Ontevrede jeug skiet vir ampte
Die grootste getal onafhanklike kandidate (93) sedert onafhanklikwording neem aan vanjaar se verkiesings deel.
Jemima Beukes
Ontevredenheid onder die land se jeug is een van die hoofdryfvere agter die totstandkoming van politieke organisasies, soos die Affirmative Repositioning (AR) en jong onafhanklike kandidate.
Namibië beleef vanjaar ’n verskuiwing op die politieke toneel met 93 onafhanklike kandidate wat aan aanstaande maand se verkiesings deelneem. Dit sluit ’n stewige dosis jeugpolitici in.
Die huidige raadslid van die Walvisbaai- stedelike kiesafdeling, mnr. Knowledge Iipinge, wat as ’n onafhanklike kandidaat staan, sê een van die redes hoekom soveel jeugleiers die uitdaging aanvaar om in ’n openbare amp te dien, is die gebrek aan ’n lewensvatbare strategie om waarde toe te voeg tot die land se veelvoudige hulpbronne.
“Ons waardeer die pogings van die ouer garde, maar die tyd het uiteindelik aangebreek vir hulle om te gaan rus sodat diegene van ons met vernuwing en energie die skip in die regte rigting kan stuur.”
Volgens hom het betekenisvolle idees neerslag gevind in visies, goeie dokumente en beleidsrigtings sedert Walvisbaai se herintegrasie by Namibië in 1994.
Dié idees het egter op papier doodgeloop omdat dit nog nie in werking gestel is nie. “As ’n mens deur ’n Walvisbaai-lens hierna kyk, is daar tans geen lewensvatbare strategie in plek om waarde toe te voeg tot ons grootste hulpbronne, soos ons vis nie. Die onlangse mislukking van die veiling van ons viskwotas het dié feit bevestig ondanks die bestaan van die Growth at Home-strategie. Ons het geen ingrypings oor ekonomiese transformasie tot op hede gesien nie.”
Iipinge het voorts gesê die Harambee-welvaartsplan, wat ten doel gehad het om die land teen 2020 in een van die mees mededingende ekonomieë in Afrika te omskep, het nie hierdie doel bereik nie.
Me. Duminga Ndala van die Landless People’s Movement (LPM) ding mee as voornemende raadslid vir die John Pandeni-kiesafdeling in die hoofstad.
Volgens haar is die sleutelkwessie die gebrek aan goeie regeringsbestuur. Sy meen die regering het misluk wat dienslewering aan sy mense betref.
Ndala reken voorts die jeug se ontevredenheid is deels omdat die land se grondvraagstuk 30 jaar ná onafhanklikwording steeds nie ten volle getakel is nie.
“Daar is nie aan basiese behoeftes voldoen nie, soos om genoegsame gesondheidsdienste te lewer, die elektrifisering van informele nedersettings, die lewering van gehalte en gratis onderwys (en) die verskaffing van genoegsame behuising. Namibië het ’n behuisingsagterstand van 300 000 huise.”
Hiernaas, sê sy, het ’n neiging in die land ontstaan van verdwene geld sonder enige verantwoordbaarheid.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie