Ontdekkingsreis met ‘n hijab om die kop

08 February 2019 | Rubrieke
Estelle de Bruyn - As ek reis, wil ek na plekke gaan waar die kos anders proe, die taal anders klink, die lug anders ruik en die kultuur my voete onder my uitslaan. Die afgelope drie maande was ‘n ervaring so na my hart wat ál die boksies getiek het.

Vir drie maande het ek werkers van die nuwe hawe by Duqm in Oman probeer Engels leer. Hoeveel hulle geleer het, weet ek nie so mooi nie, maar dat ek op ‘n onvergeetlike leerkurwe was, is ‘n onvoldoende beskrywing van wat ek ervaar het.

Duqm lyk soos daar iewers noord van Hentiesbaai langs die kus, met die verskil dat moderne dubbelle driebaansnelweë die woestyn deurkruis ter voorbereiding van die hawestad en toerismebestemming wat besig is om daar te verrys.

Ongelukkig het my vermoë om tale aan te leer my ernstig in die steek gelaat, en ná drie maande is die enigste Arabiese woorde wat ek ken iets soos As-salam akaykom (“hallo” of “vrede vir jou”) Shukran (“dankie”) en Inshallah. Inshallah beteken iets soos “as die Here wil” maar, moes ek leer, dis ook iets soos “môre is nog ‘n dag”.

Om myself te beloon ná die skoolhouery is ek vir ‘n week se vakansie Iran toe. Iran is ‘n hanetreetjie van Oman af, letterlik aan die oorkant van die See van Oman, maar ‘n heeltemal ander wêreld as waaraan ek die voorafgaande drie maande blootgestel was.

In Oman hoef ek nie ‘n hijab om die kop of ‘n abaya (oorrok) oor my Westerse klere te gedra het nie. In Iran moes ek die hijab oor die kop gooi, maar gelukkig ook nie ‘n abaya dra nie.

Die doek oor die kop was vreemd en dit het aanmekaar afgeval, en dan het my toergids my herinner om die doek weer oor die kop te drapeer.

In Oman was dit snikwarm in die middel van die noordelike halfrond se winter, en het ek verskeie kere in die see en by ‘n plaaslike westerse hotel se swembad gaan swem. Snags was my lugverkoeler heeltyd aan om my kamer leefbaar te maak.

In Shiraz in Iran aangekom, wat skaars ‘n uur en ‘n half se vlug uit Muskat is, lê die sneeu wit op die berge en is dit snerpend koud.

Irannese is Persies en nie Arabies nie. Hulle praat Farsi en nie Arabies nie, die alfabet lyk op die oog af vir my nogal eenders, maar dis verskillend.

Ek het plekke besoek waarvan ek nog net gelees het en nooit kon droom ek sou met my eie oë sien nie. In Persepolis loop ek tussen die ruïnes van antieke paleise waar konings van die ou Mede en Perse soos Darius die Grote en Cirus en Xerxes geleef het.

In Hamedan besoek ek die graf van Ester en haar oom Mordegai uit die Ou Testament en sit ‘n bloedooi roos op Ester se graf met die sneeu wat wit buite lê.

In Shiraz besoek ek die graf waar die Persiese digter Hafez begrawe is. Ek sien Moskees waarvan die mure van dak tot vloer met handgeverfde teëls bedek is en die son deur die gekleurde glasvensters reënboogpatrone op die Persiese matte gooi.

Ek stap deur die paleise van konings van weleer, waarvan die mure met spieëlmosaïek bedek is en soos diamante skitter.

Maar ná so lank van die huis af begin my voete later kriewel en my verlange na die bekende maak my sommer nukkerig. Ek is moeg van Arabiese gat-in-die-grond toilette, spyskaarte in vreemde skrif waarvan ek nie kop en stert uitmaak nie, en gevolglik van die gids se vertaling afhanklik is om iets te kies om te eet. Ek is moeg van somme maak en die wisselkoers van Irannese tomans of Omani real in Amerikaanse dollar om te skakel en dan weer na Namibiese dollar te verwerk om uit te vind of ek iets kan bekostig al dan nie.

Ek verlang daarna om vir iemand in my taal te sê “dit lyk maar of dit broekskeur hier gaan” of “hulle voorsate het nie lyf weggesteek as dit by die bou van moskees en paleise gekom het nie”.

Ek sou selfs nie omgegee het om net normale Engels met iemand te praat nie, want ek moes myself heeltyd redigeer om maklik en eenvoudige woorde te gebruik om verstaanbaar te wees.

Ek wil in my eie huis alleen wees en vir myself kos maak, ek wil ‘n vuurtjie aansteek en braai. Ek wil tee met koue melk bestel sonder om te verduidelik. Ek wil met ‘n mes en vurk in plaas van ‘n lepel en ‘n vurk eet.

Een van die lekkerste goed met die terugkom was om aan die regterkant van my kar in te klim en aan die linkerkant van die pad te ry. In Oman moes ek noodgedwonge leer om aan die “verkeerde” kant van die pad te ry en dit was nogal nie so maklik soos ek gedink het nie.

Nou ja, my neus staan huis toe, Langstrand toe, en ek verlang om soggens langs die see met my hond te stap en in my eie bed te slaap.

Oudergewoonte besef ek die beste ding van ‘n oorsese besoek is die pad huis toe, want dan sien mens met nuwe oë dít wat ons as vanselfsprekend aanvaar en is ‘n mens opnuut dankbaar dat ons in die paradys woon.
* Estelle de Bruyn is 'n oudjoernalis van Republikein. Sy het verlede jaar afgetree.

Soortgelyk

 

NSFAF sluit ooreenkoms met Bank Windhoek

1 uur gelede | Onderwys

Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) en Bank Windhoek het vandag ʼn ooreenkoms aangegaan vir ʼn nuwe stelsel waardeur geld aan kwalifiserende studente gestuur...

Chinees Dinsdag in hof ná werker se skietdood

1 uur gelede | Misdaad

Die man wat gister na bewering deur sy Chinese werknemer in die Andara-nedersetting doodgeskiet is, is as mnr. Andreas Hausiku (32) geïdentifiseer.Hausiku was ‘n inwoner...

Twintig jaar tronkstraf vir verkragter

2 ure gelede | Howe

‘n 34-jarige man van Otjiwarongo is gister 20 jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van ‘n minderjarige. Die dogter was...

Taking charge

14 ure gelede | Mense

Mariselle Stofberg Anthea van Heerden decided to take a leap of faith to start her own company in Windhoek.She is the managing director and...

Moontlike deurbraak

14 ure gelede | Misdaad

Denver KistingDie man wat gisteroggend weens Maandag se bloedbad op Arandis aangekeer is, het glo vir etlike ure geweier om met die polisie saam te...

Só staan sake in die Namibiese huis

14 ure gelede | Regering

Denver KistingPres. Hage Geingob het gistermiddag gesê sy boodskap van “welvaart vir almal” moenie verkeerd verstaan word nie.Volgens hom was die bedoeling nooit om oordaad...

Kabajani blossoms at GIPF

14 ure gelede | Mense

Michelline Nawatises Annette Likeleli Kabajani is a holder of a bachelor’s degree from the University of Namibia (Unam). She has also attained several management and...

Baking a name for herself!

14 ure gelede | Mense

Ester Kamati At the age of 28, Alma Tangi Nakanduungileh is climbing the entrepreneurial ladder and adding sweetness to her clients’ lives. A qualified...

A passion to unlock potential

14 ure gelede | Mense

Ester KamatiJustina Mulokoshi is a chartered accountant (CA) at PwC who has big dreams and is constantly on the lookout for new ways to improve...