11 September 2018 | Rubrieke

Wanneer gaan die kindertjies na óns toe kom?

Jo-Maré Duddy - Die hart van niemand kan ooit die dood van ‘n kind – enige kind – begryp nie. Nie ‘n “gewone” siekte- of ongelukdood nie, maar nooit die dood deur ‘n moord soos dié op klein Avihe Ujaha nie.

Sin sal daar nimmer in dié negejarige se grusame einde wees nie. Maar ek hoop – ek bíd – dat haar kortgeknipte lewetjie Namibiërs opnuut laat besin oor die lot van ons kinders. Dat haar dood die simbool word van hoe ons as Namibiese regering en gemeenskap ons kinders – en dus ons land se toekoms – faal.

Hoekom presies Avihe alleen daai noodlottige aand prooi geword het, weet ons nog nie. En dit maak ook nie saak nie. Want té veel kinders – hetsy op Skuldbult of in die sinkhuisdorpies aan die buitewyke van Windhoek en elders in die land – word aan hul eie genade oorgelaat.

Kom ons as grootmense wees onsself genadig: Dis dikwels om den brode. Ons het lankal nie meer ‘n keuse nie.

Nie die swart vrou in ‘n krothuisie op die onwettige stukkie grond wat sy afgekamp het en elke dag in vrees leef die munisipaliteit kom slaan plat nie. Ook nie wit of ekonomies bemagtide swart vrou wat soggens in haar luukse motor die kroos by die skool gaan aflaai nie. Beslis nie die middelklasvrou – (uiteindelik) kleur- en gesigloos in die nuwe Namibië – wat daagliks noodgedwonge dieselfde ritueel moet volg nie.

Of dit nou soggens vroeg, smiddae laat of skemeraand is . . . elkeen van ons se kinders is iewers alleen. Drentel waarskynlik verveeld en verlate in ‘n straat. Met g’n enkeling wat stop en vra: “Hoekom is jy nie in die skool nie?” “Wat maak jy dié tyd van die aand op straat?”

“Weet jou ouers waar jy is?”

Want ons is té moeg. Te blasé. Té vasgevang in die mallemeule van ons eie oorlewing. In die sweet van ons aangesig doen ons immers uit suiwer liefde die beste wat ons kan om vir ons kinders ‘n dak oor hul kop, ‘n bord kos op die tafel en ‘n trui teen die bitter koue te kan verseker.

Die swart sinkhuisvrou kom eers donker by die huis aan. Wanneer sy tot die beste van haar vermoë haar korporatiewe suster se kinders van die strate af kon hou. Waar haar eie hulle begewe, weet sy nie. Want sy’t nie ‘n keuse nie. Sy sloof haar waarskynlik teen minder as die minimumloon af. Want wetgewing is een ding, toepassing iets heeltemal anders.

Want in Namibië is ordentlike werk goud. Is ‘n verniet – of ‘n bekostigbare kleuter- of naskoolsentrum vir dié met ‘n salaristjek – die goudpot aan die einde van ‘n reënboog. Is ‘n basiese en bekostigbare huis wensdenkery. Want dit is ‘n politieke woer-woer waar niemand regtig in ‘n oplossing belangstel nie. Solank Mammon en sy boeties vir tenderbandjies net tevrede is.

In korporatiewe geboue is vroue (én mans) te skaam om saans te sê hul kinders wag tuis. Té bang om te erken hul gesinne móét belangriker as hul werk wees. Wat ‘n skande! Tipies die swakker geslag. En dit geld in merietebeoordelings, bonusse en bevorderings. En dít terwyl die huisverband en huurverpligtinge tik-tak-tok.

Afrika spog met ‘n pragtige uitdrukking: “It takes a village to raise a child.”

Ons verraai dit.

Ons as gemeenskap het papbroeke geword, vasgevang in ons eng dag-tot-dag-bestaan. Waar bure en die gesin straataf nie meer saakmaak nie. Waar die regering nie tot verantwoording geroep word nie. Waar die stem van burgerlike protes soos altyd byna doodstil is. Skoenmaker, bepaal jou by jou huishoudelike lees. Laat Gods water oor Gods akker stroom.

Die Groot Boek – soos baie ander religieuse geskrifte – skilder ‘n Verlosser met ‘n Groot Hart vir kinders. Want Hy of Sy of Dit weet: Kinders is die bloeisel van die mensdom. En hulle moet versorg en mee gespeel word. Bowenal moet hulle onvoorwaardelik geliefd wees. Hulle verdien die grootste kommoditeit van die hedendaagse lewe om te blom: tyd.

“Laat die kindertjies na My toe kom,” se die Boek waarna ek verwys.

Vir myself, my mede-Namibiers en ons land se regering vra ek: Wanneer kan, gaan en mag die kindertjies weer na ons toe kom?

Wanneer? Wánneer?