23 August 2018 | Ministeries

Wildprodukte se fonds verdien miljoene minder

Nuwe raadslede aangekondig

Die Wildprodukte-trustfonds (GPTF) het sedert 2012 sowat N$100 miljoen in bewaring herbelê – hoofsaaklik in projekte vir wildbeskerming en -bestuur, teenstropery, wildnavorsing, die ontwikkeling van waterinfrastruktuur en die bestuur en voorkoming van mens-dier-konflik.

Só het die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, Dinsdag in Windhoek tydens die aankondiging van nuwe raadslede van dié fonds gesê.

Die nuwe raadslede is reeds van 11 Julie af werksaam en is vir 'n termyn van drie jaar aangestel.

Me. Louisa Mupetami, adjunk- permante sekretaris van die omgewing en toerisme, is as voorsitter heraangestel.

Mupetami het gesê die GPTF het in 2017 meer as N$13 milljoen uit die verkope van wildprodukte ontvang, wat N$2 miljoen minder was in vergelyking met 2016.

"N$11 mijoen is uit die verkoop van trofeejagkonsessies gemaak en die oorblywende N$2 miljoen deur heffings op die uitvoer en veiling van lewende diere en die verwydering van probleemdiere," het Mupetami gesê.

Shifeta het gesê die trustfonds het vele uitdagings oor die jare heen ervaar.

"Die groot uitdagings is dié verwant aan stygende mens-dier-konflik wat meer geld vereis om te bestuur. Die verminderde kontant in die staatskoffers weens die wêreldwye ekonomiese insinking en die voortdurende bedreiging van wildstropery is ook van die redes."

Die GPTF is in 1997 gestig met die mandaat om inkomste uit wild en -produkte op staatsgrond voort te bring en in wildbewaring, kommunale bewaringsgebiede en landelike ontwikkelingsprogramme in Namibië te herbelê.

Die hoofbegunstigdes van die fonds is die ministerie van die omgewing en toerisme, kommunale bewaringsgebiede, landelike gemeenskappe en nieregeringsorganisasies.

Die inkomste sluit in die verkoop van trofeejagkonsessies, die verwydering van probleemdiere, 'n heffing per kop op die uitvoer van lewende diere, veilings van lewende wild, asook lenings en skenkings.

Ander raadslede is me. Taina Nankela van die ministerie van finansies, dr. Johannes Shoopala van die ministerie van landbou, water en bosbou, mnr. Asser Ujaha van die Kunenestreek se Gemeenskapsbewaringsbied-vereniging en mnr. Richard Nyambe van die Zambezi Natuurlike Hulpbronnebestuur-vereniging.

"Ek hoop die nuwe raad sal die Wildprodukte-trustfonds groter hoogtes laat bereik. Kom ons bly toegewyd aan wildbewaring en die bestuur van ons natuurlike hulpbronne in ons land, terwyl ons die saamleef van mense en wilde diere bevorder," het Shifeta gesê.