Waarskuwing: Swaar storms tot Saterdag

Berei op kitsvloede voor

06 December 2019 | Weer
Elvira Hattingh - Terwyl ’n vrou van Otjiwarongo Woensdag gesterf het toe reënwater haar meegesleur het, waarsku die Namibiese weerkantoor nog swaar storms kan tot Saterdag oor groot dele van die land voorkom.

“Dit sal na verwagting tot kitsvloede lei,” het die Namibiese weerkantoor se hoofweervoorspeller, mnr. Odillo Kgobetsi, gister gewaarsku.

In ’n weerwaak sê Kgobetsi dit geld vir die Zambezi-, Kavango-Oos-, Kavango-Wes-, Oshana-, Ohangwena-, Omusati-, Oshikoto-, Otjozondjupa, Omaheke- en Khomasstreek. Hy waarsku Namibiërs in dié gebiede moet die nodige voorsorgmaatreëls tref.

Kgobetsi sê ook die weer sal na verwagting teen láát Saterdag oor die sentrale noordelike dele van die land opklaar.

Dit volg ná groot dele van die land sedert veral Woensdag sterk reën ontvang het, met mense wat laat weet het dit het tot 100 mm op Ondangwa gereën, terwyl foto’s wys hoe huise op Oshakati in die water gestaan het.

NamWater het aangedui die Friedenaudam het water begin kry, terwyl foto’s gesirkuleer is van Gobabis se Daan Viljoendam, wat dolleeg was en sy eerste water gekry het.

Intussen het die weerkantoor gisteroggend laat weet hul weerstasie op Ondangwa het 65 mm reën gemeet, terwyl 53 mm op Rundu gemeet is en 51 mm op Oshakati.

Op Okahao het reënmeters op 27 mm gestaan, op Otjiwarongo is 18 mm gemeet en 7 mm op Katima Mulilo.

By die Internasionale Lughawe Hosea Kutako is 13 mm reën gemeet, terwyl Gobabis 47 mm reën gehad het en Khorixas 8 mm.

Die weerkantoor sê op Nkurenkuru het dit 5 mm gereën, op Outjo 4 mm en op Opuwo 2 mm.

Op die plaas Okahua in die Khomasstreek het dit 46 mm gereën en op die plaas Otjikururume, naby Omatako, 16 mm.

Boere noord van Grootfontein in die Abenab- en Maroelaboom-omgewing het teen gisteroggend tussen 30 mm en 38 mm ontvang, terwyl Tsumeb ook reën gekry het.

GERUGTE OOR VLOEDE

Intussen loop Namibië nog nie die gevaar vir vloede nie, ongeag swaar reënneerslae in Angola.

Me. Paulina Mufeti, hoof van hidrologie by die Namibië hidrologiese dienste, het gister gesê hulle verwag nog nie vloede nie.

Sy sê hoewel die Angolese regering laat weet het hulle het swaar, gelokaliseerde reën by Ondjiva in Angola ontvang, sal vloedwaters in strome en kanale optel, maar dit sal waarskynlik nog nie na Namibië se vloedvlaktes deurdring nie. Hiervoor is meer reën in die veel groter Cuvelai-stelsel nodig.

“Die opvangsgebied is baie groot en tans is vloede nie werklik ’n gevaar nie.

“Ons sien wel ’n verhoogde vloei van water by sommige van ons stasies op die Angolese grens, maar dit is nog baie laag – eintlik net enkele sentimeters diep. Ons hou die situasie fyn dop,” het sy gesê.

Mufeti meen dié prentjie kan verander indien sterk reën in Angola tot byvoorbeeld die einde van Desember of vroeg Januarie voortduur.

VROU STERF

Ao. Maureen Mbeha, polisiewoordvoerder in die Otjozondjupa­streek, het mense gewaarsku om nie strome reënwater te probeer oorsteek nie – veral omdat nog reën verwag word.

Sy het aan Nampa bevestig me. Elise Shafooli (30) van Otjiwarongo is dood ná sy Woensdagaand saam met drie ander vroue ’n rivier by die Ombili-nedersetting wou oorsteek en weggespoel het.

Dit het gebeur kort ná dit in die gebied gereën het.

Die ander vroue het die polisie van die voorval in kennis gestel. Haar liggaam is gister naby Otjiwarongo se weermagbasis gevind.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Te min isolasie, suurstof vir Walvis se episentrum

4 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Walvisbaai, Hentiesbaai en Swakopmund het nie genoeg isolasie- en kwarantyngeriewe om die toenemende stygende aantal positiewe Covid-19-gevalle en -kontakte te isoleer nie....

Rehoboth verenig in rou

4 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting op Rehoboth – Die rou snikke van ’n 20-jarige ma van Rehoboth, me. Roseline Moss, kon gister deurgaans gehoor word toe haar twee...

Weer, Vrydag 24 Julie 2020

4 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Oosweertoestande sal oor die Namib en kusareas voorkom. Tref voorsorg.BINNELAND: Koud aanvanklik, andersins sonnig en matig tot warm. 'n Taamlik sterk tot sterk noordoostelike...

Vakbonde tree in bresse vir fabriekswerkers

4 ure gelede | Visserye

Erongo-span – Die president van die Vakbondkongres van Namibië (Tucna), mnr. Paulus Hango, het gesê vakbonde wat werkers in die vissersbedryf verteenwoordig, is bekommerd oor...

Bou van ambassade stort miljoene in ekonomie

4 ure gelede | Infrastruktuur

Kristien Kruger – Die oprigting van die nuwe Amerikaanse ambassadekompleks in Klein-Windhoek het gister 'n sooispitseremonie bereik waartydens dié land se ambassadeur in Namibië, me....

SA trek beampte vas wat visumbedrog uit Windhoek pleeg

4 ure gelede | Misdaad

Die Suid-Afrikaanse departement van binnelandse sake het 100 visums teruggetrek wat na bewering deur een van sy beamptes wat by die hoëkommissariaat in Windhoek geplaas...

Melgesedek vlieg hoog

4 ure gelede | Mense

Jeanette Diergaardt – Met 'n kraakvars wit T-hemp, styfpassende donkerblou jeans wat net-net by die enkels kom en gepunte, blinkgepoetste swart skoene stap Melge­sedek Hamukoto...

Blik op Erongo se kwarantyn-fasiliteite

4 ure gelede | Gesondheid

Jemima Beukes – ’n Krisis is besig om in die Erongostreek te ontwikkel waar verskeie Covid-19 pasiënte self-isolasie moet toepas in agterplaas-vertrekke, terwyl staatsfasiliteite oorvol...

Lüderitz ’n skatkis van juweeltjies

4 ure gelede | Toerisme

Tanja Bause – Die Covid-19 pandemie en die wêreldwye hoktye en reisbeperkings het veral die toerismebedryf gedwing om buite die boks te dink. Besluitnemers moes...