30 August 2018 | Rubrieke

Wie sal kom nag sê?

In volwassenes se lewens speel sekere dinge 'n rol in hul grootmensjare. Ek veronderstel dit is maar hoe elkeen van ons grootgeword het? Hoe die dinge as kind nie net in jou klere kom sit het nie, maar ook permanent in jou DNA gaan nestel het.

En sonder om vir jou te sê, wag dit hurkend langs die pad vir jou in die toekoms om skelmpies en ongevraag saam op jou lewensreis te gaan. Ek is lief daarvoor om met al wat vreemde mens is 'n geselsie aan te knoop, en die interessantste stories kom dikwels na vore.

Vat maar nou vir Vuil Faan daar op die hoek. Dié se naels is altyd swart vannie ghries ennie olie, hare effens slierterig en 'n slap zol hang kronies al rokend aan sy lippe. Op die plek waar eens 'n netjiese grasperk was wat die vorige huurders pynlik netjies onderhou het, staan 'n swart Valiant met rooi sitplekke, 'n groen Dodge-bakkie asook 'n afgeskuurde opgezoepte gevaarte met sulke breë taaiers.

Dié gevaarte staan oopbek. Sonder sy kragtige V8-enjin wat eens op 'n tyd met al wat 'n turbo, supertjaardjer en karberyter gespog het. Ek sou later uitvind Faan het die drêgster by 'n kennis gekoop, maar die enjin met sy eerste sleepren “opgeblaas”.

By nadere ondersoek het Faan later uitgevind dit sal hom 'n longdrop vol ponde kos om die enjin te herbou en toe maar dié verlepte kragbon verkwansel.

Ek is nuut in die buurt en maak kennis so met die tyd met die mense wat wil. Dié wat hoogheilig oor hul mure en van agter die gordyne loer as ek verbystap en nie groet nie, vermy ek soos die pes. Toe ek verbystap, staan 'n man by die gevaarte se leë bek, pynsend ingedagte. Dit lyk of hy in 'n oop graf in afkyk.

Hy sien my en is die eerste ou wat my vriendelik groet. Ek stap nader en is nog sowat vyf treë weg, maar hy is klaar besig om sy regterhand aan sy ouwerhôl af te vee, bied dit onseremonieel aan, en skud byna my vulsels los soos hy bladskud.

“Ek is Faan, Vuil Faan,” sê hy sonder om te blik of te bloos. Amper soos die Britse geheime agent dubbel ou seven van die flieks, dink ek by myselwers.

“Ghertieee!” roep hy oor sy skouer en vra terstond vir koffie. Sonder om te vra, maak hy die kleinhekkie oop en wys ek moet inkom. 'n Knap tydjie later kom Ghertie met 'n skinkbord uit.

Doilies de lot oor die melkbekertjie en suikerpotjie.

“Dis virrie vlieë,” sê sy skamerig toe sy sien ek kyk na die keurige wit gehekelde toemaaksels.

“Ek is Ghertie,” sê sy en glimlag met skitterwit tande van oor tot oor.

“Oom moet maar vir ou Faan ver­skoon, ek het hom so gekry,” sê sy terwyl hy ietwat skaapagtig grinnik.

Op die stoepie verskyn drie orrelpypies. Ek skat hulle so tussen drie en agt jaar oud. Dis twee seuns en 'n meisiekeind. Die oudste is Klein Faan, dan Klein Ghertie en die jongste, Buks, wat nader draf om agter sy ma se wit, geblomde rok te skuil.

Faan stel sy kroos trots voor.

“Ons het maar laat loop mettie kinners,” verduidelik hy. “Ons was sommer vyf opmekaar – drie seuns en twee dogters. Ek is die tweede oudste. Ma-hulle sê daar wassie teevee nie,” en lag dat die trane loop.

Ná ek my moerkoffie klaar gedrink en heerlik gesels het, groet ek, want die uwe is eintlik op pad na die Seven Eleven wat verder straataf op die hoek sit.

Faan en Ghertie groet vriendelik terwyl die drie terroriste mekaar al jillende op die Dodge se bak takel. Dié Sondag sit ek in die kerk. Nie om my vele obskure sondes te bely nie, maar die gemeente moet darem seker ook weet wie dié nuwe intrekker is.

Met die eerste gesang trek 'n mooi tenoorstem my aandag. Die man sing met sy oë toe terwyl hy sy vrou se hand vashou. Die paartjie het drie telgies wat onder omstandighede heel beskaaf en ordelik by hul ouers staan. Dit is Faan.

Hy lyk sommer spiekeries in sy swart pak en wit hemp, en Ghertie kan met haar modieuse rok en handsakkie met bypassende hoed net sowel uit 'n modetydskrif gestap het.

Ná die diens groet ons mekaar vir 'n geselsie. Faan en Ghertie is immers die enigste mense wat ek ken. Sy naels en hare is skoon, trouens, alles van Faan is skoon. Ek stap alleen terug na my leë huis.

Wie sal kom nag sê?

Word vervolg. . .