Maree Smit se glansvlokkie vlieg hoog

Harley die beste op vasteland

04 September 2018 | Mense
Hy is Namibië se enigste meester- Harley Davidson-tegnikus, hy besit ‘n private vlieglisensie, is tuis in die kajuit van ‘n blitsige tydrenmotor, en het al die moordende Dash-veldfietswedren voltooi.

En nou het hierdie 37-jarige avontuurlustige Namibiër homself as Afrika se beste motorfietsbouer bewys.

Maree Smit het verlede Vrydag gehoor hy is die wenner van die Afrika-afdeling van die Battle of the Kings – ‘n internasionale aanlyn kompetisie wat in Amerika, Asië, Afrika en Europa beslis word.

Terwyl die vreugdevure Vrydag hoog gebrand het by Harley Davidson Windhoek, het die nederige motorfietsmeester aan Republikein verduidelik hoe hy te werk gegaan het om die unieke Harley Davidson ‘48 Sportster met ‘n enjininhoud van 1 200 cc te omskep in die mooiste ding wat Afrika al ooit op twee wiele gesien het.

Smit is ‘n gebore Windhoeker wat in Januarie vanjaar Namibië se eerste meestertegikus vir Harley Davidson geword het toe hy ’n strawwe kursus in Johannesburg met die hoogste punte in die groep geslaag het.

Om te verstaan hoekom die man ‘n swart Harley in goud kon verander, moet ‘n mens eers hoor waar die passie vir enigiets met twee wiele vandaan kom.

“Dit het alles begin toe ek as ‘n nog nat-agter-die-ore knaap al my eerste motorfiets by my pa gekry het. Ek het toe al besef daardie gevoel van ‘ek lewe in die hier en nou’ hoef jy nie in boeke of by lesings te gaan soek nie. Al wat jy moet doen, is om jou een been oor die saal van ‘n motorfiets te swaai.

“Om ‘n motorfiets te ry, is die suiwerste manier om uit te vind hoe dit voel om werklik te lewe. My liggaam en siel word een met daardie diep dreuning van ‘n kragtige motorfietsenjin met die beheermeganismes wat verlengstukke van my gedagtes word. As jy nog nie ‘n motorfiets (of ‘n fiets) gery het nie, sal jy nie verstaan nie.”

Hy sê om ‘n motorfiets ry, is soos die lewe: Om jou balans te behou, moet jy sorg dat jy momentum het.

“Dan maak alles skielik sin,” sê hy.

Maree sê dit was aanvanklik nie die idee om aan die Battle of the Kings deel te neem nie. “Ons Windhoek-personeel het een Vrydagmiddag begin planne beraam om ons eie, unieke Harley te bou. Die plan het skipbreuk gely nadat ons uitgevind het dit sou ‘n baie duur spulletjie wees. Toe hoor ons van die Battle of the Kings, en nadat ek die reëls en regulasies bestudeer het, het ek besef ons sou binne die begroting kon bly wat hoofkantoor bereid was om te bestee.

“Ek het geweet dit sou knetter om teen die gevestigde motorfietsbouers van suidelike Afrika mee te ding met ons beperkte begroting, maar ná deeglike beplanning het ek besluit om met die reuse-uitdaging voort te gaan.”

Hy sê die eerste ding wat hy nodig gehad het, was ‘n vernuftige vennoot in die projek wat al die aanlyn werk en publisiteit kon behartig.

En hy hoef nie ver te gesoek het nie, want Harley Davidson het reeds die perfekte vennoot gehad.

Savannah Collins, die bekende Namibiese musikant en bestuurder van bemarking en verkope by Harley Davidson Windhoek, het haarself die afgelope jaar deeglik bewys en ‘n fakkeldraer van die Amerikaanse motorfietsvervaardiger geword.

Maree se dae het skielik baie lank geword. “Die nagte ook, want ek kon nie my werk in die werkswinkel afskeep nie. Ek het die Sportster gekies omdat ek die potensiaal van baie veranderinge teen billike pryse kon sien. Nadat ek die motorfiets se tenk ‘n baie besonderse wit en silwer glansvlokkie-afwerking gegee het, het ek geweet ek is op die regte pad. Die eerste foto’s van sewe ander bouers in Suid-Afrika het aanlyn begin verskyn en ek het besef ek sou iets spesiaals te voorskyn moes bring. Daardie ietsie spesiaal se naam was geelkoper.

“Ek het voorbeelde daarvan by Harley in SA gesien en dadelik ‘n paar honderd gram geelkoper bestel. Met die aankoms daarvan in Windhoek het ek noukeurig begin om spesifieke onderdele op die draaibank te sny wat uiteindelik op die fiets se tenk en by die luginlaat en ‘n paar ander plekke gesien kan word.

“Dit het reg gelyk en toe het ek my aandag na die fiets se unieke handvatsels en uitlaatpype van Vance & Hines geskuif. Groot besonderhede het ook uitgekom in die maak van die eiesoortige nommerplaathouer, ‘n klein windskepper vooraan die fiets, die agterste modderskerm, die flikkerligte en die unieke Harley Davidson-witwandbuitebande saam met ‘n baie besonderse enkelsitplek.”

Hy sê ná die eerste 25 ure se harde werk kon hy terugstaan met ‘n koue bier en sy seën oor die projek uitspreek.

“Toe was dit nog ure se aandag aan spesifieke besonderhede, maar die plan het bymekaargekom. Savannah se kamera- en bemarkingsvernuf het van ons posts wenners gemaak en ons het dadelik die voortou geneem en dit gemaklik behou tot ons Vrydag loshande as wenners gekroon is.

“Ons is ontsettend trots daarop dat ons al die ander deelnemers met hul reusebegrotings kon uitstof, maar ons weet nie of daar nog ‘n begroting sal wees om internasionaal deel te neem nie.

“Maak nie saak nie, ons is verheug oor ons prestasie,” sê Maree.

Soortgelyk

 

KOLLIG Voorblad

1 dag gelede | Byvoegsels

Swakop hou Makietie bl. 4

ECN gaan Itula se aansoek teenstaan

1 dag gelede | Politiek

Denver Kisting – Vanweë die beweerde negatiewe uitwerking van elektroniese stemtoestelle (EVM’s) in die afgelope presidensiële verkiesing moet die proses tersyde gestel word.Dr. Panduleni Itula,...

Ekonomie bloei lánkal

1 dag gelede | Plaaslik

Jo-Maré Duddy – Ekonomiese groei het reeds in 2015 skerp begin tuimel sonder dat dit deur amptelike syfers weerspieël is, toon nuwe data wat gister...

NOU AAN DIE GANG

1 dag gelede | Byvoegsels

» Die Swakopmund Wetenskaplike Vereniging bied tans ‘n Kersfees-skattejag by die Swakopmund Museum aan. Dit bestaan uit twee afdelings, een vir kinders en een vir...

Geskorste raadslede van Rehoboth herkies

1 dag gelede | Regering

Denver Kisting op Rehoboth – Dieselfde span raadslede wat verlede jaar deur dr. Peya Mushelenga, die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, in die pad...

Weer vir 13 Desember 2019

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Mooi weer en baie tot bloedig warm in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees. Winderige weer sal...

STEMFEITE: NAM & SA 2019

1 dag gelede | Politiek

In Namibië het Swapo persentasiegewys meer steun ingeboet as die ANC in Suid-Afrika.

NamibRe: Versekeraars moet 12,5% sedeer

1 dag gelede | Howe

Elvira Hattingh Plaaslike versekeringsmaatskappye móét voorts vir herverseke­ring by NamibRe opdok - tot tyd en wyl daar in 'n hangende hofsaak oor die wettigheid van...

CoW baklei teen beslaglegging

1 dag gelede | Regering

Denver Kisting – Die Windhoekse munisipaliteit (CoW) baklei tans verbete teen ’n beweerde beslagleggingsbevel wat poog om van hul vaste bates te konfiskeer.Veertien superintendente verbonde...