vas oor renosterhorings

10 ure gelede | Misdaad

Nege verdagtes is verlede week in verband met renosterstropery of -horingsmokkelary in hegtenis geneem. Volgens die wildmisdaadverslag van 17 tot 23 Februarie is beslag op...

Gesoek: Namibiërs wat in China woon, studeer

12 ure gelede | Ministeries

Die Namibiese ambassade in China is in die lig van die uitbreking van die corona virussiekte (covid 19) besig om sy lys op te dateer...

Ministerie bemagtig mans én vroue

12 ure gelede | Ministeries

Die algemene siening dat die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn net vir vroue en kinders is, is onwaar en onproduktief. “Sommige mans dink hierdie ministerie...

Damme voller

23 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Terwyl 99,671 Mm³ (miljoen kubieke meter) water altesaam 10 nasionale damme die afgelope week binnegevloei het, het die weerkantoor opnuut ’n waarskuwing...

Groot kommer oor sprinkaanplaag in Zambezi

23 ure gelede | Omgewing

Ronelle Rademeyer - ’n Plaag van bruin sprinkane uit vermoedelik Botswana teister kommunale boere by Muhundu en ander nedersettings in Katima Mulilo se landelike kiesafdeling...

Weerlig slaan meisie (11) dood

23 ure gelede | Misdaad

Weerlig het Saterdag die lewe van 'n elfjarige kind geëis. Volgens die Namibiese polisie se weeklikse misdaadverslag is Aini Shilongo Saterdag omstreeks 18:00 in 'n...