11 September 2019 | Misdaad

Wild vrek van onwettige gif in water

Francoise Steynberg - Karkasse van verskeie wildsoorte is op ’n private plaas in die Omaruru-distrik in die Erongostreek ontdek.

Dié karkasse is volgens die ministerie van die omgewing en toerisme met ’n onwettige, hoogs gevaarlike gifstof vergiftig.

Mnr. Romeo Muyunda, woordvoerder van die ministerie, het gister aan Republikein gesê die karkasse van drie aasvoëls, twee koedoes, een bobbejaan, een sebra en ’n jakkals is op die plaas Okapekaha ontdek.

Die eerste ontdekking is Donderdag gemaak.

Hy sê daar is groot kommer oor die water in ’n krip op die plaas wat met Carbamate vergiftig is.

’n Span van die ministerie het Saterdag ondersoek op die plaas gaan instel en die water getoets.

“Ons het gister bevestiging gekry die water is met Carbamate, wat nie in Namibië verkoop mag word nie, vergiftig,” het Muyunda bevestig.

“Hierdie sterk soort gif word gebruik om diere onmiddellik te laat vrek.”

Nog ’n sterk vermoede en bron van kommer is dat die gif in die onwettige handel in leeubeendere gebruik word.

“Daar is baie mens-dier-konflik in daardie gebied en daar was voorheen voorvalle van vergiftiging op die plaas waar die polisie verdagtes in hegtenis geneem het oor vermoedens van handel in leeubeendere,” het Muyunda gesê.

Hy het beklemtoon mnr. Adrian Laing, die plaas se eienaar, is nie ’n verdagte nie.

Die woordvoerder het gesê die waterpunt is gesluit en het gewaarsku mense in die omgewing moenie die water drink of van die karkasse se vleis eet nie.

Laing kon nie vir kommentaar bereik word nie.