08 March 2018 | Sport

Warner dalk geskors vir 2de toets

Johann de Jager

Australië se David Warner kan dalk vir ’n toets geskors word vir sy aandeel in die trappies-tirade met teepouse op die vierde dag van die eerste toets teen Suid-Afrika in Durban.

Warner en Suid-Afrika se Quinton de Kock is albei Dinsdagaand deur die Internasionale Krieketraad aangekla na wat op Kingsmead gebeur het. Die voorval is op kringtelevisie vasgevang.

Die twee spanne het tot Woensdag kans om op die klagte te reageer, het die IKR Dinsdagaand laat weet. Die twee spelers is aangekla dat hulle die spel oneer aangedoen met hul onderonsie op die trappe op pad na die spanne se kleedkamers.

’n Ernstiger vlak twee-klag staar Warner in die gesig. Dit beteken dat hy ’n skorsing opgelê kan word. De Kock kan beboet word vir wat hy glo kwytgeraak het in die swetsstryd.

Die aangeleentheid is Dinsdgaand by die hotel bespreek waar die spanne in Port Elizabeth tuisgaan voor die tweede toets môre daar begin. - Netwerk24